Italië se sentrum-linkse regering kom tot ’n val

Giuseppe Conte. (Foto: John Thys, Pool Photo via AP)

Die rakleeftyd van Italiaanse regerings is kort. Langer as ’n jaar is reeds eerder die uitsondering as die reël.

Die huidige regering, bestaande uit die linkse Demokratiese Party (DP), die links-populistiese Vyf Sterre Beweging en die klein party Italia Viva (IV) het ná minder as ’n jaar tot ’n val gekom omdat die leier van die klein party Viva Italia, Matteo Renzi, die koalisie verlaat en sy ministers onttrek het, waarmee die eerste minister, Giuseppe Conte, geen meerderheid meer het nie.

Conte het inderhaas probeer red wat te redde was en het gereeld met die staatspresident, Sergio Mattarella, vergader. Conte het egter gister ook sy bedanking aangekondig.

Die staatspresident vervul hoofsaaklik ’n seremoniële rol, maar speel ’n beslissende rol as daar regeringskrisisse is, iets wat dikwels voorkom. Mattarella sal probeer om ’n nuwe verkiesing te vermy, want dit gaan waarskynlik die regse blok aan bewind bring. Reeds in 2019 kon Mattarella Vyf Sterre en DP oortuig om ’n koalisie te vorm om herverkiesings te vermy, al pas die twee nie werklik bymekaar nie. Die DP is die party van die linkse gevestigde orde en natuurlik die gunsteling van die globaliste en die leiers van die Europese Unie om Italië te lei, terwyl Vyf Sterre oorspronklik ’n anti-gevestigde orde protesbeweging was en sukkel om deel van die politieke stelsel te wees wat hulle eintlik wil beveg.

Conte het onlangs die wantrouemosie in die parlement en die senaat net-net oorleef omdat Renzi se blok buite stemming gebly het en enkele parlementslede uit die opposisie om taktiese redes vir Conte gestem het. Meeste parlementslede wat Conte gesteun het, vrees nuwe verkiesings. Nie net voorspel meningspeilings ’n oorwinning vir die regse opposisie-alliansie nie en sal veral Vyf Sterre sterk verloor, maar boonop sal die parlement in die volgende termyn heelwat kleiner wees.

Renzi was in die verlede een van die groot uitskieters van die Italiaanse politiek, ’n baie gewilde en suksesvolle burgemeester van Florence wat die vuisvoos linkse kragte kon saamsnoer. Hy het in 2014 met groot fanfare eerste minister geword en groot hervormingsplanne gehad, maar ná twee jaar, nadat hy ’n referendum oor grondwetlike hervormings verloor het, het hy as verloorder die arena verlaat en ook van die DP weggebreek. Wat hom besiel het om juis nou te midde van die koronapandemie die regering tot ’n val te bring, weet niemand werklik nie. Die konflik met Conte het gegaan oor die toedeling van die koronahulpfonds van die Europese Unie en die vraag hoeveel sê die EU daaroor het. ’n Gekrenkte ego speel by Renzi dalk ’n groter rol as politieke taktiek.

Die huidige regering het reeds as noodmaatreël tot stand gekom nadat die vorige koalisie bestaande uit die Vyf Sterre en die regsgesinde Lega in 2019 deur Lega se leier, Matteo Salvini, beëindig is met die hoop op ’n nuwe verkiesing. Soos wat Lega en Vyf Sterre nie werklik bymekaar gepas het nie, pas ook die huidige koalisievennote nie bymekaar nie. Italië beskik oor twee groot alliansies, regs en links, maar Vyf Sterre as populiste met ’n basis-demokratiese aanslag staan buite die gewone links-regs skema en het dus eers met die een en dan met die ander kant regeer.

Met die laaste verkiesing in 2018 was Vyf Sterre met hul destydse leier Luigi di Maio die grootste enkele party en het sterk gesteun op die anti-politiese houding van talle kiesers. Conte is nie eens lid van Vyf Sterre nie en was vantevore ook geen politikus nie, maar ’n dosent en iemand met integriteit en was daarom vir Vyf Sterre die geskikte persoon as eerste minister. Hy is meer gewild as die meeste ander politieke leiers, maar het geen partymasjien agter hom nie.

Indien ’n verkiesing uitgeroep word, is die kanse goed dat die regse alliansie sal wen, maar dit lyk tans nie of daar gou verkiesings sal wees nie. Juis weens die koronapandemie en sy gevolge is dit moontlik dat Mattarella weer, soos al verskeie kere in die verlede, ’n tegnokrate-regering vir ’n oorgangstyd sal aanwys.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Hulle moet leer by hulle Spaanse bure. Hulle is op spoor om die vinnigste herstelende ekonomie, volgens ‘n verslag vanaf die IMF, in die EU te wees. Jy kan nie ‘n draadsitter middelaar wees in vandag se tye nie. Die linkse regerings soos Spanje, Nieu-Seeland, Finland, België ens. hanteer die krisis myle beter as meer regse regerings soos die VSA en VK.

Schalk

Dis darem so ironies dat koalisies nooit uitwerk nie. Ons “lieflike land” is ‘n klinkbare bewys dat so verhouding sy eie val bewerkstellig.

Dirk Mostert

Mag dit die begin wees van die regse oorname in Europa wat deur Siener voorspel is!