#JongStemme: Gesindheid maak saak

Deur Heike Fourie

Daar word altyd na afloop van ʼn belangrike sportgebeurtenis of kompetisie ʼn wenner aangekondig. ʼn Welverdiende beloning word aan die wenner toegeken, maar wat van die verloorder wat nét so hard gewerk het?

Die woord “verloorder” is neerhalend en kan ʼn donker wolk oor jou kop vorm. Niemand hou van verloor nie, maar nie almal kan wen nie, so wat nou? Dit hang alles van jouself af. Jou uitkyk op die lewe en houding teenoor situasies het ʼn groot invloed op jou gemoed. As jy nie jou lot kan verander nie, verander jou houding. Die geheim van ʼn gelukkige lewe is ʼn vrolike gemoed.

As jy vrede en vreugde kan vind in die klein dingetjies van die lewe, het jy klaar gewen! Ja, jy is dalk nie eerste in die 400 m-wedloop nie, maar jy het vriende gemaak, sterker geword en dissipline geleer. Jy het dalk nie die beste in jou klas gevaar nie, maar jy het wel uit jou foute geleer. Jy staar jou blind teen die negatiewe uitkoms! Waarom probeer ons nie vir ʼn verandering die positiewe in die situasie raaksien nie?

Dit is nie elke dag maklik om met ʼn glimlag op jou gesig en sprankelende houding rond te loop nie. Ek bewonder dié wat dit wel regkry. Soms is die probleem oorweldigend en die klein berg is ewe skielik so groot soos Everest. Gelukkig weet ons dat jy tree vir tree die reuseberg kan aanpak én bo kan uitkom. Daar wag ʼn onbeskryflike uitsig aan die bokant van die berg. Net so wag daar ook in die lewe ʼn onverwagse beloning aan die einde van jou eie Everest.

Die lewe kan soms onregverdig wees. ʼn Mens kry nie altyd wat jy verdien of waarvoor jy gewerk het nie. Moenie tou opgooi nie! Jy weet nie hoe naby jy aan die wenstreep is nie, en om op te gee, gaan jou nie nader daaraan bring nie.

ʼn Wenner is nie noodwendig iemand wat met die blink trofee op die hoogste trappie staan nie. ʼn Wenner is iemand wat met ʼn trotse hart en breë glimlag op die tweede trappie kan staan. ʼn Wenner is iemand wat die silwer randjie in daardie donker wolk sien wat jy oral saamdra. Wie nie waag nie, wen nie … Wie nie verloor nie, leer nie!

  • Heike Fourie is ʼn 17-jarige leerder aan die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark. Sy is passievol oor haar akademie, netbal en het ʼn groot liefde vir ATKV-Redenaars.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ja, kom ons gee vir almal n medalje wat deel geneem het.
Ai tog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.