#JongStemme: Koalisies moet verwelkom, nie verwerp word nie

Deur Reuben Coetzer

Reuben Coetzer (Foto: Verskaf)

Prince Mashele speel oop kaarte daaroor in sy Daily Maverickartikel dat Suid-Afrika tans in sy tweede politieke oorgang is.

Hierdie oorgang is egter heeltemal anders as die eerste oorgang van 1994 – waarin die gruwelike apartheidsmantel afgehaal en vervang is met ʼn demokratiese mantel. Een wat talle Suid-Afrikaanse burgers hoop gegee het. Dit sou die begin wees van ʼn verenigde, suksesvolle Suid-Afrika waar ons land werklik tot sy volle potensiaal benut sou kon word.

Talle het gehoop dat hierdie oorgang die weg sou baan vir ʼn toekoms vir elke burger. Een waarin elkeen in dié demokratiese bestel ʼn plekkie in die warm Afrika-son sou kry. Waar elkeen ʼn bron van hoop kon wees en ʼn sukses van homself kon maak.

Daardie hoop en optimisme het egter vinnig soos mis voor die son verdwyn. Dié plekkie in die son het ontaard in ʼn koue, donker, Eskomlose hoekie wat uiteindelik veroorsaak het dat ons nou aan die begin van die tweede politieke oorgang staan.

ʼn Oorgang wat eintlik in die laaste paar jaar stadig maar seker na vore begin tree het. Dit is die oorgang van eenpartyoorheersing na veelpartykoalisies. Hierdie fenomeen het vir die eerste keer sy kop in 2016 uitgesteek toe die ANC mag verloor het in talle metro’s. Opposisiepartye het letterlik en figuurlik koppe saamgesit met een doel voor oë, naamlik om die ANC se mag te tem. Hierdie tendens het voortgeduur in die 2021 munisipale verkiesings en uiteindelik die weg gebaan vir ʼn nuwe politieke hoofstuk. Politici en kommentators voorspel ook dat die tendens in die toekoms ook op nasionale en provinsiale vlak, veral in 2024, voortgesit gaan word.

Ons sien reeds in die bestaande veelpartykoalisies, veral in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni, dat daar wel konflik ontstaan tussen koalisievennote. Dit het talle mense die werklike sukses van koalisieregerings laat bevraagteken – baie het dit selfs onstabiel genoem. Hoewel dit van buite mag lyk na bakleiery en onstuimigheid is dit presies wat Suid-Afrika nodig het. Koalisies is die toekoms en ons moet dit verwelkom eerder as om dit te verwerp.

Koalisies verseker werklike aanspreeklikheid tussen koalisievennote en maak die kiesers prioriteit. Ons sien reeds in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni dat geskille tussen die partye ten gunste van kiesers opgelos word. Dit verseker direkte aanspreeklikheid aan burgers en dat alle koalisievennote ten alle tye op hulle tone gehou word.

Die grootskaalse korrupsie, kyk wat oor die afgelope 28 jaar plaasgevind het, is die produk van die enkelregerende party. Koalisies verseker die kieser van ʼn goeie magsverspreiding en verhoed die sentralisering van mag.

Dit mag dalk die regeerproses stadiger maak, maar dit verseker dat berekende besluite geneem word, wat deurdink is en waarvoor partye verantwoordbaar gehou kan word. Dit gaan dus nie meer so maklik wees om net op hulle partymeerderheid staat te maak om hulle mislukkings weg te praat of te verskuil nie.

Laastens verseker dit ʼn ware weerspieëling van die kiesers se wense. Dit laat kleiner partye, wat ʼn 1% of 2 % mandaat gekry het by hulle kiesersblok, toe om ook die geleentheid te kry om aktiewe rolspelers te wees. Ook om werklik aan kiesers, wat oor die algemeen nie verteenwoordig sou word nie, ʼn stem te gee. Is dit dan nie waaroor demokrasie werklik gaan nie?

Daarom móét ons in aanloop tot die 2024-verkiesing beide provinsiale en nasionale vlak koalisieregerings onder die mikroskoop neem.

Ons, as burgers en veral jeugdiges, moet ʼn aktiewe rol speel om eerstens aktief deel te neem aan die 2024-verkiesing. Verder om onsself en ons vriende, familie en kollegas te onderrig oor die verskillende politieke partye en hulle posisies. Dit ten einde te verseker dat ons ʼn verantwoordbare regering daarstel met ʼn mandaat om te regeer waar alle belange verteenwoordig word. Ook waar burgers se maatskaplike en sosiale welstand die eerste prioriteit is, eerder as die voordele en byvoordele wat politici toekom.

Want as elke burger verteenwoordigend voel sal hy/ sy ʼn waghondrol speel en sodoende verantwoordbaarheid in die koalisieregering afdwing en verseker.

Die eerste politieke oorgang in Suid-Afrika het sonder twyfel gefaal. Aan die vooraand van die tweede politieke oorgang het elke stemgeregtigde nou die wysheid en kennis om te weet dat die septer (of die pen) in sy/ haar hand is. Om uiteindelik te verseker dat ons dit hierdie keer regkry en werklik die potensiaal van ons land ontsluit.

Een ding is seker – koalisies is die toekoms. Ons moet hierdie nuwe hoofstuk van ons politieke bestel verwelkom. Dit is die ware weerspieëling van demokrasie in Suid-Afrika en vervul werklik die veelparty-visie wat in ons Grondwet vervat is.

  • Reuben Coetzer is Action SA Gauteng se jeugvoorsitter, Project Youth Suid-Afrika se woordvoerder en ʼn tweedejaar BCom-regstudent aan die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Koalisies werk nie in Afrika nie. Terloops, Mzanzi is in Afrika.

Luxrider ·

Alles goed en wel as die koalisie vernote hulle woord hou en nie veraaiers word as die prys reg is soos met Cope nou in Johannesburg nie.
Die partye moet nou druk vir wetgewing wat ‘n koalisie ooreenkoms wetlik afdwingbaar maak tot die volgende verkiesing. Dit sal verhoed dat hulle manteldraai sodra die prys reg is. Dit is ook nie waarvoor kiesers gestem het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.