Minimumloon, maksimum-skade?

Deur prof. Waldo Krugell

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Towfiqu Barbhuiya / Unsplash)

Een van die grootste ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, is die lae indiensname-koëffisiënt.

Die beraming van die koëffisiënt wat algemeen gebruik word wys as die ekonomie met 1% groei, groei indiensname met 0,5%. Ons weet dat dit oor die laaste 10 jaar ʼn gelukskoot was as die ekonomie teen 2% per jaar gegroei het, en dit beteken dan dat indiensname met net ʼn 1% per jaar groei. Dit is skaars genoeg om skoolverlaters in die arbeidsmark op te neem, en heeltemal te min om ʼn duik te maak in die werkloosheidskoers.

Die oorsaak van hierdie krisis is ontoepaslike arbeidsmarkbeleid, wat die koste en risiko om mense in diens te neem verhoog. Een element van die beleid is minimumlone.

Hierdie week is die aankondiging gemaak dat die nasionale minimumloon styg vanaf die eerste Maart tot R25,42 per uur. In persentasie terme is dit ʼn styging van 9,7%. Dit is hoër is as wat verwag is en hoër as verlede jaar se gemiddelde inflasiekoers van 6,9%.

Suid-Afrika se nasionale minimumloon is in 2018 ingestel om werkende arm mense se inkomste te verhoog. Die argumente wat aangevoer is ten gunste van die nasionale minimumloon is uiteenlopend. Eerstens help dit werkers in sektore waar min van hulle aan ʼn vakbond behoort en hulle dus nie gehelp word deur kollektiewe bedinging nie.

Tweedens is daar die argument dat as werkers beter betaal word sal hulle produktiwiteit verhoog. Ekonome noem dit ʼn doeltreffendheidsloon – as jy beter betaal word werk jy harder, want jy voel jy het baie om te verloor as jy nie jou kant bring nie.

ʼn Derde argument is dat dit kan gebeur dat die minimumloon ontmoedigde werkers terug lok na die arbeidsmark toe. As die minimumloon steeds laer is as die heersende loon kan so ʼn toename in die aanbod van arbeid lei tot werkskepping.

Die nadele is natuurlik dat dit ʼn direkte verhoging in arbeidskoste veroorsaak en dit maak arbeid ook duurder relatief tot die koste van kapitaal. ʼn Minimumloon vir ongeskoolde werkers kan ook daartoe lei dat werkers met meer opleiding en hoë vaardigheidsvlakke aandring op hoër lone om hulle loonpremie te beskerm.

Hoewel hierdie voor- en nadele na heel logiese afleidings klink, is daar min sterk empiriese bewyse vir enige daarvan in die navorsingsliteratuur. Daar is studies wat wys dat minimumlone geen impak het op indiensname nie. Ander bevind dat die impak verskil tussen sektore, of volgens hoe groot die onderneming is wat die minimumloon moet betaal.

In die landbousektor het stygende minimumlone gelei tot werksverliese op klein plase, maar groot boere het meer ongeskoolde werkers in diens geneem. In die kleinhandel was daar geen werksverliese by groot of klein ondernemings nie. Ongelukkig gebeur dit dat wanneer die navorsing nie uitsluitsel lewer oor ʼn saak nie word die uiteenlopende antwoorde opsigself ʼn argument om voort te gaan met die beleid, maar dit is ʼn fout.

Die uitdaging van navorsing is dat ekonome nie ʼn eksperiment kan bedryf soos in die natuurwetenskappe nie. As minimumloon maar ʼn aktiewe bestanddeel was wat ʼn mens in ʼn proefbuis kon gooi en dan kyk wat gebeur met indiensname! Ekonome moet met historiese data probeer uitpluis hoe verwantskappe lyk en dit terwyl al die ander veranderlikes ook verander. Af en toe probeer iemand wel ʼn kunsmatige eksperiment en een wat onlangs interessante resultate opgelewer het, is deur die Amerikaner John Horton.

Hy het 160 000 werkers bestudeer wat maatskappye in diens neem om eenvoudige aanlyn take te verrig. Dit is take soos om sekere elemente in foto’s te identifiseer en dit word gebruik om kunsmatige intelligensie-sagteware te “leer”. Toe het hy verskillende minimumlone per uur vasgestel vir verskillende werkers en gekyk wat gebeur met hulle indiensname.

Die minimumloon kon $0, $2, $3 of $4 per uur wees. Die groot voordeel van die ontwerp van die studie is dat hy deur die aanlynplatform baie geweet het van die eienskappe van die werkers, hulle produktiwiteit en aantal ure gewerk, en hy kon dit in ag neem in die analise. Die ewekansige toekenning van die minimumloon beteken dat alle sydigheid uitgeskakel word – daar is nie ʼn tipe werker of tipe werkgewer wat sistematies benadeel is deur die minimumloon nie. Daar was toe vier belangrike resultate.

Eerste het die lone wat betaal is toegeneem as gevolg van die minimumloon, soos ʼn mens sou dink. Maar teen ʼn hoë minimumloon was die waarskynlikheid dat ʼn werker in diens geneem word, kleiner. Daarby het die aantal ure wat werkers in diens geneem is, afgeneem, selfs al was die minimumloon laag. Die afname in die aantal ure waarvoor werkers in diens geneem is, het gebeur omdat lae produktiwiteit werkers vervang is met hoë produktiwiteit werkers wat meer kan doen in minder ure.

ʼn Mens besef dit is ʼn navorsingseksperiment in ʼn unieke buitelandse konteks, maar ek dink tog dit verklaar van die impak van minimumlone wat ons in Suid-Afrika sien in die landbousektor en onder huiswerkers. Minimumlone kan lei tot minder werksgeleenthede en tot werksverliese en juis die mense wat dit probeer beskerm benadeel, maar eintlik weet ons dit al lankal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaplyn ·

Die meeste van ons lyk soos daardie ou op die illustrasie foto hierbo. ONS BEURSIES IS LEEEEEEG!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.