John Steenhuisen reageer op ‘koalisie’-gerugte

John Steenhuisen, leier van die DA, skryf:

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die DA is die enigste party met ’n geloofwaardige politieke visie hoe om Suid-Afrika te red.

Dit is die boodskap wat ek verlede week in ’n onderhoud met ’n Engelse Sondagkoerant probeer oordra het. Ongelukkig het die koerant my woorde verdraai op soek na goedkoop sensasie. (Lees ook: DA ontken ‘koalisie’ met ANC)

Ek wil egter die geleentheid aangryp deur die lesers van Maroela Media in my vertroue te neem oor die DA se antwoord op die enkele belangrikste vraag wat ons land tans in die gesig staar: hoe gaan ons die politieke dooiepunt oorkom wat veroorsaak dat Suid-Afrika nie vorentoe beweeg nie?

Meeste Suid-Afrikaners stem teen hierdie tyd saam oor die oplossings wat ons nodig het om weer vooruitgang te begin maak. Die oorgrote meerderheid van mense stem saam dat bankrot staatsentiteite soos Eskom en die SAL geprivatiseer of toegemaak moet word, dat ons kaderontplooiing moet vervang met ’n bekwame staatsdiens, dat ons munisipale regerings moet regruk en bemagtig, en dat ons radikale voorstelle soos grondonteiening sonder vergoeding en die nasionale gesondheidsversekering moet verwerp.

Die probleem is egter dat geen van hierdie voor die hand liggende oplossings ooit geïmplementeer word nie. Beide Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa het klaaglik daarin misluk om daadwerklike aandag aan beurtkrag, ekonomiese agteruitgang en korrupsie te gee.

Alhoewel meeste Suid-Afrikaners dus saamstem oor die oplossings wat ons land nodig het, is die huidige ANC-– ongeag van wie die partyleier is – duidelik nie daartoe in staat om van hierdie ooglopende oplossings ’n werklikheid te maak nie. Die ANC het eenvoudig nie die vermoë of die wil om die probleme van Suid-Afrika in 2021 die hoof te bied nie.

Hierdie politieke dooiepunt maak dit onmoontlik vir ons land om vorentoe te beweeg. Maar vir die DA is dit nie goed genoeg om met arms in die lug net oor te gee nie. Wat ons nou nodig het, is leiers met die nodige visie om ’n nuwe koers vir Suid-Afrika in te slaan. Met ’n verkiesing om die draai, behoort Suid-Afrikaners daarop aan te dring dat elke politieke leier aandui hoe hulle van plan is om hierdie politieke dooiepunt te oorkom. Ons land se toekoms hang daarvan af.

Die DA se antwoord

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

Ons voorsien drie moontlike scenario’s vir die toekoms van ons land. Twee van hierdie scenario’s sal katastrofies wees. Die eerste is dat die sieklike ANC net-net sy meerderheid behou. Die gevolg hiervan sal die huidige politieke dooiepunt en ekonomiese agteruitgang net verder vererger en versnel tot by ’n punt waarvan ons nie kan herstel nie. Die tweede moontlikheid is dat die Magashule/Malema/Zuma-groepering die oorhand kry, in welke geval ons land uitmekaar sal val op die stofpad na Zimbabwe.

Dit derde moontlikheid is ons enigste hoop. In hierdie scenario slaag ons daarin om die ANC tot onder 50% van die stemme te dwing, waarna ’n veelpartykoalisie van hervormers onder leiding van die DA beheer neem van die nasionale regering.

Vir hierdie moontlikheid om te realiseer, moet ons egter nou reeds begin om samewerking te bewerkstellig tussen die DA en hervormers wat tans in ander politieke partye is. Ons moet dit doen om seker te maak dat ons gereed is om die radikale sosialiste in die Magashule/Malema-faksie te uitoorlê wanneer die ANC se steun later vanjaar in verskeie munisipaliteite tot onder 50% daal. Terselfdertyd moet ons besef dat indien opposisiekiesers almal terugtrek in hul eie laer, die  opposisiestem só sal versplinter dat dit die land op ’n skinkbord vir Magashule en Malema sal gee.

Dit is presies omdat die welstand van die land vir ons eerste kom, dat die DA nou reeds oop kaarte speel met Suid-Afrikaners. Ons respekteer ons kiesers genoeg om eerlik te wees dat slegs ’n herskikking van ons politiek wat die DA posisioneer in die rasionele kern van ’n nuwe veelpartyregering, sterk genoeg sal wees om die sosialistiese bedreiging af te weer.

Die vorige DA-leierskap het ongelukkig probeer om veelpartyregerings te bestuur deur aanhoudende toegewings te maak aan partye soos die EFF, wat staan vir presies die teenoorgestelde stel waardes en beginsels as die DA. Daardie dae is vir eens en altyd verby.

Eerder as om te probeer assimileer met groeperinge en mense wat nie ons waardes deel nie, gaan die DA onder my leierskap slegs saamwerk met vennote wat met ons saamstem oor die noodsaaklikheid van ’n markekonomie, nierassigheid, ’n bekwame staat, en die oppergesag van die reg.

Eerder as om soos ’n ongewerwelde meegesleur te word deur die grille en geite van haatlike partye soos die EFF, is dit my visie om die DA te posisioneer met ’n ruggraat van staal in ’n nuwe nasionale regering wat ons land kan red. Die DA moet soos ’n magneet in die middel van ons politieke landskap wees wat individue en groeperinge aantrek wanneer hulle ontnugterd wegskil van partye soos die ANC.

Die metale wat deur ’n magneet aangetrek word, waaronder yster, nikkel en kobalt, verskil in verskeie belangrike opsigte van mekaar. Maar die een ding wat hulle wel in gemeen het, is dat al hierdie metale ferromagneties van aard is. Op presies dieselfde wyse as wat die verskille tussen yster, nikkel en kobalt ondergeskik gestel word aan dít wat hulle in gemeen het wanneer hierdie metale naby aan ’n magneet kom, kan slegs die DA uiteenlopende politieke bewegings verenig onder die vaandel van die een ding wat hulle wel in gemeen het: die behoefte aan ’n groeiende en vooruitstrewende land.

Nes ’n magneet se fundamentele aard ook nie verander wanneer dit verskillende metale aantrek nie, is die DA ook vasberade om nooit weer af te wyk van ons waardes en beginsels nie. En nes ’n magneet sekere elemente verstoot omdat dit onversoenbaar daarmee is, verwerp ons onomwonde die korruptes en die radikale sosialiste wat ons land wil vernietig.

Op die ou einde moet kiesers hulself afvra of hulle tevrede sal wees met opposisieleiers wat eerder hul eie mishoop beskerm as om met ander mense in landsbelang saam te werk. Vir my en my party is die antwoord duidelik: Suid-Afrika kom altyd eerste. Daarom is ons ook bereid om met ander partye saam te werk solank sulke samewerking nooit ons basiese waardes en beginsels ondermyn nie.

Dit is slegs moontlik om Suid-Afrika te bevry van die huidige versmorende politieke dooiepunt deur ANC-oorheersing te vervang met ’n veelpartyregering – met die DA as die magneet in die middel wat alles bymekaar hou. Daardie dag is nader as wat baie van ons besef. En daarom is dit juis nou belangriker as ooit dat soveel mense as moontlik verenig agter die DA, sodat ons in die sterkste moontlike posisie sal wees om te beding vir ’n regering wat ons land kan red.

Wanneer daardie dag uiteindelik aanbreek, sal die DA gereed wees om ons plig aan ons land na te kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet ·

Nee wat, hou maar verby. Julle al die Metro wat julle gewen het weer verloor, sommige van hulle onder ‘n wolk van korrupsie.

Japie ·

Die DA is in n gemors vasgevang. Hulle besef nog nie dat jy nie op twee stoele kan sit nie. Wat in die een gemeenskap se belang is, is teen die ander se belang. Die DA wou so graag in Tswane munisipaliteit die septer swaai maar die gemors onder die DA bewind het totaal hande uitgeruk. Plakkerskampe skiet oorals op. Die plakkerskamp binne in die Pretoria Oos begraafplaas maak dit te gevaarlik om die begraafplaas te besoek. My familie le daar begrawe. Plastic view het geweld in ons woonbuurt ingebring en ons hoor gereeld skote klap in die omgewing. Nou is daar n plakkery in Castle View. Die gras het so lank geword dat sypaaidjies nie meer toeganlik is nie en mense loop nou maar eerder in die pad. Die paaie is vol gate. Boemelaars neem die strate oor. Die ergste is dat die DA n gevangene van die EFF is en slegs saam met hulle in beheer kan bly. Die enigste troos is dat ons weet hulle nie weer genoeg stemme sal kry in die volgende munisipale verkiesing sal kry nie. Die DA is n verleentheid

Philip ·

Jammer maar Sweizer Reneke het so n vrot smaak in my hele famile gelaat dat ons maar eerder V.F. sal ondersteun.Julle het ongelukkig n hele paar lelike blapse gemaak so in kort baie Afrikaners vertrou julle nie selfde as die oud N.P. wat ons belieg het jare terug.

Transvaalboer ·

Na die Sweizer Reneke debakel en etlike ander waar die DA nie kon wag om ons as blankes uit te kryt vir als wat sleg is nie moet jy maar weet julle kry nie my stem nie

Jack ·

Ai tog, daardie ou liberale arrogansie slaan maar weer altyd deur:
a) “slegs die DA (kan) uiteenlopende politieke bewegings onder die vaandel van die een ding verenig”;
b) vir my en my party is die antwoord duidelik: Suid-Afrika kom altyd eerste; (Suid-Afrika eerste was Genl JBM Hertzog se leuse)
c) die DA as die magneet in die middel wat alles bymekaar hou; (Aikona, die DA het fluks meegehelp om die Afrikaners van hom te vervreem, sien Schweizer-Reneke, steun vir Engels talige universiteite, skole, straatnaam veranderinge ens)

Kom al ons Afrikaners steun die VF+ ten volle . As dit dan so sou kom dat samwerking met die DA en ander partye die fasciste en kommuniste kan druk doen ons dit op grond van VF+ beginsels.

Thom ·

Jou laaste paragraaf verwys ; jammer maar ek en die denkende Afrikaners kan nie dom mense ondersteun nie . Bekrompte denke wat toepaslik was in die samelewings van 3 eeue gelede is ‘n groter gevaar as wat die ANC ooit sal wees .

annie ·

Die DA was geskiedenis nog altyd ANC-gekoppel (die volgehoue vete met die ou NP en Afrikaners). Nou maak Steenhuisen of Afrikaners altyd bondgenote was, in die DA-laer hoort, en nou moet help om ‘n eenpartystaat te vorm? (Zille se black sash-verlede/haatspraak destyds, is steeds op skrif.) Die jong-ou-VFPlus kan hom ook nie daarop beroem dat dit altyd die Afrikaner se redingsboei was nie. Om op ander partye te steun hetsy op monumente gaan ook niks verander nie. Ons het ‘n ordentlike teenkant-party nodig, nie glibberige gehandeklou en skynheilige drukkies nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.