Krisis op krisis vir Italië

Mario Draghi (Foto: Pierre Teyssot/AFP)

Italië se regering van nasionale eenheid, bestande uit feitlik alle partye in die parlement, het verlede week uitmekaargespat nadat die grootste party in die parlement, die links-populistiese Vyfster Beweging (M5S), sy steun aan die eerste minister, Mario Draghi, onttrek het.

Alhoewel Draghi steeds ʼn klein meerderheid het, het hy sy bedanking ingedien omdat die einde van sy regering weens kwynende steun in die parlement net ʼn kwessie van tyd is.

Die rede vir M5S se skeur is ontevredenheid oor die omvang en aard van ʼn hulppakket vir die burgers om die gevolge van inflasie en die finansiële uitval van die Oekraïne-oorlog te versag. Die M5S tree toenemend as kwasi-sosialistiese party op, wat armoede en ongelykheid deur meer skuld en herverdeling wil beveg.

Italië het egter reeds van die hoogste skuldvlakke in die Europese Unie en Draghi, as voormalige hoof van die Europese Sentrale Bank, wil die uitgawes nie heeltemal buite beheer laat raak nie.

Draghi se bedanking is egter nie deur die staatspresident, Sergio Mattarella, aanvaar nie. Mattarella het Draghi gevra om as eerste minister aan te bly en ʼn nuwe koalisie saam te stel. Daaragter staan die vrees vir ʼn nuwe verkiesing. Na die huidige meningspeilings sou dit ʼn oorwinning vir die regse en Euroskeptiese blok beteken, iets wat Mattarella, wat eng verbonde is met die Europese leiers-elite, ten alle koste wil vermy.

Om die huidige regeringskrisis in Italië te verstaan, is ʼn ietwat langer aanloop nodig. Italië se laaste verkiesing was in 2018, onder heel ander omstandighede as tans. Destyds was M5S die groot oorwinnaar en geen regering was sonder hulle moontlik nie. Na verskeie mislukte pogings om ʼn sentrum-linkse koalisie met die Demokratiese Party (DP) te vorm, het M5S uiteindelik met die regse Lega ʼn regering gevorm. Dit het teen die verwagting goed gewerk en heelwat belangrike besluite is geneem ten bate van die land en sy mense. Veral die leier van Lega, Matteo Salvini, het as minister van binnelandse sake die stroom van onwettige immigrante aansienlik verminder, wat tot sy groot gewildheid bygedra het.

M5S se jong en onervare leier, Luigi Di Maio, het as minister van buitelandse sake ʼn skaflike werk gedoen en die partylose professor, Giuseppe Conte, het as eerste minister ʼn balanserende rol gespeel. Salvini se gewildheid by groot dele van die bevolking en gunstige meningspeilings het tot gevolg gehad dat hy in 2019 ʼn skeur in die koalisie voorgestaan en ʼn nuwe verkiesing probeer afdwing het met die verwagting dat hy die groot oorwinnaar sou wees.

Matarella het egter nie die parlement ontbind nie, maar Conte oortuig om steun uit ander oorde vir ʼn nuwe koalisieregering te soek, want vir die links-liberale Mattarella was die vooruitsig van ʼn harde regse regering onder Salvini net te erg om te verbeel. Conte het aangebly met ʼn sentrum-linkse koalisie uit M5S en DP. ʼn Deel van die DP het egter later afgestig, ʼn nuwe party gevorm en hulle steun van die regering onttrek, en Conte het aan die begin van 2021 tot ʼn val gekom.

Weereens wou Mattarella verhoed dat ʼn vervroegde verkiesing plaasvind wat die regses sou bevoordeel en het hy Draghi, wat met sy onbeperkte aankoop van staatseffekte wel die Euro “gered” het maar daardeur ook die vader van die huidige inflasie en ekonomiese insinking is, as eerste minister benoem.

Draghi is geen verkose lid van die parlement nie en is as deskundige van buite ingebring om in tye van ekonomiese onstuimigheid as hoof van ʼn regering van nasionale eenheid die land te stabiliseer. Hy word gesteun deur ʼn breë front van partye, van die linkse DP tot die regse Lega, asook M5S en verskeie kleiner partye. Slegs die verregse Fratelli d’Italia (Broeders van Italië) is uit eie keuse nie deel van die regering nie. M5S het ook onlangs geskeur oor hulle posisie oor die steun, aldan nie, vir Oekraïne. Draghi sal Woensdag die parlement toespreek en groter duidelikheid oor sy en die land se toekoms gee. Dit lyk nie asof die voortgesette krisis, wat nou al sedert 2019 duur, dan tot ʼn einde gaan kom nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

groenboer ·

Waarskynlik ook ons voorland: in die post-ANC era (hopelik baie binnekort!) gaan SA waarskynlik ook ‘n soortgelyke reeks swak, onbeholpe en korrupte koalisiergerings hê, as wat nou al dekades in Italië die geval is.

M.a.w. dit sal Suid-Afrikaners goed doen om te vergeet van hulp uit regringsoorde en te begin leer om na hulself om te sien. In die toekoms sal ons hopelik ten minste bloot sonder die regering hoef klaar te kom, eerder as om dit ten spyte van die regering te moet doen: ‘n toekomstige koalisiregring sal hopelik ten minste nie aktief mense se pogings om hulself te help in die wiele ry nie.

Groen Ghoen ·

“Hallo darkness my old friend” sing Simon & Garfunkel. Onbekostigbare fossielbrandstof. Onbekostigbare sonkrag. Onbekostigbare lewenskoste weens stygende inflasie. Interessant dat die chaos alles begin het net na Joseph R. Biden die magtigste mens in die Weste geword het.

KatjieDeKat ·

Die marionetmeesters Agter Biden, bedoel jy seker. Biden is n marionet, dis al. Die man weet skaars watter kant van n lepel hy moet gebruik om mee te eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.