#JongStemme: Covid-19 en die onderliggende ekonomiese depressie

Deur Ruan Goosen 

Ruan Goosen.

Die koronavirus het soos ’n dief in die nag die wêreld totaal en al onkant betrap. Soos regerings wêreldwyd spartel om die virus onder beheer te hou, is daar ’n ander narratief wat op ’n subtiele wyse in die agtergrond afspeel. Die ekonomiese impak wat die virus op die plaaslike- sowel as die globale ekonomie gaan hê, mag dalk meer verwoesting saai as die virus self.

Maar kom ons neem gou ’n stappie terug na ’n meer eenvoudiger tyd om ’n bietjie konteks te skep. Dit is die jaar 1971, Don McLean stel sy treffer Bye Bye, Miss American Pie bekend, Apollo 14 land op die maan en Elon Musk word in Pretoria gebore. Dit is ook die jaar wat Amerika ontslae geraak het van die goudstandaard, wat op daardie stadium die basis gevorm het van die internasionale monetêre stelsel. Die goudstandaard het verseker dat alle wisselkoerse geanker was aan ’n spesifieke waarde, naamlik die prys van goud. Maar in ’n oogwink het wisselkoerse hul gemeenskaplike anker verloor en swewend geword. In 1973 was daar ’n oliekrisis en oliepryse het deur die dak geskiet. In 1974 was daar ’n ooreenkoms tussen Amerika en Saoedi-Arabië om ’n nuwe anker tot stand te bring – hierdie was dus die begin van die petrodollar-stelsel wat tot vandag toe steeds in werking is. Dus het die monetêre anker van goud na die dollar verskuif, en alle wisselkoerse word vandag relatief tot die dollar gemeet.

Nou vat ons gou ’n kort ompad en maak ’n draai in die jaar 2008, waar die wêreld getref was deur die finansiële krisis. In die opbou tot die krisis het verskeie faktore gesamentlik bygedra tot die kunsmatige toename in huispryse, oftewel die behuisingborrel wat toe uiteindelik gebars het en dus gelei het tot die inmekaarstorting van finansiële markte. Die reaksie van sentrale banke was om ’n reddingsboei na groot finansiële instellings, soos banke, te gooi deur massas likiditeit (geld) in die stelsel in te pomp (“Quantitative Easing [QE]”). Dit het op die kort termyn die negatiewe impak van die krisis onderdruk, maar in werklikheid het dit die borrel net verder opgeblaas.

Sedert 2008 het sentrale banke rentekoerse kunsmatig laag gehou om ekonomiese groei te stimuleer, aangesien lae rentekoerse mense aanspoor om laekostelenings uit te neem wat gevolglik lei tot meer besteding. Maar hier is waar die fatale fout ingekom het: jy sien, lae rentekoerse is dalk ’n aansporing om te leen, maar dit ontmoedig ook mense om te spaar aangesien die opbrengs wat hulle by die bank kan kry, nie aanloklik genoeg is in verhouding tot ander beleggings nie.

Dit bring ons weer terug by die jaar 2020, waar jy heel waarskynlik in jou huis onder kwarantyn gehou word…

Toiletpapier het oornag witgoud geword en die onsekerheid oor die toekoms loop hoog. Die vraag op almal se lippe is, wat lê nou vir ons voor? Wel, die Suid-Afrikaanse ekonomie was al reeds in ’n penarie voor die koronavirus en nou lyk die toekoms aansienlik meer somber in vergelyking met ’n paar maande gelede.

Ons almal weet dat daar beslis ’n afname in ekonomiese groei gaan wees vir die volgende paar maande, altans totdat daar ’n entstof teen die nuwe koronavirus gevind word. Ons weet ook besighede gaan swaar kry, werknemers gaan afgedank word en die mediese sektor gaan geweldig onder druk geplaas word. Verder gaan daar meer druk op die regering geplaas word om aksie te neem, en ons sien reeds hoe die ANC se mond water om nog meer drakoniese beleide op te stel en te implementeer om indringing te maak op ons vryheid.

Die reaksie van sentrale banke was voorspelbaar, aangesien hulle mos dink mens hoef net geld in die rigting van ’n probleem te gooi om dit op te los. Tog het sentrale banke eintlik net ’n paar instrumente in hul gereedskapkis – hulle kan geld druk en die geldvoorraad manipuleer. Alhoewel dié instrumente handig is as daar ’n aanvraagskok in die ekonomie is, het hulle geen beheer oor aanbodskokke nie. Met ander woorde, hulle kan dit regkry dat mense meer verbruik/bestee in ’n krisis, maar daar is geen manier dat dit hul produksie kan beïnvloed nie. Maar dít is juis die fundamentele probleem in hierdie teenswoordige krisis: ’n afname in produksie weens mense wat nie kan werk nie.

Wat is die ekonomiese vooruitsigte? Om ’n vooruitskatting te maak oor die ekonomiese toekoms, moet al die bogenoemde elemente eers bymekaar gevoeg word. Aangesien rentekoerse wêreldwyd onnatuurlik laag gehou was vir die afgelope 12 jaar, is daar nie genoeg spaargeld wat mense kan gebruik as ’n aanvulling in dié swaar tye nie. Inteendeel, skuldvlakke was nog nooit so hoog soos nou nie. Weens die globale finansiële onsekerheid gaan beleggers nou hardloop na veilige “hawens” soos die dollar en Amerikaanse staatseffekte, dus gaan kapitaal die land uitstroom en lei tot die depresiasie van die rand. Bowendien blyk dit dat sentrale banke nog nie hul les geleer het nie, en ons sien reeds hoe die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) miljarde dollars in die ekonomie inpomp. Maar soos produksie agteruitgaan en die geldvoorraad verhoog, ontstaan daar ’n moontlikheid vir hiperinflasie soortgelyk aan dié van Zimbabwe. Dié hiperinflasie-scenario is ook van toepassing op Suid-Afrika. Die ergste scenario is dat die wêreldekonomie in ’n depressie kan ingaan soos dié van die 1930’s, alhoewel die waarskynlikheid hiervan in dié stadium nog klein is.

Maar daar is ’n lig aan die einde van die tonnel. Ons leer uit die geskiedenis dat ons voorvaders al baie moeiliker situasies in die verlede oorwin het, soos byvoorbeeld die Spaanse griep in die 1920’s wat meestal jong mense geteiken het. Tog is dit my mening dat hier ’n paradigmaskuif moet plaasvind. Ons moet besef dat globalisme en sentrale banke grootliks bygedra het tot die broosheid van die globale ekonomie en dus is die oplossing nie méér globalisasie nie, maar eerder meer lokalisasie.

Dit is nóú die tyd om saam te staan in ons gemeenskappe en aan ’n toekoms te bou waar ons onafhanklik is van die wêreld se onsekerhede, van die wêreld se produksiekettings en brose monetêre stelsels soos die petrodollar, en van onverantwoordelike organisasies soos sentrale banke.

  • Ruan Goosen is ‘n meestersgraadstudent in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is passievol oor die Oostenrykse ekonomiese benadering, en bied in sy vrye tyd die Goosenomics-podsending aan.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Kyk, ek sal my hoed self opeet as ons regering ná die Corona-episode nog steeds pensioenfondse gaan uitlos. Die argument gaan net te sterk wees daarvoor. Hierdie gaan hulle die nodige motivering gee om die land te probeer “red”. Waar anders sal die geld vandaan kom?