#JongStemme: Om teen die stroom te lei

Deur Juandre de Bruyn

Juandre de Bruyn.

In my laaste jaar en ’n half van studie aan die Universiteit Stellenbosch het ek ’n rol beklee wat baie sal beskou as kontroversieel. Ek sal bieg, om te dien as die voorsitter van ’n AfriForum Jeug-tak, veral aan die Universiteit Stellenbosch, het klomp unieke ervarings ingehou. Ek het gevoel dis gepas om ’n refleksie hiervan te deel.

As voorsitter van ’n vereniging het ek ook gedien op die universiteit se verenigingsraad. Vanjaar het ons as raad gestem om die Black Management Forum-tak op Maties permanent te skors, nadat dit aan die lig gekom het dat hul bestuur skuldig is aan finansiële bedrog deur geld van studente se rekeninge af te trek sonder hul toestemming. Toe ek by die appèlverhoor ook aandring op verdere stappe teen die skuldige individue self, was daar vir my gesê dat die raad nie hieroor mag beskik nie en die universiteit dit self sal hanteer. Sover my kennis strek, het daar sover niks hiervan gekom nie en wil die raad nie die name bekend maak nie.

Dit het my laat dink: Is dit die produk van ’n leefruimte waar linksheid as mode beskou word? Bedrog en misdaad op studentevlak en dit word net toegesmeer omdat dit nie ’n rasse- of haatondertoon het nie? Wie is te bang om hierdie verder te vat?

Hierdie was een van talle voorvalle wat die oë laat rek het. In 2019 wou die primaria van die Nerina-dameskoshuis hul nuut verkose inwonende hoof nie laat aanstel nie, omdat sy wit is en dit nie val onder haar idee van “transformasie” nie. Dit nadat die aansoektydperk reeds verleng was.

Die studenteraad het verlede jaar versuim om hul termyn-en finansiële verslae bekend te maak nadat ons self daarop aangedring het. Hulle het aan Die Burger belowe om dit te doen, maar ons wag nou nog daarop. Intussen is die reg op onderrig in ons moedertaal van ons ontneem en kan ons net hoop vir ’n studenteraadverkiesing waaraan 15% van kampus deelneem. Wat word van die US en waarop pyl ons af? Is passiwiteit onder studente die hoofrede vir hierdie gebrek aan aanspreeklikheid?

Dis ongelukkig die realiteit op kampusse. Daar word geglo dat as jy die media en bekende figure op sosiale media blindelings volg, jy geklassifiseer word as ’n rebel, vegter of “revolutionary” – wanneer dit jou eintlik net nóg ’n skaap maak. Studente maak vreeslike uitlatings op sosiale media oor gebeurtenisse in Amerika wanneer dit opslae maak, maar bly tjoepstil wanneer onreg op eie bodem plaasvind sodra dit jou blootstel aan openbare kritiek. Baie glo dat mens lei deur heeldag kritiek te lewer op Twitter en saans weer weg te kruip in ’n huis omring deur sekuriteit.

Dit word al moeiliker om teen die stroom te swem, maar dis nou meer nodig as ooit. Ons filosofie was nooit om sleg te sê en te breek nie, maar eerder om te veg en te bou. Ek wil dus hiermee gebruik maak van die geleentheid om al die ware rebelle te bedank.

Dankie aan almal wat ons selfverdedigingaksies laat realiseer het; diegene wat die studente wat hul NFHS-beurse (Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente) verloor het, die nodige regshulp sal verleen; almal wat opstaan vir reg en geregtigheid en almal wat nie bang is om teen die stroom te swem nie.

Ek vra dus aan elke nuweling volgende jaar om nie net saam met die stroom te swem nie. Neem inisiatief, luister na albei kante en doen jou deel om geregtigheid te laat geskeid. Dis nóú die tyd om selfdoen te bewerkstellig.

“Jy kan nie ’n reputasie bou op dit wat jy nog gaan doen nie.” – Henry Ford

  • Juandré de Bruyn is die voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak. Hy is tans ’n finalejaarstudent in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johannes ·

Daar is weinig werklike begrip vir die toestand waarin die Universiteit Stellenbosch verval het. Kritiek op die US word nie in die hoofstroom-inligtingsmedia toegelaat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.