Kernstate en die bedreiging van ’n EMP-aanval

Grafika: Nasa

Regeringshoofde én Jan Publiek word dikwels aangemaan dat een of ander terreurgroep of strydlustige kernwapenstaat (hierna: kernstaat) ’n elektromagnetiese puls-aanval (EMP-aanval) op ’n ander kernstaat sal loods, waarna die kragnetwerk van daardie staat geheel en al vernietig sal word.

’n EMP-aanval vind plaas by wyse van ’n hoë-hoogte-kernontploffing, waarna ’n hoë-intensiteit-energiegolf elektronika oorweldig en dit moontlik selfs vernietig. Gegewe die afhanklikheid van moderne samelewings op inligtingstegnologie, sal die vernietiging van ’n staat se kragnetwerk ’n ernstige knou aan enige samelewing toedien. Meer kommerwekkend, kernwapens is op sensitiewe elektronika, kommunikasienetwerke en satelliete aangewese, elkeen wat moontlik deur ’n EMP-aanval vernietig kan word.

Voorts berus ’n strategie van kernafskrikking op die vermoë van ’n kernstaat om ’n kernaanval van ’n aggressiewe kernstaat met genoegsaam kernwapens te oorleef om ’n vergeldingsaanval te loods. Waar die kragnetwerk van ’n kernstaat vernietig word en, by implikasie, kernwapens onbruikbaar word, word ’n strategie van kernafskrikking nutteloos en vermeerder die waarskynlikheid van ’n kernaanval met rasse skrede. Hoeveel waarheid steek daar aan die argumente oor en vrees vir die oënskynlike vernietigende uitwerking van ’n EMP-aanval?

Kernontploffings en ’n EMP

’n Konvensionele of artilleriebom saai verwoesting by wyse van ’n windvlaag of skrapnel wat deur die ontploffing veroorsaak word. Hierteenoor word die energie voortspruitend uit ’n kernontploffing (in der waarheid, 80% daarvan) in die vorm van X-strale vrygestel. Die oorblywende 20% van die bom se energie word in die vorm van neutrone en gammastrale vrygestel, met slegs ’n baie klein hoeveelheid van dié energie wat in ’n windvlaag omgeskakel word. Die geweldige groot windvlaag wat met kernontploffings gepaardgaan, spruit eindelik voort wanneer X-strale, gammastrale en neutrone hetsy in die lug of die grond opgeneem word. Radioaktiewe afval is kenmerkend van ’n kernontploffing.

Terwyl die uitwerking van die ontploffing van ’n konvensionele wapen kortstondig is, is die nagevolge van ’n kernontploffing langdurig (selfs dekades lank). Die langdurige nagevolge van ’n kernontploffing vind veral plaas tydens lae-hoogte-ontploffings (dit is, ontploffings naby aan die oppervlakte van die aarde). Tydens lae-hoogte-ontploffings word groot hoeveelhede van die oppervlakte van die aarde deur die windvlaag opgeraap en deur die blywende kernreaksies in die paddastoelwolk (“mushroom cloud”) geaktiveer. ’n Hoë-hoogte-kernontploffing, hierteenoor, bevat betreklik min radioaktiewe afval, aangesien laasgenoemde beperk word deur dit wat deur die bom self gegenereer word sowel as allerlei elemente in die atmosfeer wat deur die bom se uitstraling geaktiveer word.

Voorts weet ons ook dat ’n kernontploffing ander gevolge buiten ’n windvlaag en uitstraling meebring, waarvan die intense hitte en die uiters skerp lig van die ontploffing wyd bekend is. Benewens dié gevolge, genereer hoë-hoogte-ontploffings ’n EMP wat afwaarts na die oppervlakte beweeg.

Hoe word ’n EMP voortgebring? Wanneer ’n kernontploffing plaasvind, beweeg gammastrale afwaarts en bots met atome in die atmosfeer. Hierdie botsings bring op hul beurt mee dat ’n elektron vanaf die atoom onttrek word, wat ’n elektriese stroom voortbring. Laasgenoemde stroom bring op sy beurt weer ’n radiosein voort, wat sensitiewe elektronika (onder meer, rekenaars en kommunikasiestelsels) kan ontwrig of moontlik selfs kan vernietig.

Die gevolge van ’n EMP

Hoe verreikend is die bedreiging van ’n EMP? Gegewe die feit dat ’n EMP in die atmosfeer gegenereer word en dan afwaarts beweeg, sal die area wat deur sodanige aanvalle getref word, waarskynlik baie groot wees (moontlik landwyd).

Maar, soos die voormalige hoof oor navorsing en ontwikkeling van kernwapens by die Los Alamos Nasionale Laboratorium in Nieu-Meksiko (VSA), Stephen M. Younger, tereg uitwys, word die gevolge van ’n EMP-aanval tot elektronika (en nie mense en strukture nie) beperk. Trouens, soos Younger voorts uitwys, ondanks wat wyd aanvaar en aangevoer word in die media, is dit nie die geval dat ’n EMP-aanval ’n land se elektronika geheel en al sal lamlê nie. Waarom nie?

Eerstens, die uitwerking van ’n EMP-aanval is statisties van aard, dit wil sê, sommige stelsels sal nouliks bewus wees van die puls, terwyl soortgelyke stelsels daardeur geraak sal word. Tweedens, die mees waarskynlikste gevolg van ’n EMP-aanval is die tydelike ontwrigting – en nie vernietiging – van stelsels, onder meer die vermenging (“scrambling”) van ’n rekenaar se geheue of die frekwensie van ’n kommunikasietoestel. Beide dié probleme kan maklik herstel word deur óf die rekenaar te herlaai óf die toestel weer in te stel. Derdens, die EMP-krag van vandag se kernwapens word belemmer deur verskeie ontwerpkwessies, soveel so dat daar min – indien enige – kernwapens bestaan wat die maksimum moontlike uitwerking sal teweegbring.

Dit is teen dié agtergrond dat Stephen Younger uitwys dat van alle moontlike gevolge voortspruitend uit ’n kernontploffing, is ’n EMP die een wat die meeste deur misverstande en verkeerde interpretasie gekenmerk word.

Is ’n EMP-aanval dan werklik ’n bedreiging?

’n Bykomende uitwerking van ’n EMP-aanval is die moontlikheid dat satelliete vernietig kan word, met die ontwrigting van noodsaaklike kommunikasiestelsels as gevolg. Gedurende 1962, tydens ’n Amerikaanse kernontploffing sowat 400 kilometer bo die Stille Oseaan, is die uitwerking van dié ontploffing byna 1 450 kilometer ver in Hawai gevoel. Dié ontploffing het gelei tot die vernietiging van straatligte en telefone en verskeie Amerikaanse, Britse en Sowjetunie-satelliete is beskadig.

Daar is egter weinig rede tot kommer oor ’n EMP-aanval. Drie redes kan aangevoer word. Allereers, ’n EMP-aanval om ’n kernstaat se kragnetwerk te vernietig (en sodoende laasgenoemde se vermoë om ’n vergeldingsaanval te loods, te elimineer), sal presies dít wees: ’n kernaanval. En, soos die geskiedenis van die kernera duidelik wys, die moontlikheid van ’n vergeldingsaanval maak die waarskynlikheid van ’n kernaanval uiters laag. Kortom, kernafskrikking bied gronde vir optimisme dat ’n EMP-aanval in die eerste plek nie begin sal word nie.

Tweedens, ’n EMP-aanval kan nie gebruik word om ’n vergeldingsaanval te keer nie – kortom, die vergeldingsmagte van kernstate sal nie onbruikbaar word indien ’n EMP-aanval plaasvind nie. Kernstate is terdeë bewus van die moontlikheid van ’n EMP-aanval, met die gevolg dat kernwapeninfrastruktuur (én satelliete) ontwerp word met die doel om sodanige aanvalle te weerstaan. Hier kan ek byvoorbeeld wys op die Amerikaners se Gevorderde Buitengewone Hoë-Frekwensie Satellietkonstellasie – ’n groep van ses militêre satelliete – wat nie net globale kommunikasie vir Amerikaanse gevegsmagte op enige gegewe oomblik en oor die hele wêreld bied nie, maar wat ook ontwerp is om ten tyde van ’n EMP-aanval steeds bruikbaar te wees. Terselfdertyd sal kernduikbote, wat in verskillende dele van die wêreld se oseane ontplooi word, nie geraak word deur ’n EMP-aanval wat op die grondgebied van ’n staat gerig word nie. Hoewel daar dikwels gevrees word dat ’n EMP-aanval noodsaaklike kommunikasie tussen kernduikbote en bevel-en-beheersentra sal ondermyn, bestaan daar verskeie maniere om te verseker dat ’n (presidensiële) bevel om ’n kernwapen vanaf ’n duikboot te vuur wel die kernduikboot bereik.

Laastens, en eensgesind met Younger se tegniese analise, die Nobelpryswenner en fisikus, Jack Steinberger, wys daarop dat die verwoestende uitwerking van ’n EMP-aanval uiters oordrewe is. Daar bestaan verskeie tegniese uitdagings om ’n EMP-aanval uit te voer. ’n EMP-aanval is aangewese op verskeie faktore, onder meer, die hoogte van die ontploffing, die plofkrag van die kernwapen en die krag van die aarde se magnetiese veld. Hierdie faktore, tesame met die afwesigheid van genoegsame data oor die uitwerking van ’n EMP, maak dit uiters moeilik om seker te wees hoeveel skade ’n EMP-aanval werklik sal berokken.

Die gebrek aan sekerheid is ’n beslissende rede tot optimisme in ’n wêreld van kernwapens. Waar onsekerheid gedy, dit is, waar ’n aggressiewe staat nie seker kan wees dat ’n EMP-aanval die totale kernwapeninfrastruktuur van ’n kernstaat kan vernietig nie, sal die moontlikheid van ’n vergeldingsaanval enige aggressie beteuel.

Maar wat van terreurgroepe?

Sal terreurgroepe nie miskien oor die middele beskik om ’n grootskaalse EMP-aanval teen ’n kernstaat van stapel te stuur nie? Van alle moontlike scenario’s, is dié een die mees onwaarskynlikste. Om ’n grootskaalse EMP-aanval te begin, moet terreurgroepe oor twee dinge beskik: een, ’n kragtige kernwapen, en twee, ’n uiters gevorderde ballistiese missiel om die kernwapen in die hoogte te laat ontplof. In ’n ander skrywe op Maroela Media (“Kernwapens en Kernterreur”, 30 Maart 2020), het ek daarop gewys dat die moontlikheid dat ’n terreurgroep ’n kernwapen kan steel, koop of vervaardig uiters (!) laag is. Om ’n kernwapen op ’n gevorderde ballistiese missiel te lanseer, is eweneens ’n uiters tegnies uitdagende taak.

Hierdie analise wys daarop dat die gevaar en skrikbeeld van ’n EMP-aanval uiters oordrewe is. Terselfdertyd strook die verwagte gevolge van ’n EMP-aanval nie met die werklikheid nie. Kernwapeninfrastruktuur word ontwerp om die uitwerking van ’n EMP-aanval te weerstaan en, meer belangrik, ’n EMP-aanval staar dieselfde uitdaging in die gesig as enige ander kernaanval: die moontlikheid dat ’n kernstaat ’n verwoestende vergeldingsaanval van stapel kan stuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.