Israel al 75 jaar oud

David Ben Gurion, die eerste eerste minister van Israel, lees die Israeliese onafhanklikheidsverklaring voor op 14 Mei 1948 (Foto: Zoltan Kluger/GPO via Getty Images)

75 jaar gelede, op 14 Mei 1948, het Israel sy onafhanklikheid verklaar. Dit val wel in ʼn tydvak, kort na die Tweede Wêreldoorlog, waar die onafhanklikwording van voormalige kolonies en mandaatgebiede, veral in Asië, aan die orde van die dag was (Jordanië het in 1946, Indië en Pakistan in 1947 en Birma, Korea en Ceylon in 1948 onafhanklik geword).

Nogtans was dit ʼn unieke gebeurtenis omdat dit tot op hede die enigste staat is wat doelbewus uit die niet geskep is deur immigrante, wat as enigste saambindende faktor hulle Joodse geloof gehad het. Die ontstaan van Israel is niks minder as ʼn wonderwerk nie, met ʼn ketting van onwaarskynlike gebeure wat tot die uiteindelike staatstigting in 1948 gelei het. Nog ʼn wonder is dat die staat oorleef het, want hy was en is omring deur vyandige bure wat alles sou doen om sy geboorte te verhoed.

Die idee om weer, na eeue van ballingskap, ʼn Joodse tuiste in die land van herkoms te skep, het al in die laat 19de eeu by die intellektueel Theodor Herzl ontstaan, wat kongresse gereël en meningsvormers beïnvloed het. Destyds was die streek wat later Israel sou word, deel van die Osmaanse Ryk en was yl bevolk en agterlik. Daar was baie min Jode in die gebied woonagtig. Met die neerlaag van die Osmaanse Ryk in die Eerste Wêreldoorlog en die Britte wat die mandaat oor die gebied Palestina en Transjordanië gekry het, het daar skielik gunstiger omstandighede ontstaan. Herzl kon die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, oortuig om Jode toe te laat om in Palestina te vestig, wat met die beroemde Balfour-verklaring amptelik geword het.

Die aanvanklike drupsgewyse immigrasie van Jode na Palestina het later, veral tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust, ʼn stroom geword. Die Britte het dit probeer keer en die Arabiere van die streek het bedreig gevoel en in opstand gekom. Die Verenigde Nasies (VN) het toe die verdeling van die mandaatgebied in ʼn Joodse en ʼn Arabiese deel voorgestel. Die Jode het dit aanvaar en hulle staat Israel op dié deel, sowat die helfte van die huidige Israel, uitgeroep, al was Jerusalem nie deel daarvan nie. Die Arabiere het dit verwerp en direk na die onafhanklikheidsverklaring is Israel van alle kante deur agt Arabiese state militêr aangeval en probeer vernietig. Soos ʼn Dawid teen Goliat kon Israel egter sy bestaan verdedig en selfs grondgebied verower.

Israel se vyandige buurlande het hom dikwels aangeval, maar die land kon hom elke keer verdedig en selfs sy grondgebied vergroot, insluitend Jerusalem wat die hoofstad geword het. Vrede tussen Israel en sy buurlande is altyd gesien as een van die belangrikste, maar ook moeilikste take vir diplomate en politici. Die VSA het daarby as internasionale beskermer van Israel opgetree. Ten spyte van die diepgewortelde konfliksituasie kon deurbrake bereik word, soos vrede met Egipte in 1979, met Jordanië in 1994 en meer onlangs die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met Arabiese state in die streek soos die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrain. Ook Saoedi-Arabië werk agter die skerms op talle vlakke met Israel saam.

Vir dié lande was pragmatiese oorwegings deurslaggewend, naamlik Israel se groot ekonomiese en militêre krag. Iran bly egter ʼn geswore vyand van Israel en befonds terroristiese groepe soos Hisbolla en Hamas wat Israel van Libanon en van die Gaza-strook, onderskeidelik, aanval. Met die Arabiere in die outonome gebiede het die verhoudinge nie verbeter nie, trouens, dit is ʼn oneindige ketting van aanval, vergelding en weerwraak.

As ʼn mens na die kaart van Israel kyk en dit vergelyk met sy omgewing, sou die verwagting destyds wees dat dit ook maar net nog ʼn agterlike derde wêreldstaat wat leef deur die uitvoer van enkele landbouprodukte of grondstowwe, sou word. Inderdaad het die eerste pioniers in die kibboetse baie beskeie geleef, maar was toegewyd en effektief. Alhoewel die Jode oorspronklik en nou weer ʼn Midde-Oosterse volk is, was die eerste Joodse setlaars veral Europeërs en het merendeels tot die elite van hulle onderskeie lande behoort: hulle was mense met kennis en vaardighede en ʼn diepgewortelde gekultiveerdheid.

Al het die eerste pioniers hard gewerk met hulle hande, is opvoeding en die oordrag van kultuur hoog aangeslaan. Israel se ekonomiese ontwikkeling was merkwaardig en het gevorder van die verbouing en uitvoer van landbouprodukte na een van die voorste verskaffers van inligtingstegnologie. Die land is daarby egter sterk verdeel tussen die Westerse, welvarende en sekulêre deel, en die godsdienstige en tradisionele deel. Elke verkiesing weerspieël daardie verdeling. Die land het nog steeds groot getalle immigrante en ook ʼn enorme taak om so veel uiteenlopende mense, al is hulle almal Jode, te integreer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Faraway ·

Soos voëls wat fladder, so sal die HERE van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry. Jesaja 31 en AMEN daarop!

Grassie ·

Die hele verloop van Israel se bestaan word in Esegiel uiteengesit, nl dat Israel verwoes sou word en die mense oor die hele wêreld sou versprei vir ‘n baie lang tyd. Wanneer dit die Skepper sou behaag sou hulle terugkeer, Israel terugvat en baie voorspoedig word. Dit het gebeur. Die res van die voorspelling is dat Persië, vandag bekend as Iran, gesteun deur lande wat vandag Moslemlande is asook Rusland, Israel gaan aanval en ‘n verskriklike oorlog – ‘n wêreldoorlog – sal volg. Die eerste helfte van die profesie het waar geword en daar is aanduidings dat die tweede helfte in wording is.

Marthinus W ·

Die Israel van 2023 is nie die Israel van die Bybel nie. Prof Sakkie Spangenberg het in n studie op LitNet bewys dat hulle geen reg het op al die grond wat hulle se hulle s’n is nie. Israel is vandag eintlik n mislukte staat, wat oorleef op Amerikaanse geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.