Kinderoffers en Afrikaner-nageslagte

Deur Theuns de Bruyn

Die afgod Molog, wat in die Ou Nabye Ooste deur die Ammoniete aanbid is word in 1 Konings 11:5 beskryf as afskuwelik. (Foto: Wikipedia)

Opvoeding en onderrig was vir Afrikaners nog altyd baie belangrik. Dit is duidelik in die skole en universiteite wat deur ons volk se geskiedenis vir die nageslag opgerig is. Die feit dat daar opnuut in ons volk se geledere gesoek word na eie instellings vir die onderrig van die nageslag toon aan dat dit vir die Afrikaner steeds belangrik is.

Toewyding aan die opvoeding van die nageslag bring egter dieper dinge uit die hart van die mens na vore.

Aanbidding en nageslag

Die mens se aanbidding word konkreet sigbaar in die opvoeding van sy nageslag. So was dit deur die eeue.

Volke van verskillende godsdienste het telkemale met mekaar in gemeen dat hulle in die een of ander ritueel hulle kinders toewy. In die antieke heidense godsdienste, eintlik reg oor die wêreld, het dit selfs gebeur dat ouers hulle kinders aan afgode geoffer het. So was daar byvoorbeeld die afgod Molog, wat in die Ou Nabye Ooste deur die Ammoniete aanbid is[1]. Daar was telkemale rituele waar kinders te ere van hierdie afgod verbrand is.

Dit mag dalk verskriklik klink, maar die onderliggende beginsel aan hierdie praktyk is steeds in die wêreld teenwoordig. Die mens offer sy kinders. Dit gebeur nie op alle plekke meer deur die kinders in vuur te verbrand nie, maar alle kinders word op een of ander manier geoffer.

Kinders is uitgelewer aan die lewensideologie van hulle ouers. As kapitalisme byvoorbeeld die sentrale lewensdoel van ouers wesenlik beïnvloed, dan word die kinders aan die kapitalisme geoffer. ʼn Behoorlike studieloopbaan en ʼn winsgewende werk sal die ideale wees wat ouers dan vir hulle kinders najaag. Dieselfde lyne kan getrek word rondom elke doelmatigheid wat onderliggend aan die opvoeding van die nageslag geplaas word.

Dit beteken uiteraard nie dat daar afgesien moet word van enige doelmatighede in die opvoeding van die nageslag nie. Dit klink soos ʼn droom van die sekularisme, en is dit uiteraard onmoontlik. Die weglating van die doelmatigheid is ʼn doelmatigheid in sigself.

Daarteenoor stel die Skrif die eksklusiewe aanbidding van die lewende God as weg van waarheid. Die kern van Israel se Godsdiens het gesentreer rondom die woorde van Deuteronomium 6:4. Hierin openbaar die Here Homself as die enigste Here. Daar is geen God naas Hom nie.

Dit dien in daardie gedeelte ook as die sentrale motivering vir die opvoeding van die nageslag[2]. Dit omskryf die doelmatigheid wat die opvoeding van die nageslag van die Here se volk moet onderlê.

Toekomsverwagting en nageslag

Dit is dan opmerklik dat hierdie doelmatigheid ook direk in verbinding met die toekoms van die volk gebring word. Die toekoms van die volk in die land sou geseënd wees as hulle die Here alleen aanbid het. Dit sou by uitstek sigbaar gewees het in die opvoeding van hulle nageslag.

Wanneer die Israeliete hulle dan skuldig maak aan afgodery kom die nageslag duidelik ter sprake. Die konings Amon en Manasse van Juda het hulle kinders inderdaad vir afgode verbrand. Die volk is juis as gevolg van hierdie sonde uit hulle land weggevoer.

Die toekoms is dus onlosmaaklik verbind aan die doelmatigheid waarmee die nageslag opgevoed word.

Daarom kan ons aflei dat die toekomsverwagting van ouers ook sigbaar word in die opvoeding van hulle kinders[3]. Wanneer ons dus ons toekomsverwagting wil verstaan moet ons kyk na die beginsels wat die opvoeding van ons kinders onderlê.

Dan sal ons kan raaksien of die nageslag wins gaan jaag in die wye wêreld, en of hulle roeping gaan opvolg waar die Here hulle plaas. Dan sal ons kan raaksien of die nageslag geoffer word aan ʼn lewe vir die hier en die nou, en of die ewigheid in hulle opvoeding bereken word.

Mag die opvoedingsbeginsels waarin ons volk hulle kinders opvoed die lewende God tog welgevallig wees!

[1] 1 Konings 11:5

[2] Deteronomium 6:20

[3] A.L.A. Buys, Eerstelinge van God, p 34

  • Theuns de Bruyn is ‘n 5de jaar student aan die teologiese skool te Potchefstroom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus W ·

Die kinders in Amerika en Europa word tans aan die woke-god geoffer. Slegs n Donald Trump of Robert Kennedy of Tulsi Gabbard sal dit kan stop. Hopelik.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

‘n Waarlik kragtige uitdaging aan alle ouers! Dankie.

Rom. 12: 2 (Nuwe Lewende Vertaling): Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, MAAR LAAT God julle omvorm deurdat hy julle DENKPATRONE vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.