#JongStemme: Gevaarlike kalante se kaskenades

arno-roodt

Arno Roodt. Foto: Verskaf.

Deur Arno Roodt

Ek, en vele ander jong mense ervaar ʼn ernstige skeuring tussen ons en die politieke wêreld.  Die politiese hegonomie word oordonder deur die geskreeu van giggelgeel, ouderwetse struggle-helde, rooi, radikale, revolusionêres en die alliansie van slinkse slangoliesmouse, wat elkeen hul weergawe van ʼn utopiese Suid Afrika aan ons probeer afsmeer.

Sommige jongmense vind aanklank by die sirkuspolitiek. Hulle geniet dit om te sien hoe die ringmeester sy sweep klap, en hoe die arme “sirkusdiere” allerlei toertjies moet uitvoer om te oorleef. Hoewel die spektakel geen tekort aan vermaaklikheidswaarde het nie, dreun die parlementêre narre se trekorreltjiemusiek ʼn groot deel van die jeug se stem dood.

Hulle goël met ons toekoms – die land se toekoms – in die najaag vir “hul” deel van die stemkoek.

As jy, net soos ek, nie aanklank vind by die hansworsagtige handeling van die drie groot partye nie, het ek goeie nuus. Ons is besonder bevoorreg om in ʼn land te woon, een van net 89 in die wêreld, wat ʼn proporsionele-verteenwoordigende parlement het. Dit beteken dat, anders as plekke soos die Verenigde Koninkryk, waar slegs die enkele groot partye sitplekke in die parlement kry (en hulle nou skynbaar vir álmal moet praat), Suid-Afrikaners werklik hulle stemme kan laat hoor deur ʼn party wat regtig namens hulle praat, in die Parlement te plaas (en met 48 partye op die verkiesingslys, het ons geen tekort aan opsies nie!).

Ek kan nou baie diep delf in die tegniese interne werking van die stelsel, maar ek is beperk tot 500 woorde, so ek gaan eerder die kerngedagte aan julle voorhou: Ons wonderlike verkiesings sisteem is so saamgestel om juis kleiner partye te bevoordeel – Kleiner partye wat spesifiek die kwessies wat na aan jou hart lê aanspreek!

Ek wil my kruisie langs die party wat my waardes deel, trek. Ek wil nie geguilt trip word met die mite dat “’n stem vir ʼn kleiner party die opposisie gaan verswak” nie. Dit is ʼn blatante leun, en praat alleenlik van die arrogansie en onkunde van die mitemakers. Ek wil iemand in die parlement hê wat onbeskaamd sal opstaan teen kwessies wat my raak. Ek wil mý stem laat hoor.

Verder moet ons die idee laat vaar dat ons politieke partye enige iets skuld. Hulle is hier om óns te dien, nie andersom nie. Hou hulle verantwoordelik vir hul beloftes, beleide en veral vir hul aksies.

As jy jou kruisie hard wil laat praat, gee dit vir die mense wat jou boodskap die beste gaan oordra. Ons het nie meer nodig om tussen die “beter een van twee duiwels” te kies nie. Kies die party wat jy weet jóú belange gaan verteenwoordig. Eers wanneer ons dit doen, sal ons die ware waarde van demokrasie ontdek. Eers dán sal ons die gaping tussen Demos (mense van ʼn demokrasie) en Kratos (God/soldaat van oorlog) kan oorbrug en ʼn suksesvolle en volhoubare nasie kan bou.

Ek en jy het op Mei die geleentheid om ons stem te laat hoor. Ons het nie nodig om in te val by die “modieuse” opsies nie, maar kan gaan en seker maak dat ons stem nie uitgedreun gaan word deur die Gevaarlike Kalante se Kaskenades nie.

Gaan sê jou ware sê!

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Ek weier om te stem…..het nog nooit….bly in n groot midde-stad in Gauteng,en ek was nog nooit aangeteken in n sensus nie….niemand het nog ooit aan my deur kom klop om uit te vind hoeveel mense en van watse nasionaliteit/ras woon in my 5 slaapkamer huis nie….hoekom moet ek nou eweskielik stem…ek is mos van die radar af…….hahahaa…lol.
.
.

Stephan ·

Dis is wel jou reg om nie te stem nie. Onthou net, geen stem is net so goed as ‘n stem vir die regerende party. Ek staan maar eerder in die ry en doen my deel, al is dit net ‘n klein deel…

Oupa Gert. ·

Verbasend aan wie ek my verantwoordelikheid van land se bestuur sal will oordra na vyftig jaar. Briekstreep of Arno. En verwag van elke nie-rooi jeugdige om die land vir jou kleinkindders op te pas.

Dries du Toit ·

Voorwaar n slim koelkop man. My vertroue in die jeug het pas n groot hupstoot gekry.

Vintcent ·

Die toekoms vir die witmens in SA lê nie by die stembus nie, tensy jy dink dat politici is opregte, eerlike mens en jy bereid is om hul salaris met jou belasting te betaal en jou spasie te deel met moreel bankrot mense.

Jerry ·

Wanneer die parlement aanhoudend ontwrig word veroorsaak dit verandering van die bestaande na iets anders. Die chaos in die parlement kring ook uit na gemeenskappe. Die gevaarlike kalante wat na verwys word is gevaarlik mbt die idees wat hulle versprei. Hulself is lafhartig en skuil agter idees, getalle, hulle is uitgeslape toneelspelers. Self is hulle egter tot niks instaat van dit wat hulle kwytraak, omrede ongeloofwaardige idees gepaardgaan met valse bravade. Kan hulle idees gekeer word in die parlement, kan wetgewing wat hulle voorle gekeer word? Tans is dit nog net die grondwet en in n al hoe mindere mate die howe wat kleiner partye kan inspan om die toneelspelers se idees te keer. So ja, kleiner partye speel tans nog n uiters belangrike rol indien hulle daar is om te dien met suiwere motiewe deur die regte dinge, reg te doen. “You can kill the man, but not the idea”! Hierdie revolusionere idee kan nie substansie kry nie, slegs en indien ongeloofwaardige idees deur geloofwaardige idees getroef word. Dit is waar die stryd uiteindelik gewen of verloor word. Steve se standpunt dat swartmense die eintlike argitekte van apartheid is, is n kwaadwillige idee en veralgemeen en is dus ongeloofwaardig en n teenproduktiewe idee. Dit sou n goeie idee gewees het indien hy name kon koppel, dan sou dit n geloofwaardige standpunt wees wat nie getroef kon word nie! Die idee moet dus wees om ongeloofwaardige idees met geloofwaardige idees te troef, dan verslaan jy die idee/valse bravades!

Annie Webb ·

Ek woon gelukkig in ‘n stad en provinsie wat puik bestuur word deur die DA. Ek hoef dus nie tevrede te wees met ‘n klein partytjie wat oor my klein groepsbelange in die parlement práát terwyl niemand luister nie. Ek begryp eerlik nie sulke benoude denke nie. Die ANC en sy sosialisme is ons almal se vyand en die DA is die enigste party wat die ANC kan teenstaan. Dit gaan oor ons land se belang, nie groepsbelange nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.