Pieter de Lange skryf:
In ʼn treffende sameloop van omstandighede het die wydverspreide protesoptogte in Kuba in dieselfde week as die vlaag van vernietigende plundering in Suid-Afrika afgeskop. In albei gevalle was dit die grootste omwenteling in dekades.
Ons onthou hoe oudpresident Nelson Mandela altyd die Castro-regime verdedig het en hoe die ANC-regering op Kuba vir mediese dokters en ingenieurs staatmaak in ʼn poging om vir die stringe professionele mense wat reeds die land verlaat het, op te maak.
Die eerste verskil wat ʼn mens oplet, is die duidelike stamgeoriënteerde onluste in Suid-Afrika, waar die onrus omtrent net in KwaZulu-Natal – oudpresident Zuma se tuisprovinsie – en in Gauteng, waar baie Zoeloes werk, plaasgevind het.
Die ander opvallende verskil is dat Suid-Afrika ʼn demokrasie is, waar die owerhede met ander woorde vrylik gekritiseer kan word. Dit is egter nie die geval in die onderdrukkende Kubaanse regime nie.
Die een ding wat die twee lande egter gemeen het, is die ellende waarin hulle regerings hulle eie bevolkings gedompel het.
Die ANC het Afrika se mees ontwikkelde ekonomie in 1994 oorgeneem, maar na 27 jaar is werkloosheidsvlakke, aldus die Wêreldbank, van die hoogste in die wêreld. Op plaaslike regeringsvlak is sake amper chaoties, met net 27 munisipaliteite uit ʼn totaal van 257 wat skoon oudits ontvang het. Gereelde kragonderbrekings beperk ekonomiese groei en beleggings.
Gelukkig is die privaatsektor steeds dinamies; dit blyk duidelik uit die moderne winkelsentrums en die winkels met volgepakte rakke wat deur die plunderaars geteiken is.
Dit staan in skrille kontras met kommunistiese Kuba, waar die karige voorraad in die winkels nie veel gebied het óm te plunder nie. Die ekonomie is erg deur die afwesigheid van toeriste geknou en 26% van die bevolking word as arm geklassifiseer. Die Amerikaanse embargo het nog meer druk op die ekonomie geplaas.
Albei lande is sleg deur die Covid-pandemie getref en het swak daarop gereageer. Suid-Afrika se inentingsveldtog het uiters power begin terwyl Kuba effens beter vaar met 16% van die bevolking wat reeds ingeënt is.
ʼn Mens het die indruk gekry dat dit ontevrede, gewone burgers was wat in Kuba in opstand gekom het, terwyl ʼn sterk kriminele element in Suid-Afrika oorheers het met alles wat binne sig gesteel is. Verder was daar ook voorvalle van brandstigting. Selfs die Bloedbank se drie takke in die Durban-area het deurgeloop. In die industriële gebied buite Durban is vol pakhuise gestroop en duur kombuistoerusting het oor die veld gestrooi gelê.
Die blaam is in albei lande rondgeskuif. Havana het die Amerikaners blameer en in Suid-Afrika is daar sterk aanduidings dat mense na aan Zuma agter die opstande is.
Die diktatoriale Kubaanse regering het vinnig op die opstande gereageer en in Havana en ander groot plekke het die onluspolisie die betogers met geweld onderdruk. Privaat polisie het van huis tot huis gegaan om die leiers van die onrus op te spoor. Dieselfde polisie het pro-regeringsgroepe georganiseer wat gemarsjeer en revolusionêre spreuke uitbasuin het.
In kontras hiermee was die Suid-Afrikaanse regering uiters stadig om op die bedreiging van Afrika se belangrikste hawe se aktiwiteite, die grootskaalse vernietiging van eiendom en die gepaardgaande lewensverlies te reageer. Dieselfde polisiemag wat die Covid-19-maatreëls meedoënloos toegepas het, was nou oënskynlik magteloos.
Dit was gewone burgers, privaat sekuriteitsfirmas, gemeenskapspolisiëringsforums en taxiverenigings wat in baie dele van die land saamgespan het om winkelsentrums en woonbuurte te verdedig. Dit is die krag en omvang van burgerlike organisasies wat Suid-Afrika van ander ontwikkelende lande onderskei.
Miskien is hierdie woorde van Bobby Godsell, voormalige uitvoerende hoof van AngloGold Ashanti, op beide Kuba en Suid-Afrika van toepassing: “Suid-Afrika is geseënd deur sy mense, maar vervloek deur sy leiers.”
- Pieter de Lange is in Kroonstad gebore en woon nou in Kent, Engeland. Hy het al talle artikels vir verskeie media geskryf.
Alle kom neer op geld en beloftes. Beide die lande se regerings het met leuens en valse beloftes aan bewind gekom, en klou nou met alle wat hulle het aan die mag vas.
Korrek .
Enige mens wat glo, wat ookal deur ‘n politikus aan hom of haar vertel of belowe word, moet die woord ‘liggelowig” uit sy woordeskat verwyder.
Want hulle staan onder dieselfde tipe heerers . Punt .