Mandela tot Ramaphosa: Kan ANC-skip van rigting verander?

Nelson Mandela en sy vrou, Winnie, op 11 Februarie 1990 kort nadat Mandela uit die Victor Verster-gevangenis vrygelaat is. Foto: (AP Photo/Greg English, File)

Dit was vandeesweek presies 30 jaar gelede dat die toekomstige pres. Nelson Mandela as vrye man by die hekke van die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl uitgestap het. Dit was die begin van ’n nuwe era in die Suid-Afrikaanse politiek.

Mandela, soos maar die geval met talle politici is, was ’n man vol teenstrydighede. Ek het ’n akademiese analise van sy geskrifte voor sy inhegtenisneming in 1963 gemaak, en die man wat daaruit te voorskyn tree, is ’n totaal ander persoon as die een wat in 1990 by die hekke van die gevangenis uitgestap het.

Die aanvanklike Mandela was ’n kommunis. Ondanks sy formele ontkenning voor die regbank (wat heel waarskynlik gehelp het om sy lewe te red) dat hy lid van die SA Kommunistiese Party is, het dit later bekend geword dat hy dit wel deeglik was.

Meer nog: In sy geskrifte uit die jare vyftig blyk dit dat Mandela die Marxisme-Leninisme baie gebrekkig verstaan het. In navolging van Wladimir Lenin, wat voorspel het dat die kapitalistiese moondhede noodwendig oorlog met mekaar moet maak, het hy byvoorbeeld in 1953 geskryf dat Brittanje, Amerika, Frankryk, Nederland, Portugal en Spanje in ’n gewapende konflik met mekaar betrokke sou raak.

Dit is nie die taak van die historikus om morele oordele te vel nie; wel om te verklaar en te verstaan. Teen dié agtergrond moet daarop gewys word dat daar in dié tyd vir enige swart persoon wat apartheid wou beveg, nie baie alternatiewe was nie.

Soos hy self in sy outobiografie geskryf het: “Dialectical materialism seemed to offer both a searchlight illuminating the dark night of racial oppression and a tool that could be used to end it.”

Dit beteken nie dat die jong, militante Mandela gewetenloos was nie. Die uitdruklike uitgangspunt van die aanvanklike sabotasieveldtog wat hy in die vroeë jare sestig gelei het, was om bloedvergieting te vermy.

Wat hy nie begryp het nie (en waaroor hy vanuit die gevangenis geen beheer kon uitoefen nie), was die eskalerende aard van geweldpleging. Dit het allengs uitgegroei tot ’n ordinêre terreurveldtog wat onskuldige burgerlikes in restaurante, winkelsentrums en sportstadions geteiken het.

Die merkwaardige is dat Mandela se jare in die gevangenis hom nie sigbaar verbitter het nie. Dis waar, ná sy vrylating het ek in private gesprekke blyke van bitterheid oor sy 27 jaar se opsluiting “in a white man’s prison” by hom gehoor, maar hy het nie toegelaat dat dit sy openbare houding bepalend beïnvloed nie.

Hy het sy tyd agter tralies gebruik om intensief oor die Afrikaners se agtergrond, mentaliteit en geskiedenis te lees. Sonder dat hy ooit goedgekeur het wat die Afrikaners aan sy mense gedoen het, het hy die akademiese pad van verklaring en verstaan bo dié van woede en wraak gekies.

Die uiteinde van die saak is dat hy, heel merkwaardig, begrýp het wat die Afrikaners beweeg, wat hul strewe en hul vrees was. Ná sy vrylating het hy daarmee rekening gehou, sonder om daaraan toe te gee. In die proses het Mandela die Afrikaners se harte gewen. Mense het hom bewonder.

En inderdaad, hy was die regte mens op die regte plek op die regte tyd. Sy presidentskap was vyf jaar van versoening en handevat.

Natuurlik het dinge nie altyd ewe glad verloop nie. Dit was ook die tyd dat die wapenskandaal – korrupsie van die ergste soort – plaasgevind het. Dit was ook die tyd dat regstellende aksie en kaderontplooiing gestalte begin kry het.

Wat ons nie destyds besef het nie, was dat dit eintlik maar ’n voortsetting van die ANC/SAKP se politieke kultuur in ballingskap was. Daaraan het Mandela uiteraard geen aandeel gehad nie, maar hy het, agterna gesien, ook nie genoeg gedoen om dit in die kiem te smoor nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/ GCIS

Vandag weet ons die ANC se manier van regstellende aksie en kaderontplooiing is regstreeks verantwoordelik vir die gemors waarin ons land verkeer. Eskom, die SAL, die pogings om ontslae te raak van Pravin Gordhan (een van die weinige bekwame ministers in die kabinet), die flagrante onbekwaamheid van die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, die felle aanslag teen pres. Cyril Ramaphosa weens sy pogings om korrupsie in te dam – dit is alles die gevolg van ’n kultuur wat al in die ANC se ballingskap begin en tydens Mandela se presidentskap wortel geskiet het.

En dan praat ’n mens nie eens van die ineenstorting van munisipale dienste, die pogings van die ANC-staat om grond en mense se pensioengeld te steel nie, en ook nie van die regters wat hulle deur die ANC-ideologie rakende die Grondwet se bepalings oor Afrikaans laat lei nie.

Die merkwaardige is dat die ANC dikwels nie eens weet in welke mate hy die land verwoes nie.

Ek gesels onlangs met ’n goeie vriend wat in die vliegtuig langs ’n ANC-lid van ’n provinsiale wetgewer gesit het. Die ANC-lid, sê my vriend, het ’n heel eerlike indruk gemaak, maar was totaal onbewus van die gemors wat sy party van sy provinsie maak.

Die ironie van die saak is dat die oplossing – weliswaar in teorie – nie eens so moeilik is nie. Dis eenvoudig om die kaderontplooiing en baantjies vir boeties te beëindig en die groot reserwe aan kundigheid en ervaring wat in die land voorkom, in te span om dinge reg te ruk.

Maar … die probleem is dat daardie reserwe dikwels by wit mense voorkom. En dis polities uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie, om die ANC-skip van rigting te laat verander.

Pres. Ramaphosa het onlangs in ’n toespraak te kenne gegee dat dit inderdaad is wat hy wil doen. Maar sê is een ding, dóén is ’n ander.

Wat sake ook bemoeilik, is dat talle swart mense se emosioneel bepaalde alternatief vir die ANC nie soseer die DA of VF+ is nie, maar die EFF se goedkoop populisme.

’n Mens moet begrip hê vir Ramaphosa se geskipper om sy politieke kop bo water te hou. Maar uiteindelik gaan dit om die vraag of hy die soort morele moed aan die dag kan lê wat nodig is om die land te red.

Indien nie, gaan dít wat tans met Eskom en die SAL gebeur, die hele Suid-Afrika se voorland wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mieke ·

Ek persoonlik kan Ramaphosa nie peil nie. Aan die één kant blyk hy intelligent en eerlik te wees . Dit wil voorkom of hy regtig korrupsie wil uitwis, maar dan kom jy by die ontkenning van die plaasmoorde, en die vrylating van misdadigers, ens. Ek kan dit nie verstaan nie. Vir seker sit hy met Zuma se gemors en sit hy met baie valse en korrupte ministers om hom. Sou dit wees dat hy maar eintlik ‘n politieke gevangene binne die ANC is? Deesdae kan mens niks meer glo nie. Korrupsie gaan steeds voort en niks daadwerklik word daaraan gedoen. Die ANC self as regeringsgroep is egter een groot mislukking! Dis ‘n gegewe!

Simon ·

Alles water onder deur die brug. Die keuses is gemaak. Die dobbel stene is gegooi. Die skip sal voort vaar na sy eindbestemming en almal aanboord ,ongeag wie aan die stuur is, saam neem. Van omraai is daar nie meer sprake nie. Die wat kan, het reeds afgeklim. Ander het nie die vermoe of reddingsbootjie nie en moet ongelukking aan boord bly. Kyk na die statistieke. Statistieke oor die samestelling van die passesiers. Die antwoord op die eindbestemming le daarin opgesluit.

Henk ·

Dit gaan nie net oor CR nie, die probleem is die ANC. En solank as wat CR deel bly van die ANC, is hy deel van die probleem. ‘n Suksesvolle Suid-Afrika onder beheer van die ANC is nie moontlik nie.

Helizna ·

Vra eerder… Het die marksistiese terroriste dan nog nie vir julle genoeg bewys hulle is nie skeepslui nie?

Marthinus W ·

Een dag, terwyl ek in die CNA (die Central News Agency, nie n disleksiese akroniem nie) op die hoek van Commissioner- en Rissikstraat staan en boeke lees, het Nelson Mandela ingestap. Ons het mekaar aangekyk, maar ek het geen behoefte gehad om met hom te praat nie. (Ek was nog vies omdat sy twee fris lyfwagte my onderstebo gestamp het.) Toe begin die swart werkers hom toesak en aanbid, waarop ek uitgestap het.

Mandela was ses (6) keer sy vrylating aangebied, indien hy geweld sou afsweer. Hy het geweier. So, sy bitterheid oor 27 jaar inn witman se tronk was deels sy eie skuld.

“Why Nations Fail” (Crown, 2012, en gratis aanlyn beskikbaar) deur Daron Acemoglu en James A. Robinson, het bevind dat lande ryk word indien hulle ekonomiese instellings, `n oop gemeenskap, private eiendom, oop pluralistiese politieke stelsels en die wedywering daarin, het. Maar veral instellings, wat aansporings bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.