Is Mabuza ʼn kat of ʼn vlermuis?

Adjunkpres. David Mabuza (Februarie 2019) (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency/ANA)

Langenhoven het parlementslede al vergelyk met esels, hoenders, bobbejane en vlermuise.

Watter rol het adjunkpresident David Mabuza gespeel in die aanwys van die voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees?

Die ANC se topses moes die name goedkeur. As na name soos Supra Mahumapelo, Faith Muthambi en Mosebenzi Zwane gekyk word, is hulle almal deel van die Zuma-groep wat reeds in die Zondo-kommissie na staatskaping genoem is. Dit dui daarop dat die Ace Magashule-faksie hierdie ronde gewen het. Dit kon moeilik sonder die hulp van adjunkpresident Mabuza as een van die topses gedoen word.

Is Mabuza nou ’n kat met nege lewens of ’n vlermuis, sou ’n mens kon vra. In ’n warm parlementêre debat voor 1994 het een lid ’n ander as ’n vlermuis beskryf.

“Hierdie agbare lid het al so baie van standpunt verander; niemand vertrou hom meer nie – daarom is hy soos ’n vlermuis in die dierewêreld. Die voëls vertrou nie die vlermuise nie, want hulle lyk soos muise – en die muise vertrou nie die vlermuise nie want hulle kan vlieg soos die voëls,” het die lid verduidelik.

Mabuza het by die ANC-leierskapkonferensie in 2017 aangekom as ’n groot ondersteuner van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, maar skielik sy steun na Ramaphosa verskuif. Die stemme uit Mabuza se provinsie het verseker dat Ramaphosa net-net met 179 stemme gewen het. In ruil wou Mabuza adjunkpresident word.

Die Zuma-faksie vertrou Mabuza nie omdat hy hulle op ’n kritieke oomblik in die steek gelaat het. Die Ramaphosa-faksie vertrou hom nie, want hulle twyfel oor sy skielike ommeswaai.

In ’n voorbladberig in Augustus 2018 het The New York Times ’n striemende aanval op Mabuza gedoen as een van die beste voorbeelde van Suid-Afrika se korrupsieprobleme.

Van die klagtes teen hom gaan oor die toekenning van tenders en die feit dat ongemagtigde uitgawes in Mpumalanga tydens sy termyn as premier volgens die ouditeur-generaal meer as R35 miljard beloop het. So veel as 90% van alle munisipaliteite in die provinsie kon ook nooit ’n skoon oudit kry nie.

’n Sakeman, Fred Daniel, het kennis gegee dat hy nog voor die Zondo-kommissie oor Mabuza wil getuig. Hy het ’n eis van R1,2 miljard teen Mabuza ingestel vir skade wat hy glo weens korrupte grondeise gely het.

“Mabuza sal nooit president word nie,” glo baie Ramaphosa-ondersteuners.

Hoe het Zuma dan president geword?

In 1997 was Winnie Mandela, Phosa, Ramaphosa en Tokyo Sexwale adjunkpresidentkandidate. Mbeki het nie kans gesien om tussen hulle te kies nie. Sy oplossing? Kom ons maak Zuma adjunkpresident. Hy kan nooit president word nie, maar kan solank die stoel warm sit. Aan die einde van Mbeki se termyn kan ANC-kongreslede dan Mbeki se opvolger tussen die vier regte aanspraakmakers kies, was die plan.

Gewone ANC-lede het nie van dié plan geweet nie. Hulle het aanvaar die ANC-tradisie is dat die adjunkpresident altyd die president word. Toe Mbeki Zuma afdank en so probeer keer dat hy president word, het hy Zuma net ’n martelaar gemaak en ons ken die res van die storie met Zuma as president vir nege jaar.

Mabuza, die kat met nege lewens het op ’n slim wyse die ANC se integriteitskommissie gebruik om sy naam skoon te maak.

Nou is hy adjunkpresident wat president kan word.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat die Zuma-geskiedenis herhaal word nie. Wat is Mabuza? ’n Kat, ’n vlermuis of dalk ’n wolf in skaapsklere?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

waarheid ·

Hulle is almal deel van ‘n S A Chernobyl.
Deel van ‘n kettingreaksie wat S A gaan gaan laat ontplof en meltdown weens onkundigheid en selfverryking plundering en korrupsie.
Niemand maar niemand is te vertrou nie.

Gert ·

Baie opposisielede het al in die kabinet gedien, en dis myns insiens ‘n goeie ding om opponerende sienings in die kabinet te kry.
Wens alle politici was van die kaliber van dr Mulder, maar dis natuurlik wensdenkery.

SjN ·

Ek dink aan n ander woord wat Langenhoven ook gebruik het wat meer gepas sal wees. Met streke is hul superslim.

Petrus ·

Voor Krismis 2019 is Mabuza president en Ace adjunk-president.

Dries du Toit ·

Petrus ek hoop regtig nie jy is profeties nie. As dit waar is moet ons uit hierdie land kom. Dringend

Dries du Toit ·

Zimbabweers het gevlug uit daai land net met hulle klere aan hul lywe. Ons moet wakker word. Dit is ook ons voorland. Dit gaan alreeds bitter sleg met die Afrikaner in SA. Vooraanstaande Afrikaners en besighede het al verval tot bankrotskap en ongekende armoede.

fourie ·

Wys net hoe korrup is die anc ek lees die ander dag iemand sê hulle was nie eers n goeie terroriste organisasie nie.

Dirk ·

Fourie hulle was nie n goeie terroriste organisasie nie omrede die apartheidstaat n onverbiddellike teenterroriste staat was. Die skoen is egter nou aan die ander voet. Hulle is nou die staat en die gangsters!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.