Knie(l)-probleme

Deur Gavin Ludick

Gavin Ludick.

Dit is ʼn ysige oggend in Witpoortjie, Johannesburg. Die warm koppie koffie om 04:35 smaak te heerlik, veral as jou pa dit vir jou gemaak het net voor die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks. Ek was tien jaar oud en het toe waarlik begin om rugby te verstaan. Die passie waarmee my pa die Springbokke ondersteun het, was aansteeklik en die band tussen pa en seun is versterk met ʼn warm kombers, ʼn koppie koffie en ʼn Springboktoets op die TV. Die Bokke toer in Nieu-Seeland en dis oorlog! Hierdie herinnering was die afskop van my loopbaan as ʼn toekomstige Springbokrugbyspeler.

Elke seuntjie wat sy eerste rugbybal kry, begin droom oor die Groen en Goud, want dit is mos die natuurlike verloop van sake. As jy jou eie bal het, is dit net ʼn kwessie van tyd voor jy met die Springbok op jou linkerbors uitdraf… In 1995 het ek die wêreldbekerglorie beleef in George, want my ouers wou ʼn beter lewe vir ons kinders hê. Johannesburg was te gevaarlik en te gejaagd. Dit is immers mos lekker(der) by die see. Die jare gaan verby en die rugbyveld raak vir my ʼn plek waar selfvertroue, frustrasies, passie, vrees, kameraderie, dissipline en geesdrif teen mekaar bots en skaaf soos albasters in ʼn materiaalsakkie. Die droom leef voort…

Intussen geniet ek ook atletiek en my talent om in die lynstaan te spring word ook aangewend om oor die hoogspringlat te seil. Provinsiale atletiekkleure is ook skielik ʼn nuwe droom op die horison. Hoe gaan ek nou vir die Bokke uitdraf terwyl ek op dieselfde middag moet hoogspring op die atletiekveld? Toemaar, daar is wyse mense wat my sal lei en sal reël dat ek tussen die twee sporte kan wissel om my ouers en duisende ondersteuners gelukkig te hou.

Vandag is ek 37 jaar oud en ek oorweeg om binnekort my Springbok- en atletiekdroom te laat vaar. Nie omdat ek te oud is nie, mens is mos net te besig deesdae.

Hierdie tong-in-die-kies storie was en is ʼn werklikheid vir soveel pienkvoete wat op velde sonder gras en halftyd-lemoene moes werk aan hul toekoms as ʼn nasionale held. Ek sou nooit ʼn Springbok kon word nie, hulle is mos die beste 30 spelers in die land. Nét die beste… Massiewe kniebeserings, rekonstruksies en her-rekonstruksies was nie die hoofrede vir my Springbokdroom wat skipbreuk gely het nie, ek was net eenvoudig nie goed genoeg nie. Jeugdige voortvarendheid het my gedryf en my SA-kleure in atletiek was dalk ʼn meer realistiese droom, maar selfs op die atletiekfront was ek nie goed genoeg om die hoogste vlak te bereik nie, mens moet mos maar êrens besef dat dit nie vir jou beskore is nie!

Wat my wel groot skade en leed aangedoen het, was die feit dat ek nie die kans gegun is om self tot daardie besef te kom nie. In my matriekjaar hier in Port Elizabeth moes ek in Maart hoor dat, al het ek gekwalifiseer vir die OP-atletiekspan, die rassesamestelling van die span nie reg was volgens die regering se voorskrifte nie en ek daarom nie ingesluit sal word nie. Die kwalifiserende diskusgooi-afstande en hoogspringhoogtes, was irrelevant. My vel was wit. Presies dieselfde het gebeur op die rugbyveld. Die tweede laaste rondte van OP-proewe was my grootste geleentheid om moontlik die Cravenweekspan te haal en ek het nogal die dag en veld gedeel met ʼn man wat later jare op die Springboktrui wou opgooi. Die wedstryd was goed, maar die uiteinde was net nog ʼn teleurstelling. ʼn OP-keurder het vir my in persoon gesê dat ek goed gespeel het, maar dat ek nie die regte velkleur het nie. Nee, ek was nooit goed genoeg om verteenwoordigende sport te speel nie, maar die besluit is vooraf gemaak. Rassekwotas en diskriminasie het my lot bepaal. Die besluit is vír my gemaak. Meriete en vermoëns het niks daarmee te doen nie.

Gedurende my tyd as onderwyser was ek betrokke by afrigting en keurkomitees vir provinsiale rugby en atletiek hier in die Oos-Kaap. Die vlakke van frustrasie het oorgekook. Om deel te wees van strukture waar keuses gemaak word op grond van spelers en atlete se velkleur was besig om my gewete te verkrag. Week ná week moet ʼn mens terugsit en kyk hoe name van kinders net eenvoudig van die tafel afgevee word, net omdat hulle wit is. Wat ook hartseer is, is dat die bruin kinders naderhand ook daaronder gely het. Etniese swart spelers word ooglopend en aggressief ondersteun en bevoordeel en dit ten koste van kwaliteit en meriete.

Nou moet ek sit ek kyk hoe Siyamthanda (Siya) Kolisi praat van sy verlede. Hoe swaar hy gekry het en hoe daar nie gelyke kanse was en is vir swart mense nie. Ek weier om dit te aanvaar. Siya, jy byt die hand wat jou gevoer het. Wit mense het vir jou en Lungi Ngidi raakgesien en ondersteun, alles betaal, en dit nogal in van die mees gesogte skole in die land. Allesdekkende beurse, by name die Vincent Mai-beurs by Grey Hoërskool, geborgde stewels, skrumpette en aanvullings was mos aan die orde van die dag, Siya. Jy het meer ontvang as wat jy ooit besef het. Die feit dat hulle albei talentvolle sportmanne is, is daadwerklik so, maar dan moet daar eerder op erkenning en waardering gefokus word. Wit kinders word daagliks al hoe verder verwyder van geleenthede en dit is reusegevaarligte vir ons kinders se toekoms hier in Suid-Afrika. Wat lê vir hulle voor? Hoe sal ek vir my dogtertjie verduidelik dat sy nie met talent en vermoëns en harde werk sukses sal behaal nie? Wat gaan haar dryf en motiveer? Dit is mos ʼn skande en inbraak op haar menswees en bestaansreg in haar eie land.

Die feit dat sportsterre nou wêreldwyd die knie buig voor die Black Lives Matter-veldtog, laat ʼn bitter smaak in my mond. ʼn Smaak wat baie moeilik gaan verdwyn. Dit maak my fisies siek om vir AB, Faf, Francois Pienaar en Graeme Smith op hulle knieë te sien met ʼn gebalde vuis in die lug. Hoe sal ek dit ooit kan aanvaar? Om hierdie rede sal ek nie meer die Proteas ondersteun nie. As die Springbokke hul knieë buig voor ʼn toets, dan is ek klaar met hulle ook. Jammer pa, jammer dat ek dan my rug gaan draai op ons geliefde Springbokke, maar dalk is dit nou die tyd dat ek ook besef dat sport vir my ʼn afgod geraak het. Ek buig my knie net voor my God, niemand en niks anders nie. Die een na die ander stoere Bok- en Protea-ondersteuner knip hul truie op en draai hul rug op ons nasionale spanne. Dit moes dalk al lankal gebeur het.

Waar is die internasionale druk nou op ons regering? In die verlede is Suid-Afrikaanse sport geboikot en uit internasionale sport verban oor politieke inmenging in sport. Waar is julle nou? Wat is die verskil tussen die verlede en wat nou aangaan? Waar is die sonsondergangklousule op rassekwotas en regstellende aksie? Eerder as om hoop te skep met die vooruitsig dat dit uitgefaseer gaan word, word dit al hoe sterker gedryf en geïmplementeer deur ons rassistiese regering. Dit het tyd geword dat die internasionale sportgemeenskap ons weer verban en boikot. Hier is nie geregtigheid en gelyke kanse vir almal nie. Diskriminasie gegrond op velkleur is nou deel van my, ʼn wit mens in Suid-Afrika, se daaglikse lewe. Ons het gewoond geraak aan totaal onaanvaarbare tendense en praktyke, dit is besig om ons te verswelg.

Bogenoemde het uitsluitlik te make met sport, maar meer as dit, word hierdie siek, vernietigende rassediskriminasie deurgetrek na belangriker aspekte van ons samelewing. Moedertaalonderrig, keuring vir universiteite, sekere kursusse, studiehulp en befondsing en dan uiteindelik werksgeleenthede, word net eenvoudig geweier aan ons wit kinders. Dit gebeur elke liewe dag in ons land. Elke liewe dag. Swart ekonomiese bemagtiging en “equity” is die terme wat die kos uit ons kinders se monde gryp en hulle toekoms steel. Dit word onbeskaamd op ons as ʼn minderheid afgedwing en daar is nie nou ruimte vir gesprekke vir ʼn beter toekoms vir ons kinders nie. Wanneer gaan die ANC-ondersteuners (nie almal swart nie) se oë oopgaan en besef dat die land op die rand van ʼn afgrond staan?

Dit voel nou ook asof ons daagliks maar net sit en wag vir die nuus oor die volgende plaasaanval en of -moord. Die vlakke van geweld en wreedaardigheid waarmee ons mense verwoes word maak ʼn mens fisies siek. Ek vrees vir die oproep wat gaan sê dit is ʼn vriend of familielid. Hierdie oproepe vind daagliks plaas, die lae intensiteit oorlog wat vryheid en oorlewing bedreig is sterk aan die gang.

Die vraag is wat is al die bogenoemde gebeure en faktore se impak op die psige, mentaliteit, ingesteldheid en welsyn van ʼn volk? As ʼn minderheid word ons op alle vlakke van die samelewing gedryf tot konfrontasie en oorlewing. Dan word daar verwag van my om die BLM-beweging te ondersteun? Dit terwyl ek self wonder oor die waarde van my lewe in my eie land! Die regering sien nie om na my welsyn nie, ek is nie ʼn prioriteit vir my president nie, die Proteas en Springbokke is nie meer my helde nie, maar my toekoms is die Here s’n. Voor Hom buig ek my knie, in Sy diens staan ek en vir my kind doen ek alles. Here gee vir my die wysheid om rustig te woon en werk, maar gee vir my die krag om U liefde uit te straal teen die bose magte wat my daagliks aanval en my lewe bedreig.

Ek sal nie gaan lê nie, ek sal toelaat dat my toekoms gesteel word nie, ek staan sterk, want die Afrikanerbloed in my are druis so sterk soos ʼn rivier in vloed. Staan op Suid-Afrika, vir dit wat reg en regverdig is.

Mag God ons hierin help.

  • Gavin Ludick is ʼn projekbestuurder by die Afrikanerbond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Baie dankie Gavin. Ek kan nie wag vir dag dat daar weer ‘n eenheidsgevoel onder ons as Afrikaanssprekendes plaasvind. Dis nou MEER dringend as ooit!Probleem is algehele gebrek aan leierskap

Jacobus ·

Goeie maar ietwat ontstellende skrywe – benewens die feit dat dit totaal waar is.
Die knie kruipery plaas ‘n volgende hindernis in die pad van persone met buitengewone meriete. As jy by die laaste hekkie kom en jy is nie bereid om te kniel nie gaan daai skoen op jou nek sorg dat jou loopbaan daar en dan kortgeknip word. Ek hoop die Fawwe, AB, Smitte en Pienaars en ander “virtue signalers” sal kennis neem en hulle skaam. Ongelukkig is daar nie entstof teen moroniteit nie.

koos10 ·

Gavin, een van die beste stukke wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Ek hoop waar jy nou werk, sal jy in staat wees om te help om verandering te laat gebeur.
Ek kry onderwysers en sport afrigters baie jammer dat hulle moet afrig en spanne kies met die wete dat die beste wit kind altyd ondergeskik sal wees as die tweede beste swart kind.
Makhaya Ntini en Lewis Hamilton was seker twee van my grootste rol modelle. Hulle het hul hoogtes in sport bereik, en NOGSTEEDS blameer hulle nou ras as faktor. Ek hoop nou Sondag na Sondag dat Bottas vir Hamilton in sy dinges ry, en dat Makhaya Ntini alles verloor wat hy gekry het deur krieket. Hel man, ek het tydens Makhaya Ntini se laaste wedstryd gesmeek dat die Ausies hom net nog ‘n paaltjie moes gee.
Ek wil my “rolmodelle” net bedank dat hulle my gehelp het om weer sport te kyk met ‘n rassebril aan.

Net ek ·

WOW, Gavin ek ken jou glad nie maar jy slaan die spyker 100% op die kop, my ondersteuning vir SA krieket en rugby is ook verby!! Groot respek vir ‘n man wat kan opstaan vir die Here en ek sal saam met jou die knie buig net voor God, die Skepper en Verlosser alleen. Mag die wêreld en almal wat so die knie buig vir BLM, die lig sien en herbesin. Mag Suid-Afrika en die hele wêreld terugdraai na God.

Niklaas ·

Puik artikel , Gavin. Die sport wereld is tans in hierdie land besaai met onbillikhede en onregverdige optredes . Ek raak briesend vir die sporthelde wat ons nou kan beskou as blanke papbroeke wat vreeslik kruiperig is .

Vrijburger ·

Die beste stuk wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Daar moet moeite gedoen word om hierdie stuk baie wyer gepubliseer te kry.

Persoonlik het ek jare terug opgehou om alle Suid-Afrikaanse nasionale sport spanne te ondersteun, en dit sal so bly tot alle rasse diskriminasie (lees kwotas) op alle vlakke opgehef word. Tans is ek op die stadium wat ek SA se nasionale sport spanne aktief boikot en ook steun hiervoor werf.

Adam Adriaan ·

Baie goeie skrywe. Wat meeste mense miskyk, is die briljante wyse waarop die links, liberale, sosioalistiese Nuwe Wêreld Orde drywers, al hierdie tegnieke gebruik om chaos in die wêreld te skep. In die verlede het hulle oorloë en revolusies gebruik om dieselfde resultate te bereik. Hier deur het hulle hulle self verryk en lande in enorme skuld gedompel. So is die BLM sage wat ons nou sien nogmaals ‘n tegniek, binne die totale strategie, wat tesame met die COVID-19 chaos; die chaos vererger. Jammerlik is daar digene wat nie verder as hulle neuse dink en dit ondersteun. Hulle dink net aan hulle self. Ons moet nie dink dat dit nou die einde is van die storie nie. Dit is maar die begin van erge dinge wat oppad is. Hou maar die nuus dop en wees paraat en skerp die Geloof op. Daar gaan nog ‘n geween en gekners van tande wees, in die nabye toekoms. Hierdie geld vir die hele wêreld.

capie ·

Die enigste oplossing vir blankes wat dit kan bekostig in om in ‘n gemeenska en land opgeneem te word wat kwaliteite waardeer. Dus vir jou eie kinders se welvaart moet mens maar emigreer. Nie soos ons wat aan ons ouers gedink het nie en die geleentheid laat verbygaan het nie. Vandag is ons te oud om maklk te emigreer. Die wit gemeenskap wat so agter die korrupte regering aanhardloop, het almal paspoorte vir ander lande en as die popo die fan strike, sit hulle nie hier nie.

ernest ·

Baie goeie beskrywing van baie Suid Afrikaners se frustrasie en beskouing wat regtig op die grondvlak gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.