Merkel wankel ná Beierse opstand

Angela Merkel, die Duitse kanselier, woon Maandag ʼn leiersvergadering by van die Christelik-Demokratiese Unie (CDU) by dié party se hoofkantoor in Berlyn. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Horst Seehofer en sy Christen-Sosiale Unie (CSU) se opstand vandeesweek teen Angela Merkel plaas identiteitspolitiek in die Duitse hoofstroom.

Seehofer is nou ’n paar maande ook die minister van binnelandse sake in Merkel se nuwe koalisieregering. Die CSU wat hy lei is al vir dekades die grootste party in die ryk deelstaat Beiere en die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van Merkel se vennoot.

Seehofer het ’n meesterplan met 63 punte vir ’n nuwe migrasiebeleid opgestel. Merkel wou nie sy punt aanvaar dat sekere asielsoekers direk by die grens tussen Beiere en Oostenryk teruggestuur kan word nie.

Seehofer het daarop aangedui dat hy sy beleid in Beiere gaan laat deurvoer. Dit was ’n direkte aantasting van Merkel se gesag wat haar nuwe koalisieregering laat wankel het. Merkel kon Seehofer afdank, maar dit sou die CSU dan wegjaag en haar jong koalisieregering laat skeur.

Volgende boksronde

Ná krisisbestuur en skuiwe deur beide kampe is die stryd nou uitgestel met twee weke. Vir die terugstuur van migrante wat reeds in ander lande geregistreer is, is die CSU bereid om te wag tot ná Merkel se beraad met EU-leiers einde Junie om ’n nuwe Europese migrasiebeleid aanmekaar te timmer. Merkel mag voldoende ooreenstemming met EU-leiers bereik om ’n strenger grensbeheer in die EU moontlik te maak. Sou sy egter iets wat sy die afgelope drie jaar nie kon of wou bereik nie, nou vinnig bereik?

Seehofer gaan egter reeds begin met planne dat asielaansoekers wie se aansoek voorheen afgekeur is, direk by Beiere se grense met Oostenryk teruggestuur word. Selfs volgens die links-sentristiese Der Spiegel lyk Merkel na die verloorder van hierdie ronde. Sy het nog haar posisie, maar haar gesag oor migrasiebeleid is min.

CSU onder druk van AfD

Die stryd binne die Merkel-koalisie sal moontlik einde Junie weer losbars. Seehofer het reeds in 2015 Merkel kritiseer toe sy byna ’n miljoen migrante in Duitsland toegelaat het sonder behoorlike navolging van Duitse en Europese regsreëls. Hy is ook onder druk van sy partyteenstander Markus Söder, die Beierse streekspremier, wat ’n totaal ander Duitse asielpolitiek eis.

Vir sowel Seehofer as Söder is die CSU se geloofwaardigheid ook op die spel. Die party is weens die opkoms van die nasionalistiese AfD (Alternative für Deutschland) bekommerd dat dit sy posisie as Beiere se meerderheidsparty kan verloor in die verkiesings vir die Beierse streekparlement in Oktober. Die AfD kon, danksy Merkel se beleid en ontwikkelinge daarna, reeds groei tot die derde grootste party in Duitsland.

Geweld en migrante raak brandpunt

Beiere het ’n eie streeksidentiteit waarop die konserwatiewe CSU bou. Maar volgens meningopnames is sowat 52% van Duitsers in al sestien deelstate deesdae krities oor Merkel se migrasiebeleid. In onlangse meningsopnames van die ARD wil 62% van die Duitsers dat asielsoekers by die grense teruggestuur kan word.

Veral sedert die seksueel-getinte aanvalle deur jong asielsoekers en migrante op jong vrouens tydens die Nuwejaarsfees 2016 in Keulen, verander die Duitse openbare mening. Ook terroriste-aanvalle het begin in Duitsland, soos die aanval deur ’n migrant op die Kersmark in Berlyn in 2016.

Deesdae loop die beker oor. Die 14-jarige Duits-Joodse dogter Susanna Feldman is in Mei 2018 verkrag en vermoor en haar lyk op 6 Junie gevind. ’n 20-jarige Irakees, Ali Bashar, het reeds erken dat hy die skuldige is. Sommige media maan teen rassisme. Die Duitse Bild-koerant, daarenteen, noem dat Merkel die familie van Susanna ’n verskoning skuld.

Beeld van swak staatsbeskerming

Die moord op Susanna versterk die beeld van ’n staat wat beheer verloor het nadat Merkel die asielstroom toegelaat het. Bashar het in Oktober 2015 ná Merkel se besluit met sy ouers en vyf susters in Duitsland aangekom. Hulle was ekonomiese geluksoekers, nie politieke vlugtelinge nie.

Dit blyk nou dat sy asielsaansoek afgekeur is, maar dat hy kon aanbly. Dit blyk ook dat hy sedertdien moontlik betrokke was by ’n rooftog met ’n mes, aanvalle op polisiebeamptes, en die groepsverkragting van ’n elfjarige by die asielsentrum waar sy familie gebly het.

Ander gevalle bly in die openbare bewussyn. In Freiburg in 2016 het ’n migrant die 19-jarige Maria Ladenburger verkrag en verdrink. In Kandel het ’n migrant einde 2017 die 15-jarige Mia Valentin met ’n mes doodgesteek. “Dit is geen enkele geval meer nie,” sê Susanne Schröter. Dié etnoloog en hoof van die navorsingsentrum Globale Islam by die Goethe-universiteit in Frankfurt praat nou van ’n kulturebotsing.

Alliansies teen Merkelpolitiek

Kultuurvryheid en Selfbestuur (Kraal-Uitgewers 2017) noem die moontlike opkoms van ’n informele alliansie van identiteitspolitici rondom Beiere, Oostenryk en Hongarye. Sedertdien bevestig ontwikkelinge só ’n politieke golf.

Viktor Orban se nasionaalkonserwatiewe Fidesz-party het ’n reuse-oorwinning behaal tydens die Hongaarse verkiesing in April. Die nuwe Italiaanse koalisieregering se minister van binnelandse sake, Matteo Salvini, weier dat bote met migrante uit Afrika in Italiaanse hawens aanmeer. Die nuwe Oostenrykse koalisieregering van Sebastian Kurz is besig om moskees in Oostenryk strenger te beheer en asielsentra buite die EU te probeer versterk. Nou is daar ook die Beierse opstand. Al die rolspelers skakel deesdae onderling met mekaar.

Drie Duitse politici wat aandring op strenger migrasiebeleid, wag reeds op die tydperk ná Merkel se huidige termyn: Binne die CSU is daar die nuwe Beierse streekspremier, Markus Söder, binne die markliberale FDP, Christian Lindner, en binne die CDU, van Merkel Jens Spahn. Die CDA-streekspremier van Sakse, Roland Wöller, wil reeds verder gaan as Seehofer met grensbeheer.

’n Nuwe Weste

Trump se Twitter-reaksie vandeesweek is: “Die bevolking van Duitsland is besig om teen hul leierskap te draai terwyl migrasie die reeds wankelende Berlyn-koalisie skud. Groot fout gemaak oor Europa heen om miljoene mense in te laat wat so sterk en gewelddadig hulle kultuur verander. Ons wil nie hê dat dit wat deur immigrasie in Europa gebeur, met ons gebeur nie.”

Die temas van identiteitspolitiek en veiligheid is nou ook in Duitsland in die hoofstroom. Die politiek sal ook ná Merkel gepaardgaan met diep verdeelde kampe en emosionele debatte hieroor.

Mense leef in ’n nuwe Weste.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Will ·

President Trump slaan die spiker op die kop met sy kritiek teen Merkel, al wil die linkse media dit ontken of probeer rasionaliseer dat geweld eintlik die afgelope tyd afgeneem het in Duitsland. Gaan praat egter met die duitsers in Berlyn, Frankfurt en ander stede en kyk self hoe die milieu in Duistland en Europa radikaal verander het na die migrasie-krisis. Die beelde wat destyds op TV vertoon is, het meestal jong, sterk mans in hulle hordes getwys wat asiel soek, terwyl die vroue en kinders in die minderheid was. Laat mens wonder of dit nie eerder die Trojaanse perd was wat Europa ingery het nie!

Rupert Ashford ·

Probleem is “Mense leef in die Weste”. En daardie mense wil ook graag veilig voel in hulle eie lande en nie voel soos vreemdelinge of indringers nie. Dit is een ding om “compassion” te he vir vlugtelinge, maar heel anders om ook ekonomiese kansvatters in the sluit in die “vlugtelinge” en “asielsoekers” mandjie. As iemand kan teruggaan na sy land van oorsprong om by sy familie te gaan kuier is hy nie ‘n asielsoeker nie, maar iemand wat ‘n beter lewe (polities, ekonomies of wat ookal) soek – punt. Ons word leuens gevoer.

White Rhino ·

Baie van wat in Duitsland gebeur mag nie op die nuus gese word nie – hulle is al ver van die pad af en die regte Duitsers is al moeg vir die leuens wat vir die wereld gevoer word.
Hulle enigste hoop is dat Merkel moet loop. Ek hoop dit gebeur gou.

Danie ·

Wat gaan ons in Suid-Afrika met die vraagstuk doen. Suid-Afrika word al vir ten 100 jaar deur fortuinsoeker uit Afrika binnegestroom. Mense wat nie vir die land omgee nie maar net wil geld maak en hulle gebrekkige en soms baie primitiewe lewenswyse wil toepas. Soveel so dat dit tans ten minste 1 teen 10 westers teen ander is.

Liberaal ·

Merkel is een van die sleutelgodinne van die nuwe wereld orde, die duitsers moet nou aanvaar dat hulle hulle land en kultuur moet weggee, dit is die polities korrekte ding om te doen en ons sal hulle herinner via die massamedia om nie te bly klouy aan hulle tradisionele waardes of eiendom nie. Hulle is nou oud, dis tyd om hulle woongebiede en werksgeleenthede aan die gekleurde nuwe generasie af te gee en om aan allah te subject.

Liberaal ·

Merkel is een van die sleutel globale elite figure van die nuwe wereld orde. Die duitsers moet nou aanvaar dat hulle hulle land en kultuur moet weggee, dit is die polities korrekte ding om te doen en ons sal hulle herinner via die massamedia om nie te bly klou aan hulle tradisionele waardes of eiendom nie. Hulle is nou oud, dis tyd om hulle woongebiede en werksgeleenthede aan die gekleurde nuwe generasie af te gee en om die moslemgeloof of geen geloof aan te neem, aldus die linkses se plan.

White Rhino ·

Liberaal – wat jy voorstel gaan die Duitsers – of liewer die AFD nie toelaat nie – en hulle getalle groei.

Tobie ·

Ek was onlangs in Duitsland. Die duitsers is regtig n spul onaangename mensies. Wat my betref, kan die moslems daai land maar oorstroom. O ja, ek is alles behalwe liberaal. Ek is juis n lid van die Orania beweging. Ek hou maar net nie van Wes-Europa nie.

jaco ·

Vreemd dat hierdie “vlugtelinge” so maklik in Duitsland inkom, maar ek wat net ‘n toeriste visum vir Duitsland wou hê, moes honderde vrae oor wie en wat ek is beantwoord PLUS ‘n reusagtige bedrag vir die visum betaal. By aankoms in Duitsland is ek weer ondervra, asook 2 weke later toe ek reg was om terug te keer SA toe.

Merkur ·

Absoluut reg Jaco. Dis maar omdat die links ekstremiste en marxiste sedert die 90 er jare beheer wie in Duitsland inkom en wie nie. Maar die linkses se dae is getel en daar kom weer ander tye.

Rynhardt ·

Merkel het haar eie loopbaan vernietig met die toestroming van inwettige immigrante na Duitsland en Europa ! Daar word hard gepoog agter die skerms om van die kanselier ontslae te raak.Sy sal vervang word met n diktator wat die septer oor Duitsland en Europa gaan swaai.

Merkur ·

Goeie meningstuk. Daar is nog veel meer voorbeelde van geweld wat seker baie artikels vol sal maak.

Om „terrorisme te beveg“ het die CSU regering van Beiere onlangs die polisie wette, Polizeiaufgabengesetz (PAG) in Beiere, verander na die strengste wette sedert 1945. Onder andere kan ´n mens nou bloot op verdag in hegtenis geneem word om moontlike gevaar af te weer. Ook meer bevoegnisse vir internet observasie is besluit. Dis waarskynlik dat die nuwe polisie wette in Beiere een of ander tyd in die hele Duitsland gaan geld. Daar vind reeds in die hele Duitsland gereeld huis-deursoekings by mense plaas wat glo „hate speach“ , „fake news“ en „anti-immigrant“ rhetorik in internet versprei. Die mense, wie se selfone en rekenaars dan vir ontleding gekonfiskeer word, word meestal aangekla.

Baie Oos-Duitsers berig, dat die Duitse regering van die laaste paar jare hulle aan die Oos-Duitse regering herhinner net voor dit inmekaar gestort het 1989. Een van die talryke parallelle is die toename aan absurde toekennings en pryse wat wedersyds aan mekaar verleen word in politiek en establishment. In hierdie geval aan en deur instansies soos kerke en menseregte organisasies. ´n Ander is die enorme kloof tussen regering en bevolking.

Tot nou toe het die CSU bewys dat hulle slegs bekommerd is oor die eie party en nie oor die bevolking van Beiere of Duitsland nie. Of dit nou gaan verander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.