Italianers verkies konserwatiewe regering

Italië sal ná Sondag se verkiesing ʼn nuwe konserwatiewe regering hê. Die Italiaanse kiesers het ʼn duidelike mandaat aan ʼn koalisie van drie konserwatiewe partye gegee om ʼn nuwe regering te vorm.

Giorgia Meloni (Foto: RICCARDO DE LUCA/ AFP)

Dit is veral die prestasie van die party van Giorgia Meloni, Broederskap van Italië, wat van groot belang is. Dié party se steun het van 4% in die vorige verkiesing in 2018 tot meer as 26% in Sondag se verkiesing gegroei. Daarmee het Broederskap van Italië die grootste enkele party geword. Saam met nog twee konserwatiewe partye, Lega en Forza Italia, sal daar nou ʼn regse meerderheid in die Italiaanse parlement wees en behoort Meloni binnekort as nuwe Italiaanse premier aangewys te word.

Die vorige regering van nasionale eenheid, onder leiding van die tegnokraat en voormalige president van die Europese Sentrale Bank, Mario Draghi, het in Julie tot ʼn val gekom toe drie partye, Lega, Forza Italia en die links-populistiese Vyfsterbeweging hulle steun aan Draghi se regering onttrek het.

Draghi het vir byna twee jaar tydens die pandemie ʼn kompromisregering gelei, terwyl Meloni se Broederskap van Italië een van slegs enkele kleiner partye was wat in die opposisiebanke bly sit het. Dit het Meloni se profiel wesenlik verhoog en haar kritiek teen die Europese Unie, die Europese Sentrale Bank, die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Draghi-regering het haar steun onder veral regse Italianers wesenlik laat styg.

Meloni het haarself in 2018 by ʼn politieke byeenkoms soos volg voorgestel: “Ek is ʼn ma! Ek is Italiaans! Ek is ʼn Christen! Jy sal dit nie van my kan wegvat nie!” Meloni en haar party se steun het sedertdien drasties toegeneem en sy het veral internasionaal bekend geword vir haar uitgesproke konserwatiewe politieke standpunte en haar afkeer van ʼn globalistiese elite wat nie die waardes van gewone Italianers deel nie, en wat nie in belang van Italië optree nie. Sy het veral sedert 2018 die voorste stem teen kritiese rasseteorie en die verval van tradisionele waardes in Italiaanse skole en in die algemeen in die samelewing geword.

Meloni het veral steun by die twee ander regse partye, Lega en Forza Italia, weggeneem maar sy het ook as buitestander daarin geslaag om ondersteuners van die Vyfsterbeweging, wat vanuit ander beweegredes teen die politieke elite gekant is, te oortuig om vir haar te stem.

Meloni se prestasie in Sondag se verkiesing verteenwoordig ʼn duidelike afkeer van die globalistiese elite. Slegs drie dae voor die verkiesing het die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, tydens ʼn besoek aan die VSA, in ʼn bedekte dreigement aan Italianers, gesê dat die Europese Unie die nodige instrumente tot sy beskikking het sou dinge in Italië in die sogenaamde verkeerde rigting beweeg. Von der Leyen het selfs sover gegaan om ʼn parallel met Pole en Hongarye, twee lande wat se konserwatiewe regerings deur die burokrate in Brussel verpes word, te trek. Dit is juis hierdie soort meerderwaardigheid van Von der Leyen waarteen Meloni haar tydens die verkiesingsveldtog herhaaldelik uitgespreek het. Italianers het hulle egter nie aan geluide uit Brussel gesteur nie en het besluit om Meloni en haar twee konserwatiewe koalisievennote ʼn kans te gee om Italië te regeer.

Uitdagings vir enige regering in Italië

Om Italië te regeer was die afgelope paar dekades nog altyd een van die moeiliker uitdagings in Europa. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Italië reeds 69 koalisieregerings en 59 eerste ministers gehad. Meloni sal die sestigste en eerste vroulike premier van Italië word, sou haar party, Lega en Forza Italia voortgaan om soos verwag in die Italiaanse parlement ʼn regering te vorm.

Meloni is duidelik van voorneme om ʼn meer konserwatiewe beleid, in besonder oor identiteit en waardes, te implementeer. Dit sal waarskynlik ʼn sterk klem op die tradisionele gesin, die regte van ouers in hulle kinders se onderrig, beperkings op aborsieregte en streng optrede teen onwettige immigrasie insluit. Meloni en haar koalisievennote is dit eens dat onwettige immigrasie stopgesit moet word.

Tydens die verkiesingsveldtog het Meloni voorgestel dat die Italiaanse vloot ʼn blokkade in die see naby Libië instel om te verhoed dat skepe met onwettige immigrante Italiaanse eilande soos Lampedusa probeer bereik. Terwyl Libië se regering glad nie na wense funksioneer nie en die Europese Unie geen sinvolle poging aanwend om onwettige immigrasie te beveg nie, maak Meloni en haar koalisievennote se voorstelle sin.

Die grootste uitdagings vir Meloni se regering sal egter op die ekonomiese terrein wees. Italië se ekonomiese probleme raak steeds groter. Terwyl Italië die derde grootste ekonomie in die EU en die sewende grootste globale ekonomie het, het dié land ook staatskuld van meer as 150% van bruto binnelandse produk. Terwyl inflasie bo 8% is en rentekoerse styg, is ʼn groot skuldkrisis in Italië ʼn kommerwekkende scenario wat deur enige nuwe regering bestry moet word.

Meloni en haar koalisievennote wil Italië se ekonomiese probleme probeer oplos deur ʼn nuwe groeistrategie. Italië se ekonomie gaan na die inkrimping tydens die pandemie vanjaar met net 3% groei en volgende jaar word groei van minder as 1% verwag. Meloni wil belastingkoerse verlaag en groter ondersteuning aan ondernemings gee om huidige hoë energiekoste te weerstaan en produksie te verhoog. Dit kan ʼn riskante, maar ook nodige, strategie wees om Italië uit sy voortdurende skuldspiraal te probeer kry.

Fasciste, verregses en ekstremiste

Nog voor Sondag se verkiesing is Meloni, talle lede van haar party en ook die leier van Lega, Matteo Salvini, as fasciste, verregses en ekstremiste deur burokrate in Brussel en liberale media-instellings soos die New York Times, Washington Post, BBC en selfs lede van die huidige Duitse en Franse regerings afgemaak.

Geen deel van Meloni, Salvini of Silvio Berlusconi, leier van Forza Italia, se verkiesingsbeloftes of die beleid van enige van dié drie partye kan as fascisties of verregs beskryf word nie. Dit was duidelik, soos voor die verkiesing in Februarie in Hongarye toe dié land se eerste minister Viktor Orban ook deur liberale magte as ʼn ekstremis uitgemaak is, ʼn poging deur die EU en ander liberale elitiste in Wes-Europa en die VSA om die verkiesingsuitslag te probeer beïnvloed.

Verskeie regse politieke partye in Europa het oor die afgelope paar jaar met groot moeite hulle partye van enige ekstremisme gesuiwer en hierdie partye vervul toenemend die rol wat sentrumregse konserwatiewe partye in hulle onderskeie lande so onlangs soos twee of drie dekades gelede nog gespeel het, naamlik die behoud van die goeie, insluitende nasionale belang, identiteit, tradisies en Europa se eeue-oue Christelike karakter.

Italianers volg op ander Europese lande

Die mandaat wat konserwatiewe partye in Italië Sondag gekry het, volg slegs twee weke ná die algemene verkiesing in Swede waar die regse Sweedse Demokrate die groot wenner was. Dié anti-immigrasieparty, wat ook sterk ten gunste van ʼn herontdekking van Sweedse identiteit is, het byna 21% van die stemme gewen om die tweede grootste party in Swede te word.

Die opkoms van konserwatiewe politieke partye in Italië en Swede volg ná die verkiesingsoorwinning in Februarie van die konserwatiewe Fidesz-party van Viktor Orban in Hongarye. In April vanjaar kon die konserwatiewe Marine Le Pen in Frankryk 42% van die stemme in die tweede ronde van die Franse presidentsverkiesing behaal.

In Spanje en Portugal het konserwatiewe politieke partye wat noue bande met Meloni se Broederskap van Italië het, ook die afgelope ruk sukses in streeksverkiesings behaal. In Brittanje het dit die afgelope drie weke duidelik geword dat die nuwe premier Liz Truss onbeskaamd van plan is om volgens die konserwatiewe beginsels van die eertydse Britse premier, Margaret Thatcher, te regeer.

Konserwatiewe regerings in Italië, Swede, Hongarye, Pole, Brittanje en in nog Europese lande sal oor die volgende maande deeglik getoets word. Terwyl die ideologiese aanslag op Christelike konserwatiewe waardes en die uitdagings wat ʼn sentralistiese politieke elite in Brussel voortdurend bied gaan voortduur, is dit veral die huidige ekonomiese probleme in Europa wat hierdie konserwatiewe regerings in Europa gaan toets. Dit is daarom belangrik dat Meloni se nuwe regering ʼn billike kans op sukses gegun moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die CIA het seker klaar ‘n plan om haar regering tot ‘n val te bring.

Marthinus W ·

Wat het Von der Leyen gese? As die Italianers n regse party kies, sal Brussel die “tools” gebruik om die volk daarvoor te straf.

Pieter9 ·

Kom ons hoop sy maak dit; hoog tyd dat daar ‘n teenwig in hierdie woke wêreld kom.

Pieter ·

Ja dit is so Republikein in die Wes Kaap. Net so in Suid Afrika se geval met die ANC se magsoorname, waar die land geplunder word, glad nie meer ‘n wêreldmag en kompetisie is nie, kriminele as politieke leiers, riool wat in die strate loop en ons oorheers word deur persone met ‘n lae IK in die naam van demokrasie. Demokrasie is per definisie anders as wat aan ons voorgehou word. Made in America.

KatjieDeKat ·

Alle voorspoed Mev. Meloni, baie geluk! Wonderlik om n wyse leier te sien, wat haar nasie eerste stel!

henndrik ·

Ek moet eerlik wees, ek het die beweging twee jaar terug al verwag. Die gewone mense raak moeg vir die liberale bemarking wat op hulle af gedwing word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.