Jemen: Oudpresident Saleh vermoor

Ali-Abdullah-Saleh

Die voormalige president van Jemen, Ali Abdullah Saleh. Foto: Archive.government.ru

Die voormalige president (party noem hom ʼn diktator) van Jemen, Ali Abdullah Saleh, wat vir 33 jaar tot en met die Arabiese opstande in 2011 geregeer het, is op 4 Desember deur rebelle doodgeskiet.

Saleh se dood kan amper opgesom word met die bekende Engelse gesegde: “Who lives by the sword, dies by the sword.” ʼn Ander gesegde, “Die jakkals verander van hare, maar nie van streke nie” is ewe van toepassing op Saleh. Die Jemenitiese politiek, waarbinne hy soos ʼn meester beweeg het, het selfs die uiters slinkse en bedrewe Saleh ingehaal en ʼn bittere einde aan hom besorg.

Saleh het Jemen vir meer as drie dekades met ʼn ysterhand geregeer, hoewel hy minder brutaal en minder eksentriek en daarom ook internasionaal meer aanvaarbaar was as byvoorbeeld Saddam Hoesein van Irak of Moeammar Ghaddafi van Libië. Saleh was bekend daarvoor dat hy almal teen almal kon afspeel, die verskillende stamme en denominasies in Jemen sowel as internasionale rolspelers, en dat hy gedurig sy seile na die wind gespan het. Hy het geen oortuigings gehad nie, behalwe om aan bewind te bly en om sy familie en vertrouelinge in magsposisies te hou.

Jemen is ʼn uiters onstabiele land in die suidweste van die Arabiese skiereiland, waar verskeie stamme en Islam-denominasies gereeld om mag baklei en burgeroorloë van tyd tot tyd voorkom.

Saleh was ʼn jong offisier wat deel was van die Republikeinse (deur Egipte gesteunde) opstand teen die emir van Noord-Jemen in die burgeroorlog van die laat 1970’s. Nadat die Republikeine gewen het, het Saleh in 1978 as deel van ʼn junta aan bewind gekom, maar het vinnig as die sterkman na vore getree en verskeie verkiesings gewen en sy mag gekonsolideer. Min waarnemers het verwag dat hy so lank in beheer sou bly.

Jemen was destyds nog verdeel in Noord-Jemen en Suid-Jemen, met eersgenoemde tradisioneel Arabies en Islamities en eerder pro-Westers in die konteks van die Koue Oorlog, en laasgenoemde kommunisties, sekulêr en pro-Sowjetunie. Met die einde van die Koue Oorlog in 1990 kon Saleh dit regkry om die twee dele vreedsaam en deur onderhandeling te verenig. Die president van Suid-Jemen het sy adjunk geword, maar die “huwelik” het nie lank gehou nie en Suid-Jemen se leiers en sy mense het afgeskeep gevoel en wou weer hulle eie staat terughê. Saleh en die weermag het dit met nog ʼn burgeroorlog voorkom en die Noorde se mag gevestig. Hy was nou die onomstrede heerser, maar die ongelukkigheid in die Suide het bly voortbestaan.

So geslepe soos wat Saleh binnelands opgetree het, so het hy ook internasionaal opgetree. Tydens die Irak-oorlog oor Koeweit was Saleh ʼn bondgenoot van Saddam Hoesein, maar ná Saddam se val het hy weer toenadering tot die VSA gesoek en was hy in die volgende Irak-oorlog ʼn bondgenoot van die VSA.

Ná die 11 September-aanvalle in New York het Saleh homself by die VSA aanbeveel as gewillige helper om terrorisme te beveg, natuurlik teen betaling. Inderdaad was en is Jemen een van die lande van waar talle terroriste afkomstig is en waar ontvoering van Westerlinge en aanvalle op Westerse instellings gereeld voorkom. Onder die voorwendsel om terrorisme te beveg is die Sjiïtiese Al Houthi-stam, wat veg vir selfbeskikking, deur Jemen se weermag onderdruk. Omdat Jemen strategies belangrik was vir die VSA is nie veel vrae oor Saleh se ondemokratiese optrede in sy land gevra nie.

Saleh moes in 2012 egter toegee het aan die massiewe druk van betogers tydens die Arabiese lente (wat ook ʼn aanslag op sy lewe ingesluit het) om as president te bedank en plek te maak vir sy adjunk, Abdrabbuh Mansoer Hahdi. Hy het egter agter die skerms verder die toutjies probeer trek en waar hy kon onrus gestook om sodoende as onmisbaar gesien te word en om weer aan bewind te kom. Veral in die weermag het hy, self ʼn kolonel en later veldmaarskalk, ʼn sterk invloed gehad. Saam met die Al Houthi-rebelle, sy eertydse vyande, het Saleh probeer om sy eie opvolger se bewind te destabiliseer. Saoedi-Arabië het aan die kant van die nuwe regering ingemeng en die posisies van die Al Houthis gebombardeer, wat intussen die grootste deel van Jemen, insluitende die hoofstad Sanaa beheer, terwyl die amptelike regering eintlik ʼn regering in ballingskap is.

Nou, verlede Maandag, het Saleh weer sy mantel gedraai, met die plan om weer aan bewind te kom. Hy het teen die Al Houthis gedraai en toenadering tot die amptelike regering en tot Saoedi-Arabië gesoek. Hy het nog heelwat troepe tot sy beskikking gehad en probeer om die hoofstad Sanaa te verower, maar die Al Houthis het die oorhand behou en Saleh tydens sy vlug uit Sanaa by ʼn kontrolepunt gestop en doodgeskiet.

Een beslissende figuur op Jemen se skaakbord is nou gevat en die einde van die konflik is nie in sig nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Therese van Schalkwyk ·

Altyd interessant, al is artikels oor Arabiese lande heel laaste op my leeslys.
Sal Saleh onthou vir hoe perfek sy naam pas by die idioom: ” Seile na die wind span “!

Dis onwaarskynlik dat Saleh in vrede sal rus, want m.i. bestaan so iets nie in die Midde-Ooste nie. Die televisiebeelde van dit wat in die strate afspeel kort na president Trump se Jerusalem-aankondiging is óórbekend, voorspelbaar en ook die rede waarom hierdie besluit nog nooit geneem is nie.

Die feit dat wêreldleiers en organisasies hul misnoeë met Trump uitspreek, eerder as om hierdie barbaarse, gewelddadige opstokery en dreigemente te veroordeel, is ook ongelukkig so voorspelbaar slaprug dit stel nie eers meer teleur nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.