#JongStemme: Die president is reg – rassisme is groot deel van daaglikse ervaring

René van der Vyver

Meneer die president

Meneer sê tereg dat rassisme ʼn groot deel van die daaglikse Suid-Afrikaanse ervaring is, maar meneer verwys net na een rigting van rassisme en dit is ʼn afskuwelike fout. Ek skryf hierdie brief as ʼn reaksie op meneer se eensydige, verdelende brief van 23 Mei 2022.

Die voorval waarna meneer eerste verwys word verag, want ʼn dronk student het op ʼn ander student se tafel geürineer. Die feit dat meneer kies om dit as ʼn rassistiese voorval te beskryf blyk ʼn poging te wees om goedkoop politieke punte te werf. Ek sê so, want die student wat geraak is, Babalo Ndwayana, het self tydens ʼn eNCA-onderhoud van 17 Mei gesê dat die voorval nie deur rassehaat gestook is nie.

Dan gaan meneer oor na dieselfde ou deuntjie van die verlede. Verstaan asseblief dat, alhoewel ek nooit apartheid geken het nie, ek begrip het vir die seer wat veroorsaak is, maar kan meneer dan asseblief probeer verstaan hoeveel seer meneer se regering in die teenwoordige tyd veroorsaak? Is dit nie eerder die moeite werd om ʼn brief daaroor te skryf nie? Meneer praat van die stryd om die verlede te oorkom, maar ons (alle Suid-Afrikaanse burgers) is tans gedompel in ʼn bittere stryd om die huidige bestel van korrupsie, misdaad, verval en diskriminasie te oorkom.

Meneer noem voorts self dat die betrokke persone in hierdie onaangename voorvalle by skole en universiteite na apartheid gebore is. So, waarom moet ons (jongmense) dan steeds gebuk gaan onder blatante rassediskriminasie wanneer beursaansoeke, universiteitskeuring, werksgeleenthede en sportspanne op die voorgrond is?

Ek erken daarom, soos meneer versoek het, dat – ja, rassisme is deel van die alledaagse lewe in Suid-Afrika. Of dit gedryf word deur ʼn gevoel van superioriteit weet ek nie…

Sal meneer dus sê dat jou staatswerknemers by binnelandse sake glo dat swartmense verhewe is teenoor witmense, wanneer hulle vinger wys na iemand in die ry met ʼn wit vel en sê: “Jy kan maar huis toe gaan, ons water is af.” Ek, met ʼn wit vel, ervaar ook elke dag rassisme in Suid-Afrika. Hoe durf meneer sê dat swartmense in Suid-Afrika dit erger ervaar wanneer ek rassistiese doodsdreigemente op sosiale media rapporteer en daar word niks oor gesê nie, terwyl dit anderkant om dramatiese gevolge sou hê?

Wat het meneer te sê oor ʼn politieke leier wat in die hof weier om te sê dat hy nie vir die uitmoor van die hele wit bevolking in Suid-Afrika sal vra nie? Weet meneer hoe seer maak dit my as geliefdes wreedaardig op hul plase vermoor word as gevolg van rassehaat? Wat dit nog erger maak, is dat my eie president hierdie traumatiese voorvalle ontken het op ʼn internasionale platform. Kan meneer asseblief om verskoning vra vir die leuen?

Meneer sê mos ons moet daaroor praat – so asseblief praat daaroor. Is dit vir meneer ook bemoedigend dat ek, en ander jongmense, die leiding neem om op te staan oor hierdie kwessie? Of is dit net bemoedigend wanneer die opstaan vir geregtigheid een kant toe is?

Want ek stem saam met Kwenzokuhle Khumalo, wat meneer trots aanhaal in u brief, “julle het die verkeerde generasie die keer ontmoet”. Ons tree ook vandag vorentoe om ons geboortereg terug te eis, want daar word wyd en syd leuens versprei dat ons die land gesteel het en nie hier hoort nie.

Nee, meneer. Hoe kan meneer sê dat Khumalo reg was toe sy gesê het dat swartmense nie die probleem is nie, maar die mense wat vashou aan wit superioriteit? Is dit meneer se manier om dan te verklaar dat meneer net die president van een groep in Suid-Afrika is? Want meneer kan sekerlik nie sulke eensydige en verdelende standpunte aanhang in so ʼn diverse land nie?

Rassisme van enige aard moet aangespreek word en dit kan net gebeur as alle groepe aanvaar dat mense met verskille waardig is van respek. Om my ʼn pienk vark te noem, wat terug moet gaan Europa toe, getuig beslis nie van respek nie.

Meneer stel voor dat ons die oorsaak van rassistiese houdings moet verstaan… Dalk moet die politieke leiers ophou om hulle werwingsveldtogte te grond op rassediskriminasie, sodat probleme in die land objektief aangespreek kan word sonder om die heeltyd rassehaat te stook. Dalk kan ons dan eerder dialoog hê oor die ervarings van alle Suid-Afrikaners, na 28 jaar in ʼn demokrasie wat ongelukkig ʼn sinoniem geword het van korrupsie. Dalk kan die euwel van korrupsie dan eerder ingesluit word by die lewensoriënteringkurrikulum?

So, ja, asseblief laat verdraagsaamheid en respek meer beklemtoon word, soos meneer voorstel. Maar moet asseblief nie rassisme en verdeeldheid onder die dekmantel van “inklusiwiteit en gelykheid” voorhou op sulke blatante maniere soos meneer se vorige brief nie.

Vriendelike groete,

René van der Vyver

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marianna ·

René, jy het in die brief gesê wat ek nog altyd wou sê. Hierdie brief moet in Engels na ons President toe gaan. Ons sê hierdie dinge agter geslote deure. Dit moet uitgebasuin word oor die hele wêreld want nog steeds dink die wêreld ons is ‘n pragtige reënboognasie. Hierdie artikel behoort in Brite koerante opgeneem te word.

Dewald ·

Baie goeie brief Rene, ek stem volkome saam met jou siening.

Laat my toe om egter vir ‘n oomblik “devil’s advocate” te wees. Soos die president (en die media), word daar aannames gemaak oor die betrokkenheid van ras in die Stellenbosch saak (en soveel ander). Is jy nie nou besig om dieselfde te doen met sommige van jou stellings nie?

Wees net versigtig, jy verwak jou eie argument.

MakersMark ·

Rassisme sal vir als blameer word want die slagoffer mentaliteit is nog diep gewortel.

Kobus ·

Bravo Rene. Wanneer kan ek vir jou ‘n Bells koop? Die meneer teem vir hoe lank oor een geval en dis nou ‘n doodsonde, maar hy sê niks oor dinge wat regtig saak maak nie. Hy het land om te regeer, maar hy kies eerder populisme bo SA se belange. Ons gewone burgers kom baie goed oor die weg met mekaar maar dis mense soos meneer wat Rassisme as ‘n weerligafleier gebruik.

Johan ·

Jy is natuurlik 100 persent korrek, maar jy sal die ANC nooit van hul populistiese uitsprake kan ontneem nie. Dis die enigste manier hoe hul stemvee gepaai kan word.

H.A. ·

Vir wie moet ons dankie se? Amerika en sy skoot hondjie engeland. Hulle is die monde vir ram en kie.

Delia ·

Pragtig gestel Rene. Vertaal hom asb in Engels en stuur dit vir Meneer Ramaphosa ook

Harley Davidson ·

Dit is die waarheid en hoe ek dit ook ervaar die dame wat hiérdie geskryf het is ‘n ware leier in wording hou so aan.

Plaasnooi ·

Vatso meneer !
Wel gesê René , ál jou punte is geldig…. dis nou net die probleem om d regering sover te kry om te verstaan wat hulle lees (30%) ….
Ek dink in elk geval daar is meer en meer veral, swart mense wat keelvol is vir die regering en wat uiteindelik nou d waagmoed het om hulle frustrasies op sosiale weer te gee .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.