#JongStemme: Waag om te lei

Deur Nádine Grant

Foto ter illustrasie. (Foto: Jehyun Sung/Unsplash)

Om ʼn leier te wees, beteken nie jy moet ʼn titel hê nie en om ʼn titel te hê, maak jou nie outomaties ʼn leier nie.

Enigiemand kan ʼn leier wees. Die probleem is daar is so min mense wat die nodige harde werk wil doen om een te wees. Dit is baie maklik om bevele te gee, gesag te misbruik of mense eenvoudig te dreig. Dit verg egter harde werk om mense te motiveer, inspireer en mentor.

Die fantastiese deel van leierskap is dat jy nie ʼn titel nodig het om te bewys dat jy ʼn leier is nie. Mense volg nie leiers omdat hulle ʼn titel het nie. Mense volg leiers omdat hulle die passie, waardes, visie en inspirasie het.

Leierskap gaan daaroor om mense te inspireer om in hulself, hul gawes, hul potensiaal en iets veel groter as hulle eie selfbehoud te glo. Simon Sinek, ʼn inspirasie-spreker oor besigheidsleierskap, het dit goed gestel: “ʼn Leier is iemand wat laaste praat om almal ʼn geleentheid te gee om te voel dat hulle gehoor word”.

Vat die volgende as ʼn voorbeeld:

Jy as leier loop in ʼn vergadering in en jy sê vir die span: “Hierdie is die probleem en dit is hoe ek dink dit opgelos moet word. Wat dink julle?”. Dadelik beïnvloed jy die span se denke onbewustelik omdat hulle dink dit is die enigste uitweg. Kom ons draai die situasie om en jy as leier stap in die vergadering in, verduidelik die probleem en vra die span vir hulle menings oor die oplossing.

Deur dit te doen, skep jy ʼn omgewing waarin spanlede voel dat hul ingesluit word en dat hulle mening tel. Dit skep ook ʼn geleentheid vir jou as leier om dinge uit ʼn ander perspektief te sien. Om dit anders te stel: ʼn Leier is iemand wat eers luister en dan praat.

Leiers is mense wat ʼn veilige omgewing skep vir ʼn span, ʼn plek waar hulle gemaklik genoeg voel om hul eie potensiaal te ontwikkel en gemotiveerd voel om dit te doen. Dit sal ook veroorsaak dat die mense werk toe wil kom, omdat hulle dit geniet om by die werk te wees en rondom leiers te wees wat hul toelaat om hulle eie waarde raak te sien.

Nádine Grant (Foto: Verskaf)

Die grootste geskenk wat leiers vir mense rondom hul kan gee, is tyd. Die tyd wat leiers opoffer om mense positief te beïnvloed, is meer werd as al die geld in die wêreld. Een van die dinge waarvoor baie mense bang is, is die onbekende. Leiers gaan egter die onbekende eerste in, hulle neem die risiko. Die bekende Elon Musk het eens gesê risiko is die prys wat jy betaal vir geleenthede. Hulle stel die voorbeeld vir ander en sonder dat hulle dit weet, motiveer hul die mense om hulle om dieselfde te doen.

Leiers moet weet hoe om ongemaklike gesprekke te voer om enige negatiewe kultuur binne ʼn besigheid te verwyder. Iets so klein soos ʼn wit leuentjie kan ʼn kultuur van leuens skep wat is waarom dit belangrik is dat ʼn leier moet kan kommunikeer.

Onthou leierskap gaan nie oor jou nie, maar oor die mense rondom jou. Ons kort meer leiers soos diegene wat op sal staan en ʼn verskil wil maak in besighede – leiers wat ander leiers ontwerp. Ek wil mense uitdaag om na vore te kom en dit te waag om te lei.

  • Nádine Grant is ʼn praktykbestuurder wat haar honneursgraad in besigheidsbestuur voltooi het deur Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Interessante skrywe.Leierskap lyk baie maklik teoreties,maar in praktyk is dit heeltemal ‘n ander scenario.Mens kry baie soorte leiers elk met verskillende persoonlikhede.Na mening moet ‘n leier die mense persoonlik ken met wie hy werk.So ‘n leier moet leierskapskapasiteit besit vir ‘n spesifieke taak of werk wat gedoen moet word.’n Leier moet ook beslis kennis besit oor dit wat hy lei.Daar is niks so frustrerend soos ‘n leier wat nie kennis het oor dit wat gedoen moet word nie.Hy moet mense verhoudings besit en ‘n bestuurde oop deur beleid.Die geskikste persoonlikheid en geaarheid van ‘n persoon met kennis is die belangrikste sleutel vir doeltreffende leierskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.