Kritiek is belangrik, maar nie genoeg nie

FW de Klerk en Nelson Mandela. (Foto: Paul Velasco / PictureNET Africa)

Die nuwe Suid-Afrika is nie meer nuut nie. Dit is nou net Suid-Afrika. Dit is nie meer sinvol vir ons om eers te vra of die “nuwe” Suid-Afrika ʼn sukses is nie.

ʼn Meer sinvolle vraag is waarom dit misluk. Om egter vas te stel waarom iets nie gewerk het nie, is nog geen oplossing nie. Veel belangriker vrae sluit in hoe ons kan sorg dat die foute nie herhaal word nie, en wat gedoen kan word om dit reg te stel.

Dit is nou al meer as drie dekades sedert die skommelinge van 1990: Die aankondiging dat apartheid beëindig word, die vrylating van Nelson Mandela, die aanvang van die onderhandelinge en die onverwagte toename in politieke geweld. Dan praat ons nog net van die eerste jaar…

Die onderhandelinge was ʼn skouspel wat die wêreld se verbeelding aangegryp het. Dit het vinnig geblyk dat, hoewel die NP-regering die mag van die staat agter hom gehad het, die ANC de facto veel meer mag tot sy beskikking gehad het. Dit is eerstens omdat die ANC met sy suksesvolle propagandastryd die wêreld se steun agter hom verenig het, en tweedens omdat die ANC daarin kon slaag om met sy strategie van geweld en ontwrigting die land onregeerbaar te maak.

Betogers met ‘n SAKP-vlag tydens ‘n optog in September 1989 in Johannesburg waartydens die vrylating van die ANC se politieke gevangenes geëis is. (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

Die NP het, met sy beheer oor die weermag, veel meer mag tot sy beskikking gehad as wat hy laat blyk het, maar omdat dit vir die voormalige president, FW de Klerk, so belangrik was om (gesien te word om) die morele ding te doen, het hy die weermag onderspeel en gepoog om homself eerder in gesprekke te laat geld. Dit klink natuurlik eerbaar, maar dit is nie hoe politieke onderhandeling werk nie.

ZB du Toit wys daarop dat Afrikaners glad nie tydens die onderhandelinge verteenwoordig is nie. Die NP het voortdurend beklemtoon dat hulle nie daar is om Afrikaners te verteenwoordig nie, en dat hulle uitsluitlik op ʼn beginselbasis met die ANC praat. Die KP, wat op daardie stadium met groter vrymoedigheid namens Afrikaners gepraat het, het geweier om aan die onderhandelinge deel te neem.

Die KP was op daardie stadium nie bereid om die Rubicon oor te steek en toe te gee dat Afrikaners nie die hele land kan regeer nie. In soverre as wat hulle bereid was om dit te erken, was hulle allermins bereid om so iets toe te gee. Die gevolg was dat die KP homself tot toeskouer gereduseer het in een van die belangrikste oomblikke van die land se geskiedenis – en een waar dit in die besonder nodig was vir Afrikaners om verteenwoordig te word.

Joernaliste van reg oor die wêreld het na Suid-Afrika gestroom om oor die groot oomblik verslag te doen. Die Financial Times-joernalis Patti Waldmeir het haar waarnemings later in die boek Anatomy of a Miracle saamgevat. Daarin skryf sy krities oor die ANC en die NP. ʼn Mens kan nie anders nie as om met ʼn soort ontnugtering in die boek te lees dat dit algemeen aanvaar word dat die ANC die mat onder die NP uit onderhandel het.

“The Star” kondig op 2 Mei 1994 Nelson Mandela as volgende president van Suid-Afrika aan na aanleiding van die ANC-oorwinning in die algemene verkiesing. (Foto: PHILIPP LITTLETON / AFP)

Die ANC het hulle met magspolitiek besig gehou, terwyl De Klerk net gesien wou word as dat hy die regte ding doen – natuurlik met die vooruitsig van ʼn Nobelprys aan die einde van die tonnel. In die proses het De Klerk toegelaat dat die ANC en internasionale drukgroepe vir hom voorskryf wat die regte ding is om te doen. Die luide applous wanneer hy toegewings gemaak het, het dit ook vir hom makliker gemaak. Daarom skryf Waldmeir dat De Klerk se gewete gevolg het waar pragmatisme gelei het – ʼn verdoemende gevolgtrekking om oor iemand se politieke standvastigheid en morele kompas te maak.

Oor die foute van die onderhandelinge kan daar nog baie gesê word. Terugskouend wil dit voorkom asof die ANC hulle hele bestaan vir daardie oomblik voorberei het, terwyl die NP maar net gedoen het wat sy hand gevind het om te doen – ten aanskoue van die res van die land wat nie veel meer kon doen as staan en kyk nie.

Ernst Roets Crop

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

In die NP se verweer kan ons egter die vraag vra of daar veel meer was wat hulle kón doen, gegewe die politieke klimaat en die winde van verandering wat op daardie stadium so sterk gewaai het, nie net oor Suid-Afrika nie, maar oor die ganse Westerse wêreld.

Dit is belangrik om oor hierdie dinge te praat. Dit is egter nie voldoende nie. Om opstelle oor die foute van die 1990’s te skryf, bring ons nie nader aan vryheid of ʼn beter bedeling nie.

Wanneer ons oor die verlede praat, is dit handig om Paul Kruger se woorde te onthou – dat ons die goeie en skone in die verlede moet vind en ons ideale daarop moet vestig wanneer ons vir ʼn beter toekoms werk. Dit beteken nie dat ons alles moet omhels óf verwerp nie. Ons moet die goeie vind en daarop voortbou, maar ons moet ook die slegte vind en seker maak dat ons nie daardie foute herhaal nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

De klerk het ‘n groot aandeel aan die sa van 2024,om apartheid te ontbind stem ek saam maar hoe hy dit gedoen het sal hy onthou word,ondeurdag,met sy idiotiese ” check en balances”.Dit was nogal humoristies toe malema hom by die SONA uitgooi .

Hendrik ·

Met die laaste paragraaf in gedagte het ons geleer die afgelope 30 jaar dat die huidige vorm van demokrasie waar die meerderheid alles totaal beheer nie werk nie en dat ons ‘n ander model moet volg om te verseker dat SA gaan voortbestaan.

skurweberg ·

Is dit menslik moontlik dat alle bevolkingsgroepe so vêr te kry om hulle doen en late as goed of sleg te tipeer? Vir die wat weet is dit inderdaaddat As ons begin om ons doen en late as bevolkingsgroepe in SA onder die vaandel van foute te tipeer, het ons dringende introspekie nodig.

skurweberg ·

Is dit menslik moontlik dat alle bevolkingsgroepe in SA hulle doen en late as goed of sleg sal kan tipeer. As die antwoord “nee” is. mis die wat weet hulle roeping en sal alles bly soos wat dit is. Niks sal dan verander nie. Ons sal ‘n volhoubare plan moet maak.

annie ·

… So vrolik was Mandela nog nooit. Glo ‘n wonderlike liefdevolle leier… maar gaan hom net teë dan word hy ‘n ander man. Was dit nie vandag president Paul Kruger se verjaarsdag nie… Of net Hani se dag van herinnering?

annie ·

Skuus, hoor dit is gelukkig eers op 10 Oktober. Was lanklaas so bly ek was verkeerd.

Cherokee ·

Ernst, weet jy ooit dat daar ‘n HNP was? En dat Andries Treurnicht se KP bloot die HNP se beleid gevolg het met ‘n paar veranderinge? Dr Hertzoght en Oom Jaap (ek hèt hom as Oom Jaap aangespreek,) was die werklike rebelle, wat die land kon red.

Cherokee ·

Soos reeds gesê, die KP het bloot die beleid van die HNP gevolg, met ‘n paar veranderinge om dit hul eie te maak. Daar was natuurlik ook bewerings, selfs vanuit die parlement, dat die KP gestig is deur die NP, om die Nee-stem te verdeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.