Maak regte planne teen gevaarlike praktyke

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Vandag beleef ons dat Suid-Afrika se “ligte” in vele opsigte deurlopend stotterend flikker of afgesit word, die toerusting wat dit moet laat werk gesteel of vernietig word en die persone wat die stelsels moet laat werk, of kon laat werk het, verdwyn uit die stelsel. Oor die afgelope tyd is kundiges vervang met persone wat oor die “regte” velkleur en verbintenisse beskik, waar kundigheid nie noodwendig deel is van die aanstellingsvoorwaardes nie.

Wanneer ons hier praat van “ligte” wat afgesit word, is dit nie noodwendig slegs die geleidelike ineenstorting van kragvoorsiening nie, maar dit gaan oor elke aspek van die samelewing wat daagliks al hoe meer tot stilstand gedwing word.

Die vraag wat elke inwoner in die land behoort te vra, is waarheen is die ANC op pad met Suid-Afrika en hoe voorsien hy moet die land lyk en funksioneer wanneer hy eendag, wat soos dit nou gaan nie te ver in die toekoms is nie, met hom klaar is?

Dit laat ʼn mens verstom om te ervaar hoe weinig meganismes naastenby nog werk soos toe die ANC ʼn redelik goedfunksionerende land op ʼn skinkbord ontvang het. Die resultate van sy beleid met spesifieke fokus op onder andere kaderontplooiing, staatskaping, korrupsie op alle vlakke en SEB, wat alles onder die begrip transformasie verpak word, se prys het vir almal reeds ver te hoog geraak.

Landbouprioriteite is verkeerd

Gegewe die wyse hoe die tafel gedek word vir totale chaos en anargie weens die jaarlikse styging in werkloosheid en die gepaardgaande armoede, hoofsaaklik as ʼn resultaat van die beleidsomgewing wat ervaar word, beleef ons steeds dat ongeveer 27 000 kommersiële boere deurlopend die situasie moet stabiliseer deur ten minste voldoende voedsel te produseer.

Ironies genoeg word hierdie boere, wat inderdaad beskou moet word as die grootste bate waaroor ons land beskik, eerder deur die ANC-regering gebrandmerk as die grootste vyand van die land en word hulle deurlopend bedreig met onrealistiese en belaglike wetgewing, onbillike diskriminasie en ʼn apatiese houding teenoor hulle veiligheid.

Suid-Afrika se inwoners is reeds ongeveer 68% verstedelik. Die ANC se fokus op die vestiging van kleinboere kan op geen wyse voorsiening maak vir voldoende voedsel nie. Die sogenaamde kleinboere is inderdaad steeds grootliks afhanklik van sosiale toelae om te kan bestaan.

Kondisionering van Suid-Afrikaners

Dit is nogal ʼn uitdagende denkproses waardeur gegaan moet word om iets te probeer “raak dink” waar die huidige beleidsomgewing ʼn volhoubare verbetering teweeg gebring het vir Suid-Afrika se inwoners. Dit laat ʼn mens verstom dat sy vernietigende beleidsrigting so lank geduld word. Dalk sê dit iets van ons almal wat in die land woon.

Die vraag oor of die huidige bestel enigsins ʼn uitkoms vir die verskillende volkere in Suid-Afrika kan teweegbring, kom die laaste tyd al hoe meer na vore. Die huidige bestel, met ʼn ANC-gemanipuleerde samelewingsorde se raklewe, raak vinnig kort. Wat gaan gebeur wanneer die ANC alles verwoes het en die woede van armoede losbars? Daarteenoor, is die kundige mense wat nog enigsins die verskil sou kon maak, besig om teen ʼn ongekende tempo die land te verlaat.

Oor tyd heen is almal dalk al so gekondisioneer om maar gelate saam met die stroom te vloei, sonder om ons enigsins te steur aan die bruisende waterval wat net om die volgende draai gereed is om almal mee te sleur oor die gapende afgrond van malende water.

Daar kan deur die “slim mense” seker baie redes opgediep word oor hoe ons wêreld in so ʼn relatief kort tydjie so drasties kon verander. Sonder om te ver te soek, word daar vinnig tot die besef gekom dat die ANC se beleidsomgewing die kern is van elke stukkie mislukking wat daagliks net al hoe groter word.

Keer terug na die kultuuropdrag

Nuwe waardes wat gereeld verander en aanpas soos wat dit die mens behaag, het die norm geword.

Die tradisionele driehoek tussen huisgesin, kerk en skool waar dieselfde waardes gedeel en ingeskerp was, het sodanig vervaag dat dit vandag feitlik onmoontlik is om die sement wat ons as volk gebind het, naamlik die begrip Christelik-nasionaal, enigsins te kan bespeur. Die saambindende en onderskeidende waardes wat volkere gedefinieer het, is vandag grootliks in die drein afgespoel. Dit is inderdaad die beplande ANC-strategie om dit te bereik.

Ongeveer 30 jaar gelede, tydens ʼn besoek aan Europa, het die swak kerkbywoning ʼn mens geruk. Dit is soos iemand in die groep gemeld het dat mense amper net kerk toe gaan indien hulle met iets gegooi word, naamlik water vir die doop, konfetti vir die huwelik en grond vir die begrafnis. Die tendens het ons land ook getref en daar word ervaar dat Christus grootliks uit die middelpunt van die samelewing verwyder is en dat die mens homself daar geplaas het!

Om die kultuuropdrag vanuit die Woord uit te leef, deur tot eer van God te leef en werk, is vervang met vir die genot van die mens. Die Bybel se konteks word al hoe meer aangepas om die mens gelukkig te hou, in plaas daarvan dat ons 100% die verordeninge, soos uiteengesit, nastreef.

Die dilemma van sosiale netwerke

Mensgerigte planne, grootliks gebaseer op wat “hulle” op die sosiale netwerke gedeel het, is vandag blykbaar die geloofwaardigste inligtingsbron. Dit het die norm geword en nou het sosiale netwerke vir elke persoon ʼn platform gegee waarop al hierdie oortuigings uitgedra word. Die hartseer is verder dat dit blyk of iewers iets van ʼn volwasse en sinvolle debat om ʼn saak te bespreek heel verlore gegaan het. Nou word daar in baie gevalle gefokus om eerder die ander mens te diskrediteer en in baie gevalle met ʼn taalgebruik wat gewis nie ʼn trotse norm mag word nie.

By herhaling moet dit beklemtoon word dat gemeenskappe wat dieselfde kulturele waardes deel, al hoe meer sal moet hande vat en self ʼn toekoms skep. Om dit aan die ANC se verwronge idee van hoe die samelewingsorde gerangskik moet word oor te laat, is fataal. Dit verloën inderwaarheid die mense wat daardie denkrigting bevorder om volgens Bybelse norme vir die toekoms te bou.

Dit is gewoon net nie aanvaarbaar dat die waardes wat die ANC daagliks uitdra en wat ons in die praktyk ervaar, op enige wyse, die norm kan word nie. Die resultate of simptome van sy beleid absorbeer ons denke en noodsaak ons om dan die simptome te “bestuur”.

Solank die oorsaak of bron van hierdie probleme steeds voortstu om aanmekaar nuwe resultate of simptome te genereer, sal daar nie ʼn uitkoms vir enigiemand geskep kan word nie.

Laat ons die praktyke wat ons ervaar indringend vanuit ons begronding evalueer en daarvolgens planne maak om die toekoms aan te pak − met die doel om ons kultuuropdrag uit te leef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Die ANC hou die heeltyd die idee voor dat hy SA in ‘n moderne tipiese ryk Europese land gaan verander maar ons beweeg skerp links na ‘n tipiese mafia-beheerde Suid-Amerikaanse staatjie waarin siektes en misdaad kompeteer vir die eersteprys met lang tronkstraf vir gruwelike regeringslui ‘n kroeggrap.

Joggie ·

Baie goeie uiteensetting Bennie, ons samelewing is ongelukkig tot ‘n groot mate gesekulariseer en het geen begrip wat ons kultuurodrag is nie.

Jaco ·

Wat van aan verkiesings deelneem en stem teen die ANC? Die Solidariteit Beweging met al sy organisasies spog dat dit ongeveer 500 000 gesinne bestaan.
500 000 gesinne, met ten minste 2 volwassenes, 2 stemgeregtigdes, per gesin. Met ander woorde 1 miljoen kiesers minimum. Solidariteit dink ook 99% dieselfde oor die politiek soos die Vryheidsfront-Plus. Maar kom dit by ‘n verkiesing, dan kry die VF-Plus skaars 400 000 stemme. Wats dan fout? Ek weier om te glo dat die ander 600 000 almal DA stem. Hoe kan ons mense stem vir ‘n party wat ten gunste van regstellende aksie is? Iewers is KLOMP van ons eie mense wat bloot nie aan verkiesings deelneem nie, maar ons is GOU om te kla oor alles wat skeefloop in SA. Eendag wanneer ons mense almal weg is, sal ons grafskrif lees “ten gronde gegaan weens gebrek aan belangstelling, gebrek aan samewerking en alewige verskonings van wat help dit tog om deel te neem aan verkiesings”.

Treurwilger ·

Skitterende artikel!
“Dit laat ‘n mens verstom dat vernietigende beleidsrigtings so lank geduld word, dalk sê dit iets van ons almal wat in die land woon”.

Dié woorde moes ten minste 20 jaar gelede reeds gesê word deur alle gesaghebbendes in die sakesektor en akademie wat só gewillig met die ANC saamgespeel het.
Dit sou die emigrasie-stroom in sy moedelose spore stuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.