#JongStemme: Matriek 2020 op sy kop gedraai!

Deur Dané Taljaard

Dané Taljaard.

Met groot opwinding het ons Matriek 2020 met ambisieuse planne en inisiatiewe op sport-, akademiese- en kultuurterreine aangepak. In ’n oogwink het ons lewens egter handomkeer verander. Drie maande die akademiese jaar in het die pandemie soos ’n dief in die nag ons kom beroof van dít wat veronderstel was om die hoogtepunt van ons skoolloopbaan te wees.

Ek het ’n warboel van emosies ervaar: hartseer, onsekerheid, angs, vrees en teleurstelling. Hoe kon dit gebeur? Hoekom juis nóú? Hoekom in my matriekjaar? Wat van my matriekeindeksamen? Matrieks landwyd se uitkyk aangaande 2020 het drasties verander en die deurmekaardans van emosies het steeds nie bedaar nie.

Matriek is gewoonlik ’n jaar van laastes. Dit breek my hart om te dink aan matrieks wat nooit weer die geleentheid sal kry om met trots vir hul skool se eerste span uit te draf nie of nie die kans sal kry om vir oulaas hul standpunt in ’n debat- of redenaarstoespraak te kan verdedig nie. Ons moes vrede maak met die opsy skuif van enige verwagtinge van dít wat sóú wees en plek maak vir ’n aanvaarding van die realiteit soos dit nóú is. Ons matriekjaar is naak gestroop van al die lekkertes met net akademie wat oorbly. Ek droom al jare oor my matriekafskeid en ek het alreeds my matriekvakansie beplan. Dit voel vir my asof die grendelstaat die slot is waaragter my drome, verwagtinge en planne vir die matriekjaar toegesluit is.

Matriek 2020 is nou ’n jaar van eerstes. Bo en behalwe aanlyn onderrig as ’n eerste, pak matrieks hierdie jaar die uitdagende akademiese jaar in isolasie aan. Daar word ook nie van ons huidige skoolleiers verwag om tradisionele leierskaprolle op gevestigde maniere te vervul nie. Inteendeel, krisistye soos hierdie verg groter aanpasbaarheid en innovasie. Daar word eerder van ons verwag om leiding en hoop aan ons medeleerders te bied en hulle vanaf ’n afstand (in isolasie) te inspireer. Ons word gedwing om kreatief te wees in ons denke en metodes van leierskap deur gebruik te maak van sosiale media. Ek is van mening dat ’n nuwe generasie leiers sodoende gekweek word wat oor ’n paar jaar die volwasse wêreld gaan betree met ’n ander uitkyk op die lewe. Hulle gaan alternatiewe maniere om krisisse te hanteer, na die tafel toe bring.

In onsekere tye kan negatiwiteit, angs en vrees maklik die oorhand kry. Die situasie is heeltemal buite ons beheer. ’n Sterk positiewe ingesteldheid in hierdie tyd gaan deurslaggewend wees. Ek het besluit om hierdie as ’n geleentheid te beskou waartydens ek my aandag op dit waaroor ek wel beheer het kan fokus: my roetine en akademiese verpligtinge. Ek kan nie gister verander nie en ek kan nie beheer wat môre gaan gebeur nie, maar ek het wél beheer oor hoe ek vandag aanpak. Die sukses van die akademiese jaar gaan afhang van ons positiewe ingesteldheid en dit wat ons nóú in ploeg. Ek is seker ons sal die vrugte van ons harde werk tydens hierdie tyd pluk.

Almal het ons aan die begin van die jaar gewaarsku dat ons matriekjaar verby gaan vlieg. Dalk moet ons hierdie tyd wat ons het, eerder in ’n positiewe lig sien. Onder normale omstandighede is my dae propvol, maar ek het nou baie meer vrye tyd om dinge te doen waarvoor ek nie gewoonlik tyd sou kry nie. Ons word ook die geleentheid gegun om kosbare tyd saam met ons families te spandeer voordat ons volgende jaar ’n nuwe wêreld betree.

Ek glo vas dat die matrieks van 2020 vir seker nie hoef te twyfel oor die merk wat ons gaan maak nie. Wat nie doodmaak nie, maak sterk. Ons gaan geken word as die groep wat ten spyte van die pandemie steeds sukses bereik het. Saam pak ons hierdie virus by die horings!

  • Dané Taljaard is ’n matriekleerling aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. Sy is veral passievol oor kultuur, met redenaarstoesprake en debatte as eerste liefdes.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokkie ·

Pragtige oopkopmeisiekind. ‘n Mens is geneig om te vergeet van die geweldige impak wat hierdie grendeltyd op die matrieks het. Soos Dané ons tereg herinner, is matriek op so baie vlakke ‘n buitengewoon spesiale jaar. En om van al die hoogtepunte ontneem te word, is niks minder nie as ‘n ramp. Dit stroop ons matrieks van so baie hoogtepunte en herinneringe van hulle jong lewe. En Dané verwoord hulle emosies so mooi. . My hart gaan regtig uit na hulle en ek het groot begrip vir hulle verlies. Beste wense vir julle.

Vlooi ·

Jy het ‘n punt beet, as pa van ‘n matrikulant sit ook ek met baie gemengde gevoelens oor hierdie jaar, hoewel hy die hoofstroom kurrikulum volg is hy in ‘n privaatskool weens die spesiale aandag wat hy benodig weens ADHD. Dus het ook hierdie aanlyn skool sy uitdagings gehad veral in ag genome dat daar nie regtig tyd is om een tot een te kan kommunikeer nie. Dus maak dit dinge vir hom regtig moeilik. Moet erken dat hy my nogals verbaas het maar is daar ook baie dinge wat op die grond geval het. Ek wil alle matrieks van 2020 sterkte toebid, mag julle die krag van God ontvang om ongeag die uitdagings steeds die beste te wees.

Johannes ·

Wow Dané … jy gee mens sommer weer moed vir die toekoms. Byt vas, wees sterk en dank God vir al die mooi wat ons nog het om voor dankbaar te wees. Jy is ‘n ster meisie … !

BoerSonderRoer ·

Dame is reg. Emigrasie of Volkstaat is haar enigste hoop.

Jaco ·

Waarom kla almal so? Skool is deesdae maklik. Gaan kyk net na die matriek hersiening programme op DSTV. Ek het al en dit vergelyk met wat ek in die ou SA geleer het. Regtig dis nou baie makliker. Minimum slaagvereistes is ook BAIE laer. En daarby kom goed soos dat ‘n leerder ‘n onderwyser amper mag aanrand en daarmee wegkom.

Ronel ·

Goed gesê, Danè! My hart gaan uit na alle skoliere. My oudste is in gr11 wat in opsig self ook ‘n belangrike jaar is (soos elke graad in elke fase van skool en ontwikkeling) EK kan nie anders as om te wonder hoe die hele ding homself sou uitspeel, sou die virus in die 90’s of selfs 80’s ons getref het nie? Hoe sou ons ons skoolwerk kon klaarmaak sonder vandag se tegnologie? Sou ons toegelaat gewees het om werk by die skool te gaan oplaai? Sou ons op ons eie met die skoolwerk moes aangaan en net die rooster volg? Leervakke soos Geskiedenis of Aardrykskunde(behalwe kaartwerk)sou maklik gevolg kon word, maar wiskinde, rek en Skeinat sou ‘n tameletjie wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.