Krieket Suid-Afrika: Gestrande skip weer vlot gemaak

Graeme Smith. Foto: Twitter.

Graeme Smith, die uiters suksesvolle gewese Protea-kaptein, en die baie ervare dr. Jacques Faul is nader getrek om die strandende skip, Krieket Suid-Afrika (KSA), van die rotse te red.

Veral Smith is ʼn baie sterk leier en stel dit baie duidelik dat hy hom nie gaan uitlewer aan ʼn voorsêery nie; hy wil dinge op die regte manier doen.

Dit skep ook nuwe vertroue by krieketondersteuners wat wil sien dat die mense in beheer se krieketkennis verder strek as om dit met ʼn bal, ʼn plank en ʼn tamatiekissie in die straat te gespeel het.

Waar het dit verkeerd geloop?

KSA se pogings tot totale oorname met sy kaders het begin blyk met die redelose afdanking van Corrie van Zyl en Clive Eksteen uit die bestuurspan en die oorname deur Thabang Moroe van nêrens af as hoofbeampte. Moroe se politieke verbintenisse en beroepsondervinding is onbekend en op sy Google-profiel is daar geen boekstawing van sy opvoeding nie.

Die Proteas was reeds teen die toue ná die reeksnederlaag teen die laaggeplaaste Sri Lanka en hul powere sewende plek in die kompetisie om die Wêreldbeker.

Thabang Moroe. Foto: KSA/Twitter

Moroe het sedert Augustus KSA se verhouding met die spelers en die borge vernietig en toegesien hoe die Mzansi Superliga (witbalkrieket) misluk. Daar is probeer om die geprojekteerde verlies van R650 miljoen tot R350 miljoen te sny deur die spanne met onverstaanbare logika van ses tot twaalf te vermeerder.

Borge het begin onttrek en daarbenewens het Moroe KSA se verhouding met die spelers vernietig en die krieketondersteuners vervreem.

Moroe is begin Desember geskors.

Maar ʼn mens moet eintlik tot 2012 teruggaan vir die redes vir KSA se agteruitgang. Dit is toe regter Nicholson ʼn kommissie van ondersoek gelei het nadat Gerald Majola homself verryk het. Nicholson se aanbeveling was ʼn kleiner raad wat deur onafhanklike direkteure oorheers word. KSA het dit geïgnoreer, die raad vergroot en sewe nie-onafhanklike en vyf onafhanklike direkteure aangewys.

So anders as rugby

ʼn Mens kan jou nouliks ʼn groter kontras voorstel as tussen Protea-krieket en Springbok-rugby: Een op die ashoop en die ander een wêreldkampioen; die een is heeltemal gekant teen meriete en die ander een streef dit met groot sukses na.

Rassie Erasmus. Foto: (Kyodo News via AP)

Rassie Erasmus het as breier oorgeneem toe Springbok-rugby op ʼn laagtepunt was. Een van die redes vir sy sukses was sy meesterskuif om Siya Kolisi as die eerste swart kaptein aan te wys en die manier waarop hy die politici tevrede gehou het met sy transformasie van die spel op die hoogste vlak en die massiewe swart ondersteuning wat die Bokke verwerf het.

Daar is steeds ondersteuners wat dit nie raaksien nie en redeneer dat Kolisi nie op speelverdienste in die span is nie.

Hy is nie die eerste Springbok-kaptein van wie dit gesê word nie. Francois Pienaar, kaptein van die Wêreldbeker-wenners in 1995, is nie eenparig gesien as die land se beste nommer ses nie. John Smit, kaptein van 2007 se wenspan, was ook nie ’n beter haker as Bismarck du Plessis nie, maar kapteins word om meer redes as net speler-meriete gekies.

Wat doen rugby anders?

Krieket begin met ʼn beleid van onbeskaamde diskriminasie: elke span móét ses spelers van kleur bevat van wie minstens drie etnies swart moet wees. Dit beteken wit spelers veg om vyf van die elf plekke in ʼn span, terwyl spelers van kleur al elf plekke mag vul.

Natuurlik moedig dit baie wit spelers aan om elders ʼn heenkome te kry, soos die baie wat internasionaal baie geld met Kolpak-kontrakte verdien. Van hulle – spelers soos Kyle Abbott, Rilee Rossouw en Stiaan van Zyl – sou met die regte afrigting, geleenthede en ondersteuning die Proteas kon versterk.

Die gewese Springbok-snelbouler en afrigter Mike Procter het ʼn jaar gelede aan die gesaghebbende Wisden Cricket Monthly gesê daar is geen rede waarom die land steeds ʼn kwotastelsel moet toepas nie.

“Ek het baie gemengde gevoelens. Ek kan verstaan dat die onregverdighede van die verlede herstel moet word, maar ek dink ons is verby daardie stadium.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wepner Viljoen

Maar ek verneem/lees in die dae die skip is weer op pad rotse toe.

Dubbelloop

Mike Procter se stelling van kwotas se dae is verby is absoluut waar. Kies die spelers op vorm en dus op meriete. Bly daarby en vergeet van die dêm politiek. Daar is baie goeie spelers wat al die rasse verteenwoordig. Goeie bestuur en nog beter afrigting dan is die Proteas weer binne n jaar waar die Spring bokke hierdie jaar geïndig het. Ek hou van wat ek lees van Graeme se uitlating/opinie. Die 15 tal wat reeds aangekondig is kan weinig fout mee gevind word. Sterkte.

koos

Faul, Smith, Boucher en kie gaan die skip van die rotse afkry en seevaardig kry en dan gaan die bestuur en eienaars weer BEE skree en muit en die redders dan van die skip afskop en ‘n ander kaptein aanstel en dan begin die gemors net weer van voor af!!

Kal

Maar nou moet julle oor AB kom asseblief tog, 2 jaar later en al wat n protea is wil hom smeek om terug te kom. Kies op meriete JA, dit sluit in dat Markram en De Bruyn ook bietjie moet fight vir plek en nie net gekies word nie.