Maskers van die gekheid

Deur Hercules Boshoff

Hercules Boshoff.

In dié tyd waarin Leon Schuster se films nie vir hulself kan praat nie, is dit miskien ander se taak om iets daaroor te sê.

In die verlede is Schuster se films klokslag deur gesiene resensente afgekraak, terwyl dit by die breë publiek ‘n kultusstatus geniet het. Die afkraak van komedie in kunskringe is egter geen onlangse verskynsel nie.

Aristoteles spreek in sy Poetica al sy verbasing uit oor die feit dat daar so min geskryf is oor komedie in vergelyking met ander kunsvorme. Sy definisie van komedie kan ‘n leidraad vir dié eeue-oue vooroordeel bied. Anders as in die geval van tragedie, waarin bewonderenswaardige en gesiene figure tot ‘n val kom (wat simpatie, maar terselfdertyd nadenke prikkel oor wat die regte optrede sou wees), word komedie gekenmerk deur nie-bewonderenswaardige karakters van wie ons onsself kan distansieer en sodoende vir hulle pyn kan lag (alle grappe word, soos met tragedie die geval is, deur pyn, pathos, gekenmerk). Hoewel dit mag voorkom of hierdie kunsvorme hemelsbreed verskil, is die teendeel eintlik die geval, soos mens vermoed wanneer jy na die begrippe kyk: die Griekse woord vir die noodlottige fout van die tragiese held is hamartia (ook die woord vir sonde), terwyl die woord vir die bespotlike daad hamartêma is, wat daarop wys dat dié twee verskynsels – nie alleen grammatikaal nie, maar ook in werklikheid – dikwels mekaar se ruimtes kan binnedring.

Maar wat het hierdie ou insigte nou eintlik met die kwessie rondom die stilmaak van Schuster se prente te make? Laat ek eers ‘n opmerking of twee oor Schuster se films maak. ‘n Film skep gewoonlik ‘n fantasie waarin die kyker ingetrek word, vir ‘n wyle vertoef en dan terugkeer na sy alledaagse bestaan, hoogstens indirek aangeraak deur gebeure wat uitgebeeld word. Schuster doen dit andersom: soortgelyk aan die sirkus en karnaval wat deur dorpe beweeg, beweeg die blufkarakter in jou wêreld in; maar in plaas daarvan om ‘n afgebakende sirkustent op te slaan, is Schuster se filmstel die werklikheid. Anders gestel: dit keer die werklikheid op sy kop en maak van die werklikheid ‘n sirkus.

Die belangrikste inversie is egter nie dié van die filmstel en werklikheid nie, maar die akteurs. Agter die nar se masker lê insig, terwyl Jan Alleman se indruk van die werklikheid blootgestel word as vals. Sy oorgevoeligheid en erns, oftewel sy pyn, word bespotlik voorgestel; sy pathos word as pateties uitgebeeld (al te dikwels in die geskiedenis gebeur dit dat komedie verban word sodra die ooreenkoms tussen pynvertonings en bespotlike gedrag te merkbaar raak). In Aristoteles se taal: die film skakel hamartia oor tot hamartêma. Dit gee natuurlik aanleiding tot die verontwaardiging van die persoon op wie die poets gebak word. Hierdie verontwaardiging stroop jou nie van jou waarde as ‘n mens nie, dit skep eerder ‘n afstand tussen jou en ‘n waarde wat jy op ‘n bepaalde punt aanhang.

Die inversie het voorts ‘n effek op die gemoed van die kyker omdat ‘n dubbele vereenselwiging plaasvind: enersyds die vereenselwiging met die poetsbakker (ook in sy hoedanigheid as skynverteenwoordiger van ‘n groep) en andersyds met die niksvermoedende persoon aan die ontvangkant. Dié dubbele vereenselwiging bring ook die moontlikheid van afstand en nadenke. Om ‘n pragtige beeld by Plato te ontleen: dit omskep die siel in ‘n teater, ‘n teater waarin ons tegelyk verskillende perspektiewe op ‘n bepaalde saak insien. Die maskers van komedie is histories een van die effektiefste werktuie hiervoor.

In Schuster se geval gaan dit oor die introspeksie van die siel van ‘n nasie. Is Schuster se films daarom eties? Is daar ‘n les of ‘boodskappie’ wat mens kan wegneem, ‘n ‘danasnymanisme’? Gee dit vir ons ‘n handleiding vir optrede? Nee, en komedie moet ook nie neerhalend en moralisties probeer wees nie. Dit boots ons almal na, ruil rolle en kry ons om vir en oor onsself en ander te lag. Daarmee wil ek ook nie sê dat komedie nie self beïnvloed word deur ideologie nie. Komedie wat dit egter so sterk beroep op ideologie dat dit vir jou voorskryf wanneer om te lag, selfs byklanke van lag invoeg, is vals komedie. So ’n geforseerde lag kan selfs ‘n bedreigende effek op die samelewing hê.

Dit bring ons by die donker kant van komedie. Wanneer verontwaardiging in die vorm van die afkraak van ‘n groep ‘n ritueel word, wanneer werklike lyding bespotlik gemaak word, wanneer dit polities korrek word om nie vir een groep te lag nie maar wel vir ‘n ander, is dit rede tot kommer. Mens moet komedie uit vrye wil kyk, nie onder druk voel om te lag nie, en nie lag omdat die een of ander politieke ontleder, filosoof, teoloog, of, les bes, resensent dit aanbeveel nie. In die geval van Schuster se films het hierdie aanbevelings mense nie gekeer om daarna te kyk nie en sal dit in die tyd wat kom ook nie. Schuster films is nou soos rook: Dis verban, maar die meeste mense hou hulle uit vrye wil steeds daarmee besig.

  • Hercules Boshoff is ʼn post-doktorale navorser aan die departement van ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Hy het sy doktorsgraad in filosofie aan die Universteit van die Vrystaat verwerf.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaan ·

Herrinner my aan een van my voorgeskrewe boeke – Koning van Katoren. ‘n Samelewing moet maar werklik versigtig wees om sy narre stil te maak. As die koning kaal is, kan ‘n nar dit darem nog waag om dit uit tewys. As al die narre met geweld stil gemaak word, moet die hele samelewing maar met die klug saam speel… Despote en sosialisties stelsels verkreuk maar altyd die glimlagte van hulle landsgenote deur hulle narre te onder druk. En ja, die nagemaakte/ ideologiese woorde van ‘n nar (wat dit met opset of uit onverstandigheid uiter) val maar swaar op die oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.