Kan die polisie nog hulle mandaat uitvoer?

Argieffoto: SAPD

“Die polisie kan nie meer hul mandaat uitvoer nie,” het generaal Khehla Sitole, polisiekommissaris, voor die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie gesê. Hy het begrotingstekorte en allerlei ander redes daarvoor aangevoer.

Ek stem saam met generaal Sitole, maar om heeltemal ander redes. My oupa het twee Langenhoven-spreuke teen sy studeerkamermure gehad. Hierdie spreuke het nuwe betekenis gekry terwyl ek tydens die onluste op televisie gekyk het hoe inkopiesentrums leeggedra word en reusepakhuise afgebrand word. In KwaZulu-Natal is 89 inkopiesentrums en 45 pakhuise geplunder en afgebrand, terwyl 139 skole beskadig is.

“Om af te breek, is geen kuns nie” was die bewoording van die een Langenhoven-spreuk. Op televisie sien ek presies dit. Geboue, skole en besighede – wat met fyn beplanning oor dekades opgebou is – word in een dag afgebreek. Die rede waarom eie skole beskadig word, sal ek nooit verstaan nie.

Die ander spreuk was: “Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het hulle kan byt.”

By enkele inkopiesentrums was die polisie sigbaar. Die plunderende skare het geen ag op hulle geslaan nie. Hierdie polisie het oor die jare gewys hulle het geen byt nie. Die skare vrees hulle nie. Hulle knor is niks werd nie.

Daar is ’n groot verskil tussen veilig wees en veilig voel. Inwoners voel skielik nie meer veilig in hulle woonbuurte na die onluste nie. Die polisie sê hulle wou nie mense doodskiet nie – toe doen hulle sommer net niks. Daar is baie stappe tussen niks doen nie en skiet. In ander lande sien ons polisie met skilde, traanrook, waterkanonne en veiligheidsdraad wat afgerol word.

Talle ontstellende video’s van die plundering het op sosiale media gesirkuleer. Video’s van mense wat yskaste en wasmasjiene in die stof agter hulle aansleep. Nog ʼn video van ’n netjies aangetrekte plunderaar wat ’n fiets in ’n Mercedes Benz probeer inlaai; niks armoedigs aan hom nie. Armoede het sekerlik ’n rol by sommige gespeel, maar ’n bakkie wat vol yskaste gelaai word en dan daarmee wegry, het niks met armoede te doen nie.

Die video wat my egter die meeste ontstel het, was van ’n groep mans wat rondbeweeg en skreeu: “There is another one!” Ek het eers nie geweet waarna hulle verwys nie. Toe word dit duidelik. Hulle soek polisielede. Na hulle nóg ’n polisielid gekry het, plaas hulle hom langs twee ander wat reeds bedremmeld teen ’n muur staan. Die skare skeer met hulle gek en beveel hulle om te sit. Gedweë gaan die drie polisielede sit.

Hoekom het dit my ontstel? Omdat ’n aanval op die polisie eintlik ’n aanval op die staat is.

In staatsleer het ek geleer dat die staat die monopolie op geweld besit.

In die Bybel het ek in Romeine 13 oor die owerheid geleer: “Want die owerheid is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte.

“Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie; want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

Die wyse waarop die skare teen die drie polisielede optree, bevestig vir my dat die staat sy “swaardmag” verloor het. Uit die video is dit duidelik dat die polisie, as deel van die staat se swaardmag, nie meer die monopolie op geweld besit nie. Dit het ingrypende implikasies, want mislukte state lyk so. Van so ’n mislukte staat word gesê: “The president is in office, but not in power.” Dit is treffend geïllustreer toe die president op televisie die plunderaars opdrag gee om dadelik die plundering te staak. Terwyl ons na die president kyk, wys die televisie in ’n aparte klein televisieskermpie hoe die plundering tydens sy toespraak voortgaan met geen polisie-ingryping of polisiesigbaarheid nie.

As burgers het ons reeds geleer dat die staatsdiens swak is. As alternatief het ons eie dienste, soos koerierdienste, ontwikkel om die poskantoor se werk te doen.

As burgers het ons reeds geleer dat die polisie ons nie teen misdaad kan beskerm nie. As alternatief het ons amper drie keer soveel privaat sekuriteitsbeamptes as polisie.

As burgers het ons nou uit die onluste geleer dat die polisie ons nie teen massa onrus kan beskerm nie. As alternatief vertrou gemeenskappe nou op buurtwagte en eie wapens.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal se premier, kritiseer buurtwagte, en in hierdie tyd probeer minister Cele gewone burgers ontwapen.

Daar is geen manier hoe gewone burgers in die huidige klimaat hierdie ANC-voorstelle sal aanvaar nie.

Op die kort termyn is buurtwagte, hoë mure en wapens ’n goeie manier van beskerming. As gevolg van al die onsekerhede oor die toekoms gaan meer wapens en hoër mure ons nie noodwendig op die lang termyn kan beskerm nie. Sekere gemeenskappe soos Zoeloesprekers, Xhosasprekers en ander is nog grootliks in Suid-Afrika in sekere gebiede gekonsentreerd. So praat 77% van KZN se bevolking Zoeloe en 79% van die Oos-Kaap praat Xhosa. Vanweë Suid-Afrika se geskiedenis is Afrikaners egter oor die hele land versprei en nie op dieselfde wyse gekonsentreerd nie.

Vir langtermynveiligheid is groter konsentrasies nodig soos tans in Orania gebeur, of in die dertig gebiede wat Solidariteit as ankergemeenskappe geïdentifiseer het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

James ·

Die polisie, as staatsinstelling – is JUIS besig om hul mandaat uit te voer. Kyk weg in KwaMashu – tree op in Phoenix. Daag nie op by plaasaanvalle nie – maar arresteer slagoffers wat terugskiet.

marius ·

Nee . Gaan vra die Indiers in Natal wat ook nou as rassiste en moordenaars uitgekryt word hoe hulle daaroor voel .

Persheks Adri ·

Nee hulle kan nie en tot Sithole erken dit! Ek sou my kop in skaamte laat sak het so pateties is hulle en dit nog hardop sê ook hel man!!!

Chris dupreez ·

Dit is grootendeels omdat hulle sulke patetiese leiers het

Stefaan ·

Daar is seker arm Blankes ook maar hulle het geskitter in hulle afwesigheid tydens al die plundering. Mens wonder wat is die verskil tussen arm mense van verskillende rasse.

Heinrich ·

Goeie skrywe, ongelukkig bevat dit te veel hoërgraad konsepte vir die regerende party om te verstaan.

Harley Davidson ·

Die minister van polisie se hoogste kwalifikasie is ‘n voorskoolse onderwys diploma,sy aanstelling is om faksies binne die ANC gelukkig te hou ,daarom is dit belangrik om te onderhandel vir ‘n onafhanklike tuisstaat ,alternatief gaan ons sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.