#JongStemme: Studente en die kerk

Deur Louis Boshoff

Louis Boshoff

Wat volg is ʼn eenvoudige poging om die verhouding tussen studente en kerke, soos sake tans daar uitsien, te karakteriseer – die bemoedigende en die negatiewe aspekte daarvan – en om dan ʼn paar beskeie voorstelle te maak hoe die status quo verbeter kan word.

Maar vooraf net ʼn paar toegewings: (a) dit spruit uit my persoonlike, onprofessionele ervaring en moet dus nie as evangelie beskou word nie (alhoewel ek by die evangelie ook sal uitkom), (b) die doel is nie om een kerk of kerkverband uit te sonder nie en daar kan later ʼn teologiese debat gevoer word oor die suiwerste metode van kollekte-opname onder die erediens – vir eers is ek dankbaar vir almal wat vír ons is en nie téén ons nie (Markus 9:40), (c) tog beteken dit nie dat alle kerke ewe Skrifgetrou is nie en het ek ook self die keuse uitgeoefen om by ʼn bepaalde gemeente my gawes te deel en daar onderrig te word – noodwendig dié gemeente wat ek reken die mees Skrifgetrou is, (d) ek sentreer my gesprek rondom Afrikanerstudente, bloot omdat dit dié groep is wat ek die beste ken, (e) laastens is my ervaringe natuurlik beperk tot die kampus waar ek studeer.

Met bogenoemde in gedagte, ʼn paar algemene waarnemings:

Kerk toe gaan verdien meestal ekstra sosiale punte, maar is baie selde ʼn vereiste. Anders gestel, dit word as deugdelik beskou om kerk by te woon, maar dis darem nie ʼn skande om weg te bly nie. As jy vertel van jou betrokkenheid by die kerk, of van die erediens of Bybelstudie of uitreik waarheen jy op pad is, word daar meestal met agting – of selfs bewondering – gereageer, maar as jy op ʼn Sondagoggend in die koshuis sou vertel dat jy heeldag gaan swot omdat jy gister net gekuier het, sal dit geen kritiek of vermaning ontlok nie. Selfs in kringe waar kerkbywoning die norm is, is byna enigiets ʼn “geldige” verskoning om een keer weg te bly.

Dus is die studentekultuur ontvanklik teenoor kerke en dié beklee selfs ʼn spesiale hoekie, maar die kerk is geensins gedug genoeg om die koers van die kultuur te bepaal nie – nie die weeklikse roetine nie, nie jou kanse om iewers verkies of bevorder te word nie en beslis nie die sosiale norme soos die keuse van musiek of kleredrag nie.

Dit bied natuurlik een voordeel, naamlik dat byna niemand onder valse voorwendsels by die kerk sal opdaag nie. Die wat daar is, is daar uit opregtheid. As kerkbywoning nie jou kanse om HK te kry gaan verbeter nie, gaan jy óf kom vir die aanbidding en woordbediening, óf wegbly, en boonop is geen ouers daar om kinders te verplig om teen hul sin kerk by te woon nie.

Die hartseer hiervan is weer dat dit baie moeilik word om binne en buite die kerk deel te neem. As jy lid is van ʼn komitee, sportspan of kunstevereniging (of meer as een daarvan), moet jy nie verwag dat daar ruimte gelaat gaan word vir jou om by elke erediens te wees en nog in die week aan ander geleenthede by die kerk deel te neem nie. Dus verkies sulke studente dikwels om eerder heeltemal weg te bly by die kerk, sodat hulle nie elke nou en dan vermaan sal word om meer daar betrokke te wees nie. Omdat kerke op hul beurt nie invloedryk genoeg is om hierdie tendens te verander nie, verkies hulle eerder om hul bediening te fokus op dié wat reeds onbetrokke is in die “sekulêre” studentelewe en neem dan soveel as moontlik van dié se lewens in beslag. Anders gestel, die kerkkamp en jou koshuis se “Pa en seun” is op dieselfde naweek – die een weet nie van die ander nie – en jy is onder druk om jou volle gewig by die een óf die ander in te gooi.

Volgende: onder die studente is daar nie tans iets soos ʼn oorheersende kerkverband of gemeente nie. Net in my direkte kontakkring kry ek te doen met betrokkenes by ten minste 11 verskillende gemeentes, en nie een daarvan kan aanspraak maak daarop om die spreekbuis van Christenstudente op kampus te wees nie. Dis miskien ʼn goeie ding, want elkeen is vry om volgens sy gewete kerk te kies en sal geen verwerping van die samelewing ervaar deur een gemeente bo ʼn ander te verkies nie. Tog is die werklikheid dat die verskillende gemeentes mekaar maar sleg ken en heel verskillende tale praat. Die een het ʼn Bybelstudie en die ander ʼn homecell. Die een het ʼn lofsangaand en die ander ʼn praise & worship. Die een ʼn koffiekroeg en die ander ʼn fellowship. Dus verkies baie Christenstudente om eerder te gril oor die eienaardighede van ʼn ander gemeente, as om bly te wees oor elkeen daar wat glo in die Naam van Jesus Christus.

Laastens kan ek nie nalaat om te noem watter groot voorreg dit wel is om lidmaat van ʼn studentegemeente te wees nie. Dit bied verskeie geleenthede wat beswaarlik onder “volwasse” gemeentes daar buite te vinde is: meer medegelowiges van jou portuur, meer staptoere, kampe en uitreike, vroliker sang en meer spontane sosialisering by die kerk. Allermins dié eienskappe wat deurslaggewend is, maar nogtans ʼn groot vreugde om aan deel te hê.

Bogenoemde waarnemings skets nog net ʼn vae prentjie en daar is natuurlik talle uitsonderings. Verder word die saak gekompliseer deur die demografiese verskuiwing op kampus, studente wat meeste naweke huis toe gaan, sporadiese oplewings (lees: die eerste twee weke na eerstejaarskampe) en, in die afgelope drie jaar, Covid-19-inperkings. So ek sou dit nie waag om uitspraak te lewer dat dinge net ál slegter of ál beter gaan nie, maar my aanvoeling is dat kerkbywoning onder studente tog relatief hoog is tot die res van die bevolking.

So vaag as wat die prentjie nog is, glo ek dit stuur ons al in ʼn rigting om ʼn paar stappe te identifiseer wat sal bydra om die uitdagings wat studentegemeentes in die gesig staar, op te los:

Een. Bid vir die kerk op jou kampus (Filippense 1:3-6).

Twee. Bid vir dié wat die kerk vervolg – direk of indirek (Matteus 5:44; Lukas 6:28).

Drie. Bid vir die leierskap van jou kampus (1 Timoteus 2:1-2). (Stap 2 en 3 mag dalk dieselfde wees.)

Vier. Verkondig die evangelie tydig en ontydig (2 Timoteus 4:2). Tydig soos hier: de laaste van die tienduisende studente op jou kampus het teen God gesondig en verdien uit eie werke niks anders as die hel nie (Romeine 3:23, 6:23). De laaste een kan slegs deel kry aan die verlossing en ewige lewe deur ʼn ware geloof in Jesus Christus (Handelinge 4:10, 12). En de laaste een van dié wat gered is, sal met blydskap by die kerk van die Here aansluit (Handelinge 2:47).

Vyf. As jy verpligtinge in die studentelewe het, moenie skaam wees om sommige daarvan na te laat of te verskuif ter wille daarvan om by die kerk te wees nie. Die Here beveel jou om in sy huis saam te kom (Hebreërs 10:25) – Hy het nie toestemming nodig van jou afrigter, prim, dosent of rektor nie.

Ses. As jy in die bediening by ʼn studentegemeente is, doen moeite om te weet waarmee studente hulle besig hou. Sommige studente-aktiwiteite is Godverheerlikend, en kerklike verpligtinge hoef nie ʼn hindernis te wees tot deelname daaraan nie, maar sommige studente-aktiwiteite is sondig en die kerk moet die sonde daarvan uitwys, ter wille van die Here se kinders self. Die kerk moet gelowige studente toerus om ʼn getuienis te wees in hul alledaagse studies en ander deelname.

En om dit ʼn Bybelse sewe te maak. Die kerk kan nie ʼn totaal geïndividualiseerde godsdiens voorhou nie. Laat die kerk ʼn Skriftuurlike lig werp op al die kwessies van die dag wat studente raak – of dit nou sosiaal, ekonomies of polities is. Ja, die Bybel is al baie misverstaan oor sulke sake en ja, dit is al misbruik deur sektes, maar die hele raad van God moet verkondig word (Handelinge 20:27). Dis juis wanneer studente in die kerk niks anders hoor as hul persoonlike verhouding met die Here nie, dat hulle voel dis goed genoeg om die Here alleen te aanbid sonder om kerk by te woon. Die Here se Woord en Gees verander die harte van individue, maar verander ook die politiek en kultuur van nasies en kampusse (Romeine 15:10-12; Jona 3:5-10).

Dus is my algemene oproep die volgende: as die kultuur of morele peil van die samelewing – jonk en oud – vir jou kommerwekkend is, kyk dan na die kerkbywoning en besef dat dit ʼn groot bepaler hiervan is.

Psalm 122:1 – “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die HERE’.”

  • Louis Boshoff is besig met ʼn meestersgraad in farmasiepraktyk aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy is ʼn inwoner van Veritas-manskoshuis en voorsitter van die NWU-rotsklimklub, maar vind sy groot vreugde in die gemeenskap van gelowiges by die kerk.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Mooi geskryf, gaan alles oor prioriteite, nie een of ander meesterlike verskoning oor hoekom jy nie in die erediens kan/wil/hoef te kom nie.
En SOEK vir jou ‘n gemeente waar suiwer Woordverkondiging is, die sakramente gebruik word soos in die Woord voorgeskryf en die tug in liefde toegepas word (NGB 29)

Elma ·

KAn sien die artikel is baie goed nagevors, maar ek het moeilik aan hom gelees. seker maar bietjie dom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.