#JongStemme: Diamante vorm onder druk

Deur Lizl Niemand

Lizl Niemand.

Die mens word gevorm deur sy omstandighede. Dit is die woorde wat my keer op keer te midde van hierdie vreemde en vreesaanjaende omstandighede bygeval het. Ons gaan deur die lewe as marmerblokke waaraan daar daagliks met hamer en beitel gewerk word, en een ding is seker: dit maak seer.

Op 31 Desember 2019 het die hele wêreld in afwagting gestaan en kyk na die horlosies. Tien, nege, agt sekondes tot die begin van ʼn nuwe dekade. ʼn Nuwe jaar propvol geleenthede het net om die draai gewag.

Ek sou destyds nooit kon dink dat ek en my mede-matrikulante in ʼn nasionale ramptoestand sou matrikuleer nie: Dat ons blinkoog graad aggies die grootste deel van hul eerste jaar op hoërskool by die huis sou deurbring nie; dat maskers en ontsmettingsmiddels ʼn noodsaaklikheid om oorlewing sou word nie. Daar kan dus met sekerheid gesê word dat die toekoms nie in die mens se hande lê nie.

Waar ons tans staan en kopkrap met vrae soos ‘waarheen nou?’ met ʼn diepgesetelde vrees wat ons van binne af verteer, het ek begin dink oor die jongmens van 2020. Die dokters, boere, ingenieurs, kunstenaars van die toekoms. Diegene wat hoër hoogtes met innoverende denkwyses kan en gáán bereik.

Ná ʼn inspirerende lesing oor die proses wat steenkool ondergaan om uiteindelik in ʼn skitterende diamant te verander, het ek begin om ons as die jong generasie, die ligdraers van die toekoms, te vergelyk met daardie steenkool. Die samelewing om ons is in konstante chaos gedompel met die bedreiging van oorlog, omgewingskwessies soos aardverwarming, rassekonflik en nou Covid-19. Dit is veilig om te sê dat die druk wat nou op ons toegepas word, geweldig is. Dit is egter hierdie druk wat ons vorm. Ons word sterker totdat dit tyd is om as diamante ontgin te word.

Na ontginning, moet diamante verder verfyn word voordat hulle uiteindelik hul ereplek in ʼn kosbare juweelstuk kan ontvang. Daar word gesê yster slyp yster. Op dieselfde manier slyp diamante mekaar. Hiermee wil ek sê dat ons ná ons ‘ontginning’ as die samelewing se diamante, mekaar moet opbou en ondersteun. Prediker 4:9-12 vertel vir ons dat twee beter is as een. Dit is die woorde “ʼn driedubbele tou breek nie maklik nie” wat veral vir my opvallend is. ʼn Enkele stem wat sing word maklik deur die gedruis van die samelewing oorrompel, maar ʼn duisend – of selfs tienduisend – stemme wat saam sing, weerklink deur die uitspansels van die aarde.

Covid-19 het vir baie ʼn gevoel van moedeloosheid meegebring. ʼn Jaar wat met hoop verwelkom is, het in ʼn oogwink in ʼn nagmerrie verander. Ek het self al met my kop in my hande gesit en elke “nuwe” dag in die grendeltyd met ʼn sug begroet. Dit is egter veel beter om op hierdie manier daaraan te dink: ons is almal alleen in die vlees, maar in die gees staan ons in solidariteit en hou hande vas vir ʼn nuwe toekoms. Vir hoop. Die mens is nie gemaak om alleen te loop nie. Dit is wanneer ons begin struikel. Daarom is dit nodig om na mekaar uit te reik. Ek dank ook die Hemelse Vader vir Sy teenwoordigheid wat ʼn konstante in ʼn veranderlike wêreld is.

Die mens is die kroon van die skepping. Jongmens, wees jy dus die diamant daarin. Laat ons nie moed verloor nie, maar as ʼn eenheid staan vir ʼn nuwe toekoms. Hou aan skitter.

  • Lizl Niemand is ʼn matrikulant aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Jou toekoms le oop voor jou met jou posetiewe benadering! Ek weet ons jeug het dit in hul om skouer aan die wiel te sit en die wa deur die drif te trek. Trouens ons voorouers het en julle kan ook! Ek kan, ek wil, ek sal, dan is alles moontlik met God aan jou sy.

Anel ·

Ek sien haar wen. ‘n Affiedogter se leuse vir 5 jaar en dan word dit jou hele lewe toe gepas. Alles wat jy aanpak en suksesvol voltooi maak van jou’ ‘n wenner. Maak nie saak hoe groot of klein nie. Baie sterkte vir jou toekoms. Jy is alreeds’ ‘n wenner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.