Meer terugslae vir vryheidstrewe in Katalonië

Betogers het in Barcelona opgeruk nadat Spanje se hoogste hof 12 voormalige Katalaanse politici en aktiviste gevonnis het vir hul betrokkenheid by die onafhanklikheidsreferendum. Foto: (AP Photo/Bernat Armangue)(AP Photo/Bernat Armange)

ʼn Vriend in Katalonië plaas Maandag nuus op sy Facebook-profiel dat misdadigers in Spanje tussen 10 en 15 jaar tronkstraf vir moord, tussen 12 en 15 jaar vir verkragting en tussen agt en 15 jaar vir betrokkenheid by ʼn terreurorganisasie kry. As jy ʼn onafhanklikheidsreferendum organiseer, kry jy tussen nege en 13 jaar tronkstraf.

Ná die uitspraak van die Spaanse hooggeregshof is hy natuurlik nie verkeerd nie. Nege politieke leiers in die noordoostelike streek, Katalonië, is Maandag deur die Spaanse hoogste hof tot tussen nege en 13 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle by die onafhanklikheidsreferendum in 2017 betrokke was. Die hof het ook ʼn Europese lasbrief vir die inhegtenisname van die voormalige Katalaanse president, Carles Puigdemont, wat tans uit vrees vir vervolging oorsee woon, uitgereik.

Wanneer daar internasionaal oor die reg op selfbeskikking gepraat word, is Katalonië een van die beste voorbeelde van ʼn streek wat op selfbeskikking geregtig behoort te wees. Katalane is nie Spanjaarde nie. Hulle het ʼn eie, unieke geskiedenis, taal en kultuur en woon grootliks gekonsentreerd in Katalonië in die noordooste van Spanje. Voorts is Katalane met reg daaroor ontevrede dat hul streek jaarliks deur belasting ʼn groot bydrae tot die finansies van die Spaanse nasionale staat moet lewer, terwyl hulle weinig daarvoor in ruil ontvang. Katalonië is ryker en ekonomies meer suksesvol as al die ander provinsies van Spanje. Die derde rede waarom Katalonië op onafhanklikheid geregtig behoort te wees, is juis omdat ʼn meerderheid van kiesers in die 2017-referendum ten gunste van onafhanklikheid gestem het. ʼn Mens kan dus aanvoer dat ʼn meerderheid van Katalane ten gunste van onafhanklikheid is.

Tog het die Katalane se vryheidstryd grootliks misluk. Toe die outonome regering in Katalonië in 2017 ná afloop van die referendum onafhanklikheid verklaar het, het die Spaanse regering met ongekende geweld ingegryp en die onafhanklikheidsproses tot ʼn einde gebring. Katalonië se outonomie is tydelik opgeskort, politieke leiers is in hegtenis geneem en Spaanse polisie- en weermaglede het ferm opgetree om seker te maak die Katalane doen nie enige stappe om onafhanklikheid te bewerkstellig nie.

Polisie en betogers het Dinsdagaand slaags geraak in Barcelona nadat Spanje se hoogste hof 12 voormalige Katalaanse politici en aktiviste gevonnis het vir hul betrokkenheid by die onafhanklikheidsreferendum. Foto: (AP Photo/Bernat Armangue)

Die Katalane se stryd teen Spaanse onderdrukking is niks nuuts nie. Reeds tydens die oorlog van 1635 tot 1659 tussen Frankryk en Spanje het die Katalane in opstand gekom en is ʼn eie republiek vir ʼn kort rukkie opgerig. Kort daarna het Frankryk egter beheer oor Katalonië geneem, maar in 1659 is die grootste deel van Katalonië weens die bepalings van die Verdrag van die Pireneë aan Spanje oorgedra, terwyl Frankryk die noordelike streek behou het. Die Katalane is in 1714 weer verslaan en Spaans is as taal in al die instellings in Katalonië ingestel.

Die Katalane het egter nooit hul taal en kultuur verloor nie en ná industrialisering het die onafhanklikheidsbeweging sy energie behou. Katalonië het in 1939, met die Spaanse republiekwording, outonomie gekry, maar dit is kort daarna weer deur die Franko-diktatorskap onderdruk. In 1979 is Katalonië se outonomie herstel en sedertdien geniet die provinsie ʼn wesenlike mate van selfregering.

Tog was die afgelope 40 jaar se outonomie vir baie Katalane nie genoeg nie. In 2012 het 1,5 miljoen mense in Barcelona, die hoofstad van Katalonië, aan ʼn onafhanklikheidsoptog deelgeneem. Dit was duidelik dat steun vir onafhanklikheid aan die toeneem was.

Die uitslag van 2017 se referendum was dus nie so verrassend nie. ʼn Meerderheid van Katalane wou volle onafhanklikheid van Spanje hê ten spyte van al die ekonomiese en ander risiko’s wat dit kon inhou. Katalonië was, en is steeds, uitstekend gerat om as ʼn onafhanklike land te funksioneer. Die streek is ekonomies sterk en voer meer as 50% van sy produkte na ander dele van die wêreld, buite Spanje, uit. Die Katalane is ʼn groot meerderheid in die provinsie en met ʼn eie taal en kultuur maak ʼn onafhanklike Katalonië baie sin.

Waarom het die Katalane se strewe na onafhanklikheid dan misluk?

Die belangrikste rede daarvoor is dat daar vir geen ander land ʼn wesenlike voordeel daarin was nie. Baie Europese leiers vrees ook ’n soort Balkanisering van Wes-Europa, sou verskeie streke op onafhanklikheid begin aandring.

Terwyl Kosovo, in Oos-Europa, minder goeie argumente vir onafhanklikheid gehad het en definitief minder gerat was om as ʼn onafhanklike land van Serwië te funksioneer, het meer as 100 lande – insluitende die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Italië – Kosovo se onafhanklikheid erken. Die rede hiervoor was dat dié lande ʼn eie belang in Kosovo se onafhanklikheid gesien het en die onafhanklikheid van Kosovo as ʼn oplossing van ʼn ou geskil beskou het.

Polisie en betogers het Dinsdagaand slaags geraak in Barcelona nadat Spanje se hoogste hof 12 voormalige Katalaanse politici en aktiviste gevonnis het vir hul betrokkenheid by die onafhanklikheidsreferendum. Foto: (AP Photo/Bernat Armangue)

Die leierskap van Katalonië het die belangrikheid van internasionale erkenning onderskat. Met hul onafhanklikheidsverklaring het nie een enkele land dit erken nie, terwyl die regerings van Skotland en Vlaandere flou ondersteuning gebied het. ʼn Paar lande het die gewelddadige onderdrukking van die onafhanklikheidsbeweging deur die Spaanse regering veroordeel, maar al die groot moondhede wat omtrent baklei het om eerste te wees om Kosovo se onafhanklikheid te erken, het in die geval van Katalonië daarna verwys as ʼn interne Spaanse aangeleentheid.

Die Europese Unie en die Verenigde Nasies, wat albei die reg op selfbeskikking erken, het ook geen poging aangewend om eers simpatie vir die saak van die Katalane te toon nie. Indien Kosovo se onafhanklikheidsverklaring in 2010 deur geen ander land in die wêreld erken is nie, sou Kosovo ook nie vandag ʼn onafhanklike land gewees het nie. Katalonië was duidelik oorhaastig met hul onafhanklikheidsverklaring en moes eers heelwat meer moeite gedoen het om internasionale steun te bekom.

Vandag verkeer die onafhanklikheidsbeweging in Katalonië in ʼn krisis. Baie van hul leiers is in die tronk of word steeds vervolg. Verder is daar min, indien enige, internasionale simpatie vir hul saak. Dit is hoofsaaklik in ander streke van die wêreld wat ook na onafhanklikheid streef soos Skotland, Vlaandere, Madeira, Beiere en Suid-Tirool waar daar steun vir die Katalane is en dan ook net op ʼn individuele of partypolitieke basis, sonder enige regeringsteun.

Die kanse vir Skotse onafhanklikheid is vandag groter as die kans dat Katalonië onafhanklik sal raak. Die Katalane het nog net een opsie oor om hul onafhanklikheid te verwesenlik en dit is gewapende verset. Die Spanjaarde weet egter baie goed dat die Katalane nie sover sal gaan nie.

Geen onafhanklikheidstrewe is maklik nie. Dié strewe in Kosovo was duidelik een van die makliker gevalle die afgelope paar jaar. Daar is egter baie lesse te leer uit die mislukte vryheidstrewe van die Katalane.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico K ·

Dit is jammer dat daar eers oorlog moet wees en mense vermoor word voordat selfbeskikking oorweeg word. Wat gaan die Spanjaarde verloor? Ja seker ‘n inkomste, maar so erg kan dit nie wees nie.

Derek ·

Baie dankie vir hierdie insiggewende artikel – dit is sekerlik die mees omvattende verslag oor hierdie onderwerp wat ek tot nog toe in die plaaslike media teegekom het. Moet egter nie die Katalane se stryd om onafhanklikheod sommer so afskryf nie. Die jongste kragdadige optrede van die sentrale regering, tesame met die ekonomiese en kulturele realiteite wat nog steeds hier geld, mag dalk net beteken dat Madrid hier ‘n lat vir sy eie bas gepluk het.

Juan Escabias ·

Ongelukkig is hierdie artikel deurtrek met false of onakkurate feite. Ek stel voor dat U navorsing dieper, deegliker en meer neutraal moet wees. Om iemand se Facebook kommentaar as feite te stel is n n klad op joernalistieke werk.
Die Katalonië saak is nie eendimensioneel nie. Met die vorige, onwettige, referendum, het slegs 52% van die stemme gegaan ten gunste van onafhanklikheid. Die Spaanse regering sal vreeslik onverantwoordelik wees om 48% van die streek se bevolking sonder meer te abandoneer. Sonder mediese versekering, sonder pensioenvoordele ens. Hierdie is weereens n voorbeeld van politici wat deur middel van leuns (Brexit) die bevolking beïnvloed sodat hulle meer mag kan hê en meer geld kan inpalm. Ek eindig met hierdie feit, Quim Torra, die huidige president van Katalonië verdien meer as dubbel as wat die Spaanse president verdien. Dis uiterste nasionalisme, fasisme, en vet katte wat meer win meer vreet.

Jaco Kleynhans ·

Beste Juan. Jy beweer dat daar in die artikel valshede en onwaarhede is, maar dan laat jy na om presies te stel wat hierdie valshede is. Natuurlik het enige saak twee kante. Een van die basiese beginsels egter van ‘n demokrasie is die meerderheidsbeginsel in verkiesings en referendums. Sou 50,1% van Skotte in 2014 ten gunste van onafhanklikheid gestem het, sou Skotland vandag onafhanklik van die Verenigde Koninkryk gewees het. Uiteindelik het net 44,7% van kiesers JA gestem en is die wil van die orige 55,3% -naamlik dat Skotland deel van die VK moet bly, uitgevoer. Jou argument oor 48% van Katalane se standpunt is dus foutief. Net soos wat die helfte van Amerikaanse kiesers vir Hillary Clinton gestem het en toe ‘n President Trump gekry het. Dit is maar die gevolge van demokrasie.
Die probleem in Spanje is dat die Spaanse regering nie ‘n demokratiese referendum wil toelaat nie en dat hulle met geweld teen pro-onafhanklikheidsbetogers optree. Jy is welkom om my navorsing te bevraagteken, maar ek kan jou verseker dat ek daagliks heelwat hieroor lees. Ek stem saam dat talle van die pro-onafhanklikheidsleiers en organisasies nie engeltjies is nie. Ek is egter oortuig dat dit baie wyser van Spanje sal wees om met goeie argumente en deeglike debatvoering Katalane te probeer oortuig om deel van Spanje te bly en om dan ‘n demokratiese referendum uit te roep. Die regering in Madrid verloor tans sy geloofwaardigheid oor hierdie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.