#JongStemme: Vaarwel akademiese standaarde…

Deur Shawnaé Freemantle

Shawnaé Freemantle (Foto: Verskaf)

Op 19 Julie 2022 verskyn die volgende hoofopskrif in die nuus: “Minder leerlinge neem deesdae wiskunde en fisiese wetenskap op skool en weens die lae getalle het sommige Wes-Kaapse skole dié vakke heeltemal laat vaar.”

Hierdie woorde is ʼn groot terugslag – soos ʼn dolk in die hart vir die akademiese wêreld. Wat het geword van uithouvermoë en ambisie?

Die Wes-Kaap se besluit om fisiese wetenskap en wiskunde as vakke te skrap, laat ʼn geweldige bitter smaak in my mond. Ja, hierdie twee vakke het wel vir hulself ʼn negatiewe reputasie ontwikkel, omrede dit beskou word as van dié uitdagendste vakke wat op skool geneem kan word. Na my mening is dit juis hierdie vakke wat vir jou vele toekomstige deure kan oopmaak. Kyk nou maar net na studierigtings soos medies en ingenieurswese, waar wiskunde en wetenskap die basis van hierdie velde vorm.

Nie net is hierdie vakke belangrik vir ʼn loopbaan of ʼn toekoms nie, maar stel dit ons ook in staat om belangrike ‘sagte’ vaardighede en lewensvaardighede te ontwikkel. Soos byvoorbeeld, kreatiewe probleemoplossing, om ‘buite die boks’ te kan dink, hoe om uitdagings te benader en te hanteer, dissipline, logiese redenering en definitief geduld, om net ʼn paar te noem.

Ons land staar tans ʼn reuse-uitdaging van werkloosheid in die gesig en daar bestaan ʼn groot behoefte aan geskoolde werkers. Tog kies ons steeds om die hasepad te vat wanneer iets, soos byvoorbeeld wiskunde en wetenskap, ons vermoëns ʼn bietjie uitdaag. Die maklike uitweg is mos die gerieflike uitweg.

“Ek het nog steeds nie weer algebra of trigonometrie in my lewe gebruik nie.” “Wat gaan dit my in die toekoms help om “y” se “x”  vir hom te vind?” Ons as samelewing is té geneig om mekaar te beïnvloed en te oortuig dat wiskunde en wetenskap moeilike vakke en onbelangrik is, want ons gaan dit nooit weer gebruik nie. Dit terwyl ons mekaar juis moet aanmoedig om deel te neem aan hierdie vakke. In plaas daarvan om leerders af te raai en te oortuig om eerder nie hierdie vakke te neem nie, moet leerders aangemoedig word om dit te neem. Dit is waar onderwysers en lede wat betrokke is by opvoedkunde se rol en positiewe invloed moet inkom.

Die Wes-Kaapse skole se besluit om hierdie twee vakke te laat vaar, het vele leerders van goeie toekomstige loopbaangeleenthede beroof, maar selfs meer – watter tipe voorbeeld stel hierdie besluit vir die jeug en ander toekomstige generasies? Dat dit oukei is om maar tou op te gooi? Dat dit aanvaarbaar is om die akademiese standaarde só te verlaag sodat net die blote minimum nodig is om te slaag?

My pa vra my altyd die volgende: “Wanneer ʼn dokter jou moet behandel, verkies jy ʼn dokter wat al die studiemateriaal bemeester het, of ʼn dokter wat net 50% van die studiemateriaal bemeester het?” As ek vandag hierdie vraag moet beantwoord, verkies ek definitief ʼn dokter wat wiskunde en fisiese wetenskap geneem het op skool!

Theodore Roosevelt het eens gesê: “Nothing in the world is worth having or worth doing unless it means effort, pain and difficulty.”

  • Shawnaé Freemantle is 21 jaar oud en is ‘n tweedejaar BCom Ondernemingsbestuur-student aan Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Groen Ghoen ·

Tragies. Dit is waarom ons is waar ons is, en gaan bly waar ons is – die hoogste werkloosheidskoers. Bou aan Akademia en selfonderrig. Vergeet van die Staat en al sy mislukte strukture.

Karel Kobus Kruger ·

Dis hoekom die wêreld is waar hy is. Dink net as alle wêreldleiers hoogs intelligente chirurge, chemiese ingenieurs of aktuarisse was. Maar helaas, die meeste het maar net LLB of (nog erger) BA graadjies.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die top struktuur van die Chinese kabinet is almal ingenieurs. Al vir meer as 30 jaar is dit so. Jy sal begryp hoe klink daai kabinets vergaderings se besprekings. Leiers daar reken ander lande se leiers is ongeletterd.

annie ·

Akademia se grootste taak is om wêreldwye akkreditasie te bekom sodat hul studente werk kan kry…. elders. Dit is lekker om in jou huistaal te studeer maar Afrikaans se reikwydte is beperk. Brittanje het sy mag so uitgebrei dat Engels orals (vir hul gerief) gebruik word. Al pak ons ons waens en trek. Nêrens sal die tentakels van ander tale en kulture ons nie inhaal nie. Israel doen moeite om sy taal te behou buiten Engels.

Snowball ·

Om toelating te verkry by ‘n universiteit om medies te studeer moet jy Wiskunde en Fisiese Wetenskap in gr 12 as vakke hê. Jy gaan definitief nie dokters teëkom wat nie daardie vakke gehad het nie. Behalwe miskien toordokters.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar wat help dit jy neem daai vakke maar kry nie toelating om te studeer in die rigting van jou drome?

Ai tog ·

Jy praat nie heeltemal die waarheid nie! Die Wes Kaap het nie besluit om die vakke te skrap nie, gaan lees weer die artikel. Sommige skole het so besluit, dit kan net 2 skole ook wees, jy veralgemeen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.