Jou gids tot die Amerikaanse midtermynverkiesing

Die Amerikaanse president, Donald Trump, praat met verslaggewers by die Wit Huis in Washington DC. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Dinsdagnag gaan geen politieke agie ʼn oog toemaak nie want die Amerikaanse midtermynverkiesings – en die verdeelde VSA se oordeel oor pres. Donald Trump – gaan politieke pitkos soos min wees.

Trump self is op geen stembrief nie – hy het nog twee jaar van sy termyn oor, maar sy son of sy skadu, afhangend van jou politieke voorkeur, val vierkant oor elkeen van die wedlope om goewerneurskappe, die Senaat en die Raad van Verteenwoordigers, en kan Trump se beleidstrajek vir die volgende twee jaar grootliks bepaal.

Die belangrikste van Dinsdag se verkiesing is die uitslag in die Senaat en die Raad van Verteenwoordigers, en belangstellendes kan hulle gereed maak vir naels kou, want die beheer oor albei hang aan ʼn draadjie. Een derde van die Senaat word elke ses jaar verkies, so vanjaar is 33 setels op die spel, en elkeen van die 435 setels in die Raad van Verteenwoordigers hou ook verkiesing.

Tans beheer pres. Trump se party, die Republikeine, sowel die Senaat as die Raad van Verteenwoordigers. In kort is die verwagting tans dat die Republikeine hul beheer oor die Senaat kan behou en selfs versterk, maar dat hulle beheer oor die Raad van Verteenwoordigers sal afstaan aan Trump se meer linksgesinde opposisie, die Demokrate. Dit kan Trump se beleidsagenda ernstig kniehalter, want hy sal dit baie moeiliker vind om sy beleidsvoorstelle oor die eerste hekkie, ‘n Demokraat-beheerde Raad van Verteenwoordigers te kry, veral omdat sy aanvallende styl nie juis samewerking in die hand werk nie.

Dat die Republikeine die Senaat kan wen en die Raad van Verteenwoordigers kan verloor in dieselfde verkiesing, is nie so teenstrydig of moeilik om te verstaan as wat dit op die oog af mag lyk nie, en setel in hoe elke liggaam saamgestel word.

Trump het naamlik nog nooit meerderheidsteun geniet onder Amerikaanse kiesers nie. Hy het minder stemme as sy teenstaander, Hillary Clinton, tydens die 2016-verkiesing, maar haar binne die kieskollege geklop weens die federale aard van die Amerikaanse stelsel, wat in die praktyk beteken dat plattelandse stemme swaarder weeg as stedelike stemme – ʼn stelsel wat wettig en vanuit ʼn federaal-gesetelde oogpunt weliswaar verstaanbaar en wettig is, maar beslis nie demokraties nie.

Eenvoudig gestel geniet die Republikeine sterker steun in konserwatiewe, homogene, plattelandse deelstate van die VSA, en die Demokrate sterker steun in die meer liberale, veelrassige, stedelike VSA-deelstate.

Een van die kenmerke van die Trump-era is die groter verdeeldheid tussen hierdie twee bestaanswerklikhede, en daarin lê die verstaan van die verwagte op-die-oog-af-teenstrydige verkiesingsuitslag opgesluit. Op die keper beskou beteken die Amerikaanse interne maatskaplike verdeeldheid dat dit sosiaal al hoe meer onaanvaarbaar raak om Trump te steun in oorwegend Demokratiese deelstate, en al hoe meer sosiaal onaanvaarbaar om Trump te opponeer in oorwegend Republikeinse deelstate.

Die geheim van die oënskynlik teenstrydige uitslag is dat die Senaat federaal saamgestel word, op grond van die hoeveelheid deelstate en onafhanklik van hoeveel mense daar bly, en die Raad van Verteenwoordigers in groter mate op grond van hoeveel mense in ʼn gebied woon, sodat dit aansienlik meer verteenwoordigend van die nasionale kiesersvoorkeur is.

So byvoorbeeld het Kalifornië, met meer as 39 miljoen kiesers, presies soveel senatore as Alaska, met minder as ‘n miljoen kiesers. Maar in die Raad van Verteenwoordigers het Kalifornië 55 verteenwoordigers en Alaska net een.

Wat ons nou Dinsdagnag moet dophou, is hoe Republikeine in oorwegend Demokratiese state in die Raad van Verteenwoordigers vaar, en hoe Demokrate in oorwegend Republikeinse state in die Senaat vaar.

Die gebiede waaroor Republikeine bekommerd behoort te wees, is relatief welvarende voorstedelike setels vir die Raad van Verteenwoordigers in deelstate soos Kalifornië, New Jersey, New York en Pennsilvanië.

Hierdie is gebiede waar mense nog al die jare Republikeins gestem het omdat hulle fiskaal konserwatief – dus vir ‘n kleiner staat en minder belasting – was, maar maatskaplik meer liberaal is en Trump dus sosiaal onaanvaarbaar vind. Daar is genoeg sulke setels om die Raad van Verteenwoordigers na die Demokrate te swaai, tensy die Republikeine nogmaals die meningspeilers verras deur hul steunbasis beter as die Demokrate s’n te mobiliseer en die wit werkersklas te kry om, en dit word nie verwag nie maar dit is ook nie in 2016 verwag nie, teen die Demokrate te draai ten gunste van Trump in die geïndustrialiseerde Midwestelike state soos Michigan, Pennsilvanië en Ohio.

Wat die Senaat betref, lyk die posisie vir die Demokrate benard. Dieselfde 33 setels as ses jaar gelede is op die tafel, maar die situasie is geheel en al anders. Ses jaar gelede in 2012, was die jaar toe oudpres. Barack Obama tot president verkies is teen Mitt Romney, en die Demokrate oorpresteer het in die Senaatsverkiesing.

Daar is vier Senaatsetels waar die Demokrate ‘n sterk kans staan om setels teen die Republikeine in te boet, te wete in Noord-Dakota (waar die Demokraat Heidi Heitkamp regtig in die moeilikheid is), Missouri (waar die nogal linkse Demokraat Claire McCaskill ‘n opdraande stryd stry), Wes-Virginië (wat deesdae so Republikeins stem dat selfs die knap Demokratiese senator Joe Manchin dalk net in die hek kan duik) en Florida (‘n ware bloubloed-stryd tussen die Demokratiese senator Bill Nelson en die staat se Republikeinse goewerneur, Rick Scott).

Aan die ander kant lyk dit asof die Republikeine ‘n Senaatsetel kan verloor in Arizona, waar die dienende Republikeinse senator, Jeff Flake, homself nie weer verkiesbaar gestel het nie.

Die Demokrate, wat vanjaar 25 Senaatsetels verdedig teen die Republikeine se agt, hoop ook op ander oorwinnings, byvoorbeeld in Texas, maar dit lyk al hoe meer onwaarskynlik.

Drie vreemde uitslae moet verreken word. In Mississippi is daar soveel kandidate dat niemand waarskynlik meer as 50% van die stemme sal kry nie, wat beteken die twee sterkste kandidate sal mekaar waarskynlik aanstaande maand in ‘n tussenverkiesing pak, met die sterkste Republikein wat waarskynlik dan sal wen.

En dan is daar twee onafhanklike senatore wat waarskynlik hul setels sal behou – Bernie Sanders in Vermont en Angus King in Maine. Hoewel hulle amptelik onafhanklik is, koukus hulle saam met die Demokrate en is hulle baie sterk teen Trump gekant, so mens kan hulle eintlik maar saam met die Demokrate reken.

Verskeie bekendes gaan waarskynlik hul setels in die Senaat maklik behou, waarvan Dianne Feinstein in Kalifornië, Elizabeth Warren in Massachusetts en Tim Kaine in Virginië waarskynlik die hoogste profiele het.

Aan die Republikeinse kant is die verwagting dat Mitt Romney vir die eerste keer tot die Senaat verkies sal word in die deelstaat Utah, as plaasvervanger vir Orrin Hatch, wat ná 42 jaar as senator uitgetree het.

In kort kan mens senaatsoorwinnings verwag vir die Republikeine in Noord-Dakota, Utah, Wyoming, Texas, Nebraska, Mississippi (twee setels), en Tennessee, met naelbyt-uitslae in Arizona, Missouri en Florida en buitekanse vir die Republikeine in Indiana, Wes-Virginië en Pennsilvanië (as die wit werkersklas weer rebelleer) en gemaklike Demokratiese oorwinnings oral anders, wat die Republikeine in beheer van die Senaat sal laat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

jannie ·

Ek kan nie wag om te sien wat die uitslag gaan wees nie…..die Democrats is weereens baie positief…….Go REPUBLICANS!!!!!!

Jerry ·

Indien die republikeine beheer oor die Raad van Verteenwoordigers afstaan beteken dit dat Trump vir elke tree vorentoe, twee tree agteruit gaan gee. Dit gaan n absolute gatslag wees vir regse oplewing in Amerika sowel as in SA, omrede daar dan na slegs 2 jaar oor, n volskaalse oorwinning wink vir die vrye denkers! Jan Jan is reg as hy se dat dit nou naels kou tyd is vir die Republikeine, maar meer so vir die regse bewegings in SA.

Judge Dredd ·

Die wat hulself liberaal noem is lankal nie meer vrye denkers – eerder beskuldig hulle die wat van hul verskil(vrye denkers) van fascisme/rasisme.

Charles ·

‘n Massiewe oorwinning vir Pres. Trump en die Republikeine word voorspel- Sien Larry Schweikart – ‘n deskundige op verkiesingsgebied- op sy Twitter “feed” vir die nuutste.

#STRAIGHT REPUBLICAN TICKET

Judge Dredd ·

CNN en die liberale media voorspel seker al klaar ‘n groot oorwinning vir die Demokrate.

Deplorable ·

Ek hoop ook duimvas vir die Republikeine. Die Demokrate is te links na my sin, en dit is asof alle “common sense” hulle verlaat het.

Therese ·

Skitterende uiteensetting van hierdie opwindende gebeure!
Hoop régtig die Republikeine sorg wéér vir ‘n opskudding.

Twakkie ·

Laat die Republikeine asseblieftog albei Huise behou, met groter meerderhede as tans. As die Demokrate die Congress oorheers, gaan die ekonomie botstil staan of “tank” en onwettige immigrante gaan die land versmoor. En die konserwatiewe bewegings oral in die wêreld gaan moed verloor. Mens kan net hoop gewone Amerikaners hou kop. Lyk wel asof baie voorheen Demokrate besef het hulle skiet hulself en die “Amerikaanse droom” in die voet as hulle aan die linkse ideologie bly vasklou. Dis nou nét suksesvolle kapitalisme teen mislukte sosialisme. Die res is onbelangrik.

ZAR ·

Dit alles hang af van watter nuus kanaal die hardste geskree het. Hier in Suid-Afrika hoor ons net slegte goed van Trump, party van ons delf dieper en vind uit wat altwee kante van die storie is, maar dis die minderheid, die meerderheid word gelei na hul opinie. Hopelik is Amerikaners wyser, maar van wat ek al gesien het lyk dit asof die demokrate hierdie een gaan voor loop, veral nadat soveel akteurs hul steun gee vir die demokrate en nie ‘n oomblik laat verbygaan om vir trump sleg te sê nie.

Christiaan Jooste ·

Ek kan nie verstaan hoekom ‘n Trump oorwinning nou juis vir konserwatiewes in SA enige voordeel sal inhou nie. Van wanneer af is die Republiekeine in elkgeval begaan oor enige iets wat buite die VSA gebeur behalwe as dit voordelig is vir die VSA? Vesrstaan my mooi, ek het bewondering vir dit wat Trump vir Amerika vermag het, maar dit het geen effek vir die Afrikaners in SA wat gebuk gaan onder effektiewe misdadigheid nie.

JAN ·

Dankie vir mooi verduidelik.
Kan dieselfde staatsmodel nie op SA toegepas word nie? Senaat vir al die tuislande en Volksraad vir al die kiesers.
Die Boerestate kan soos Alaska wees.
VSA klink soos Verwoerd se plan sonder tabak.

anton ·

Mnr. Trump is n YSTER en ek hoop regtig sy party wen sommer baie ver, nog verder as voorheen!!!
Indien nie, is die meeste amerikaners darm wraggies blind!!!

Frans C ·

Dit sal interressant wees om te sien hoe die Demokrate en Republikeine gaan reageer
as die 7000 sterk immigasiekaravaan uiteindelik by die grense van Amerika opdaag.

Indien die mense wel toegelaat word om menslikheidredes is daar ;n groot moontlikheid dat Amerika soos Europa oorstroom sal word deur immgrante uit Suid Amerika.

Dat so iets politiek in Amerika verder soos in Duitsland verder gaan verdeel is nie uitgesluit nie.

Mary Nel ·

Dit is hoekom Trump moet inbly. Anders gaan dit vir ons nag wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.