#JongStemme: Die ontdekking van ons Hemelse Vader se naam

Deur Leon Bernardo

Leon Bernardo.

Alles en almal op aarde het ʼn naam. Behalwe ons God…

In die moderne wêreld stel ons nie meer regtig belang in wat iemand of iets se naam beteken nie. Jy weet wel wie Pieter is maar, jy weet nie wat die naam Pieter beteken nie. ʼn Naam vertel ons iets van ʼn persoon of plek. Jerusalem beteken byvoorbeeld stad van vrede. Bethlehem beteken huis van brood.

So ontvang mense ook name wat iets van hulle vir ons vertel. Dink byvoorbeeld aan byname, wat iets sê van jou as persoon. Buksie is iemand wat fris en kort is en gewoonlik dapper is.

Baie keer het die betekenis van ʼn persoon se naam ’n verwante uitwerking op hul lewe. My naam, Leon, beteken ek is nederig en ʼn beskeie persoon, lief vir oop ruimtes, ek stel myself nooit eerste nie, ek is iemand wat geluk en vreugde ken en ek respekteer die wense van ander. Gaan kyk ’n bietjie wat beteken jou naam, dalk is jy net so verbaas soos ek!

Die naam van ons God wat aan ons bekend is, is Here. Here, vertaal in Engels is “Lord”. Volgens die Merriam-Webster woordeboek (moontlik die mees betroubare aanlynwoordeboek in Amerika), beteken Lord ʼn gesaghebbende persoon, iemand met mag en rang. Lord word as ʼn titel aan iemand gegee wat beheer en gesag oor ander mense uitoefen. Dis meer algemeen in lande soos Brittanje.

In ʼn Afrikaanse opset word ʼn gehoor aangespreek as “Dames en Here’’. Ek kon van kindsbeen af nooit begryp waarom ons God se naam op ʼn mansbadkamer se deur staan nie. Hoeveel respek het ons dan nou eintlik? het ek gewonder. Ek kon gelukkig tot die gevolgtrekking kom dat Here (of Lord) nie alleenlik die aanspreekvorm van my Skepper is nie, maar ook ʼn titel. Amper soos doktor (dr.), wat vooraan jou naam kom wanneer jy geleerd is.

Die twyfel het my beetgehad, dus het ek ondersoek ingestel, op soek na ons God se regte naam.

Ek kon vasstel dat die Vader se naam vir ongeveer 2 600 jaar ná die Skepping onbekend aan sy mense was. Lees gerus Eksodus 6:2. “Ek het aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar my Naam, die Here, het Ek nie aan hulle bekend gemaak nie.”

Die bogenoemde aanhaling kom egter uit die 1983-vertaling. Maar lees gerus die ou King James Bybel se vertaling (Eksodus 6:3), dan sal jy vind dat Here met “Jehova” vervang is. Hoe dan nou? Is God se naam dan nie Here, of soos in Engels, Lord nie?

En dis waar ek ʼn baie interessante vonds gemaak het. Die Jode glo dat God se naam té heilig is om te noem, en dus vervang moes word deur Lord, Jehova of Adonai. Dis name wat self deur mense tot stand gebring is. Jehova, wat vier keer in die King James-vertaling voorkom, was in die 16de eeu deur William Tyndale gevorm. Die naam Jehova kom glad nie in die oorspronklike Hebreeus voor nie.

Baie interessant!

Ek kom toe op nog ʼn unieke vertaling af van Eksodus 6:3. Op die YouVersion-Bybelapp. is daar ʼn vertaling met die naam The Scriptures 2009. Dis ʼn Engelse vertaling en orals waar Lord moet staan, staan daar “ יהווה ”. Dis God se oorspronklike Hebreeuse naam wat uitgedruk word deur vier letters, YHWH.

Hierdie vier letters word op verskillende maniere uitgespreek, maar is hoofsaaklik bekend as “Yahweh”. Hoe Groot en hoe wonderlik is sy naam! Waar het jy al ooit van so ’n unieke naam gehoor? Nêrens!

Volgens die Jode is dit verbode om God se regte naam te gebruik, eenvoudig omdat dit té heilig is. En dis een van die redes waarom jy dit nie in moderne Bybels sien nie en eerder Lord of Here.

Maar… dan kry ek die volgende skrifgedeeltes wat my laat twyfel oor die Jode se sogenaamde reëls. Esegiël 39:7: “Ek sal my heilige Naam laat ken onder my volk Israel; hulle sal my heilige Naam nooit weer oneer aandoen nie, en die ander nasies sal besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel.

Lees ook gerus Jeremia 23:26.

Ek voel dit kan nie duideliker gestel word nie. Die Vader wil hê ons moet Hom op sy naam noem. Hoekom anders het hy in Eksodus 6 sy naam aan Moses bekend gemaak? Dink vir ’n oomblik – as jy my die heeltyd Pieter noem, maar my naam is eintlik Leon, gaan ek dan op Pieter reageer? Natuurlik nie, ek wil hê dat jy my op my naam moet noem.

Noudat ek God se regte naam ontdek het, besef ek uiteindelik hoe mense dit regkry om sy naam hier op aarde so maklik te misbruik, te verydel – net omdat hulle kwaad is of sommer net so in die verbygaan – en nie eens skuldig daaroor voel nie. Hoe kan jy tog die Vader se regte naam misbruik?

Ek besef daar gaan kritiek oor die hierdie meningstuk wees. Ek verstaan dat sommige mense hul hele lewe lank glo dat ons God se naam Here is, en nou lees dat ’n matriekseun reken dis egter nie so eenvoudig nie. Maar daar staan nie verniet in Lukas 21:12 dat jy vervolg gaan word, ter wille van God se naam nie!

  • Leon Bernardo is ‘n matriekleerling aan Grey-kollege in Bloemfontein. Hy gaan in 2021 BCom Bestuursrekeningkunde aan Akademia studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cheryl ·

Leon jy is 100% korrek en skielik gaan ‘n hele nuwe wêreld vir jou oop en verdiep jou verhouding met Abba Vader. Jy doen die 3 belangrikste beginsels van Bybelstudie. Learning, action and sharing. Wel gedaan Jong man. Seën vir jou.

Juls ·

Mooi geskryf, die Naam wat God en Jesus vir Hulself gebruik is ook “EK IS”. Dit is ontsagwekkend en heilig. PRYS DIE NAAM VAN DIE HERE!!!

Gerhardus ·

Eintlik is dit glad nie nuus nie. Ek was Standard 6 (nou Graad 8) toe ek die Bybel begin in alle erns studeer en ontleed het.

Aangesien die Jode nie die naam van God mag uitgespreek het nie, word dit slegs as YHWH aangedui. Daarom is die “algemene” uitspraak van YaHWeH ook verkeerd, aangesien niémand presies weet hoe die woord uitgespreek moet word nie.

Gideon ·

Los die kind dat hy sy eie ontdekkings maak. Hierdie is nie ‘n kompetisie om te kyk wie dit eerste raakgelees het nie.

Lorette ·

As jy meer wil weet, gaan luister na Nehemia Gordon op You Tube of kry hom op sy webwerf. Daar sal jy meer kan leer oor ons Vader se naam, Yehovah. Baie sal nie saam stem nie, omdat die kerk hul nie reg leer nie. Baie is te gemaklik om die wereld te volg, in plaas van om hul Vader te volg wat hul Lief het en meer te leer oor Hom en Sy Naam.

Johan ·

Uit die name YAHUAH en Adonai is ‘n nuwe naam gemaak – Jahovah. Die klinkers van die een is ingevoeg in die medeklinkers van die ander om weereens Vader se Heilige Naam te probeer vernietig. Die vorm Jehowa berus op ‘n foutiewe vokalisering van die woord YAHUAH. Die grondteks van die Ou Testament het slegs uit konsonante bestaan en eers etlike eeue ná YAHSHUA ha Messiah het die Masorete die Hebreeuse Bybel van vokale voorsien.

Die latere Yudeërs (Jode) het in hul eredienste uit eerbied die naam YAHUAH nie hardop gelees nie, maar slegs van Hasjem (die Naam) gepraat. Veral die woord “Adonai” wat “my Heer” beteken, is gebruik.

Die Naam YHWH (YAHUAH) word dus, volgens eind-tyd-profesiëe, weer aan Sy volk bekend gemaak……..

Fluisterwind ·

God is die enigste Een wat Homself akkuraat kan beskryf as ‘EK IS’. Jesus het die titel EK IS vir Homself geëis in Johannes 8:58. Vir die res van ons is ‘ek is’ ‘n valse aanspraak op selfonderhoudendheid. Ons is nie ewig konstant of altyd teenwoordig nie. Ons enigste hoop is om eise van ons eie soewereiniteit en genoegsaamheid te laat vaar en ons op die genade van EK IS te werp.

DiWaarheid ·

Kyk na ’n paar voorbeelde van eiename wat in die Bybel gevind word en ’n verkorte vorm van God se naam bevat. Jonatan, wat as Jo·na·thanʹ of Jeho·na·thanʹ in die Hebreeuse Bybel verskyn, beteken “Jaho of Jahowah het gegee”, sê professor Buchanan. Die profeet Elia se naam is ʼE·li·jahʹ of ʼE·li·jaʹhoe in Hebreeus. Volgens professor Buchanan beteken die naam: “My God is Jahoe of Jahoe-wah.” Net so is die Hebreeuse naam vir Josafat Jeho-sja·fatʹ, wat beteken “Jaho het geoordeel.”

’n Tweesillabige uitspraak van die Tetragrammaton as “Jahweh” sal dit nie moontlik maak dat die klinker o ’n deel van God se naam kan uitmaak nie. Maar in die tientalle Bybelse name wat die Goddelike naam bevat, verskyn hierdie middelste klinker in die oorspronklike sowel as in die verkorte vorm, soos in Jehonatan en Jonatan. Professor Buchanan sê dus aangaande die Goddelike naam: “Onder geen omstandighede word die klinker oe of o weggelaat nie. Die woord is soms afgekort as ‘Ja’, maar nooit as ‘Ja-weh’ nie. . .

DiWaarheid ·

Wanneer die Tetragrammaton as een sillabe uitgespreek is, was dit ‘Jah’ of ‘Jo’. Wanneer dit in drie sillabes uitgespreek is, sou dit ‘Jahowah’ of ‘Jahoewah’ gewees het. As dit ooit tot twee sillabes afgekort is, sou dit ‘Jaho’ gewees het.”—Biblical Archaeology Review.

DiWaarheid ·

Die 19de-eeuse Hebreeuse geleerde Gesenius in sy Hebrew and Chaldee Lexicon to the Old Testament
Scriptures het geskryf: “Diegene wat meen dat יְהוָֹה [Je-ho-wah] die oorspronklike uitspraak van God se naam was se mening is nie heeltemal ongegrond nie. Sodoende kan die afgekorte sillabes יְהוֹ [Je-ho] en יוֹ [Jo], waarmee baie eiename begin, bevredigender verduidelik word.”

JM ·

Ek is jammer!! By die 2de kommentaar, waar God se Naam en heiligheid beaam word, is daar SOWAAR! ‘n AF-DUIMPIE! Ek kan dit nie glo nie!

Danie ·

Is bg verwysing na/verklaring van Luk 21:12 nie n ‘verskraling’ (en dalk oppervlakkig interpretasie?) van hierdie teks nie…? Alhoewel Sy Naam en dit ‘wat ons Hom noem’ sekerlik belangrik is …is dit wat ons as gelowiges in Sy Naam doen en uitleef en bely tog SOVEEL belangriker!!! Vers 13 se tog nie verniet dat ons van Hom (en Sy Naam word nie nou weer genoem nie!!) moet GETUIG!!! …en nie getuig van hoe Sy Naam uitgespreek moet word nie maar dat Hy lewe en genadig is!!!! Elders (Mat 7:21) staan daar: nie elkeen wat se Here Here (Sy Name!) sal ingaan in Koninkryk nie…maar hy wat die wil DOEN van my Vader…!!!!

Gideon ·

Lekker om te sien daar is jong mense wat die Bybel bestudeer. Dis die lekkerste ding in die wereld. Vir my is dit soos om spoelgoud te was (gold panning). Jy kry elke dag klein bietjies goudstof, en dan, so af en toe, kry jy ‘n kneuwel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.