Moedertaalonderwys dien sosiale geregtigheid

Argieffoto.

Argieffoto.

Dis maklik – en emosioneel bevredigend – om die Engels-drywers op Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein van “verraad” te beskuldig. Maar dit bring ons niks verder nie.

Nee, die openbare gesprek moet met wedersydse respek en rasionele argumente gevoer word. Dat die ander kant hulle weliswaar nie alte dikwels hieraan steur nie, kan geen rede vir my wees om ook maar te skreeu en te skel nie.

In Die Burger van Dinsdagoggend het prof. Amanda Gouws ’n uiteensetting gegee van waarom sy ten gunste van ’n Engelse Stellenbosch is. Dit nadat sy tevore verklaar het dat sy nogal gehuiwer het voordat sy ’n verklaring ten gunste van die universiteit se verengelsing geteken het, omdat sy baie lief is vir haar taal.

Die kern van haar betoog was in dié paragraaf:

“Maar wat as my besluit op ’n ander morele oorweging berus – dat ek nie wil hê dat my taal die oorsaak moet wees dat mense wat nie Afrikaans kan praat nie, in my klasse nie tot hul volle reg kom nie? Dit is ’n waardestelsel wat sosiale geregtigheid as vertrekpunt neem en nie identiteit nie.”

Gouws verdien ’n ordentlike antwoord.

Hier stel die geagte professor (as ’n mens die sarkastiese trant van die res van haar betoog buite rekening laat) twee geldige begrippe teenoor mekaar: Sosiale geregtigheid en identiteit.

Twee punte is van belang. Die eerste gaan oor (etniese) identiteit as sodanig.

Enige gematigde mens sal saamstem dat ’n mens jou etniese identiteit nie tot alfa en omega van jou menswees moet verhef nie. As jy werklik ’n gelowige Christen is, sal jou religieuse identiteit byvoorbeeld vir jou belangriker as enigiets anders, met inbegrip van jou Afrikanerskap, moet wees.

ʼn Mens kan dit ook vergelyk met jou geslagtelike identiteit. Ek is byvoorbeeld gebore as lid van die manlike geslag. Dis nie iets wat ek aktief gekies het nie; ek het dit deur geboorte verkry.

Maar ek gaan nie gebuk onder ʼn skuldgevoel omdat mans vroue soveel eeue (dikwels steeds vandag) agtergestel het nie. My manlikheid is ʼn gegewe wat ek nie meet aan die mate waarin mans op vroue neersien nie.

Dieselfde geld vir my Afrikanerskap. Ek is ʼn Afrikaner deur geboorte en sal dié identiteit slegs met die grootste moeite kan aflê – en dan slegs as daar werklik dwingende rede daartoe is.

Deel van my identiteit as Afrikaner is die taal. Afrikaans is weliswaar nie die Afrikaners se eksklusiewe besit nie; hulle deel dit met ʼn groot groep bruines en ook ʼn klein minderheid swartes wat die taal saam met hulle geskep het.

Dus: Ofskoon etniese identiteit nie allersaligmakend is nie, bly dit belangrik, ʼn wesenlike onderdeel van jou menswees wat nie onderskat moet word nie. Dus is dit noodsaaklik dat daar ʼn voldoende kulturele leefruimte vir die taal moet wees. Die erkenning van etniese identiteit gaan naamlik nie noodwendig gepaard met etniese eksklusiviteit nie.

Nou kom ons by Gouws se sosiale geregtigheid. Ook dít is van groot belang. Ofskoon ons nooit absolute gelykheid sal kry nie – dit kan slegs ten koste van vryheid afgedwíng word – is gelykheid van geleentheid van essensiële belang.

Dis ʼn ideaal wat dalk nooit heeltemal bereik sal word nie. Akademiese studies wys dat kinders uit welvarende gesinne, waar ander faktore gelyk is, ʼn voordeel bo dié uit arm omgewings het. Die woordeskat wat hulle tuis leer, is groter, en hul ouers kan beter onderwys bekostig.

Gelyke toegang tot onderwys kan dié ongelykheid tot op sekere hoogte oorkom. Maar dit verg ʼn lang asem en baie geld wat sowel van owerheidsweë as uit die private sektor daarin belê moet word.

Dis ook in belang van die land se maatskaplike stabiliteit en sy ekonomiese ontwikkeling. Dis ʼn rasionele keuse, nie slegs ʼn kwessie van ʼn vae goeie gevoel nie.

Die punt is dat Gouws se klem op sosiale geregtigheid heeltemal tereg is. Daar móét sosiale geregtigheid wees as ʼn samelewing gesond wil wees, heeltemal afgesien van die morele imperatief wat die Christelike geloof aan jou oplê.

Nou kom ons by ʼn verdere vraag. Is die teenstelling wat Gouws tussen identiteit en sosiale geregtigheid skep, korrek? Kan ʼn mens nie albei hê nie?

Sosiale geregtigheid vereis dat mense, ook armes, ordentlike toegang tot onderwys moet hê. Dít is die rede waarom alle denkbare en ondenkbare akademiese studies soveel klem op moedertaalonderrig op alle vlakke lê. Die taalkundige prof. Vic Webb het byvoorbeeld die prestasie vergelyk van eerstejaarstudente wat aan verskeie fakulteite in 1999 aan die Universiteit van Pretoria in hul moedertaal gestudeer het met dié wat in ’n tweede of derde taal gestudeer het. Hy het bevind dat laasgenoemdes minstens 10% swakker as eersgenoemdes gevaar het:

“In so far as language is a factor in educational development, the dominance of English/the use of only English as language of teaching and learning seriously impacts on students’ academic performance and thus their development. Language, as we know, is the mediator in cognitive development (acquisition of knowledge and understanding, internalising concepts, developing reasoning skills), affective development (emotional security, self-esteem), and social skills development. South African students for whom English is a second language (ESL students) generally do not have the required academic language proficiency in English.”

Dit geld nie alleen vir bruin Afrikaanssprekendes uit agtergestelde omgewings nie, maar ook vir die sprekers van swart tale. Daarom moet die versigtige pogings aan die Universiteit van Kwazulu-Natal om Zoeloe tot akademiese taal te ontwikkel, toegejuig word.

Die gevolgtrekking is dat sosiale geregtigheid inderwaarheid deur moedertaalonderwys gedien word.

Toeganklikheid van ʼn universiteit, soos Gouws uitwys, is inderdaad belangrik. Daarom sal jy ver moet gaan soek na Afrikaanssprekendes van belang wat hul taal as uitsluitingsmeganisme wil gebruik.

Ek sou self ʼn primêr Afrikaanse Stellenbosch verkies, met spesiale maatreëls om anderstaliges behoorlik te akkommodeer. Maar ek aanvaar ’n kantelpunt is bereik; Stellenbosch sal nooit meer eentalig Afrikaans wees nie.

Maar ʼn kampus waar Afrikaanse klasse naas dié in Engels bestaan, is beslis nie teenstrydig met Gouws se op sigself teregte klem op sosiale geregtigheid nie.

Sosiale geregtigheid verg ook dat die taalbepalings van die Grondwet nagekom word. Maar blykbaar ag Gouws haar weergawe van sosiale geregtigheid vir nie-Afrikaanssprekers aansienlik belangriker as die Grondwet se implisiete klem op sosiale geregtigheid ook vir Afrikaanssprekendes.

Asseblief, prof. Gouws, dink ook aan u eie taalgenote! Of geld sosiale geregtigheid nie vir hulle nie?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Wicus ·

Dankie Leopold, weereens goed deurdag en netjies uiteengesit. Waardeer dat jy suiwer redeneer om die punt en nie afdaal na die platvloerse nie, hou so aan, jy gee ons pitkos!

Chris Lombard ·

Ek dink jy het by die kruks van die probleem gekom, Leopold. Identiteit . Nie een van die argumente gaan regtig oor sosiale geregtigheid nie. Dit gaan alles oor identiteit, en al die argumente is haarfyn uitgewerk presies om identiteit aan te val. Nie net Afrikaners nie, maar enige “wit” groepering. Inderdaad die hele wit bevoorregting argument is uitgewerk om slegte begrippe (onverdiende rykdom ens) aan te heg aan “wit” identiteit, sodat daar n sosiale prys betaal word om trots te wees om wit te wees. Dit maak dit dan makliker om mense te skei van hulle identiteit sodat hulle slegs “individue” word. Dit is n tipe van sielkundige oorlog, en dit word haarfyn uitgewerk en uitgevoer met presisie.

Hoekom doen hulle dit? Hulle glo dat rassisme n direkte gevolg is van “wit” identiteit. Dit veroorsaak dat ons dink ons is “beter” as ander rasse of kulture. Ironies genoeg, is dit juis die sukses van wit kultuurgroepe wat die “probleem” is. Afrikaners was in n mate beskerm hiervan juis deur hulle taal en kultuur. Omdat dit moelik is om iemand aan te val van n ander kultuur, is dit belangrik dat die mense wat die aanslag lei, van dieselfde kultuurgroep kom.

Wat kom volgende? Aanslag op Christelike protestantisme, want dit is die een geloof wat nie maklik met die ander gerekonsilieer kan word nie, en as identiteit sal dit ook onanvaarbaar wees. Glo my, dit sal kom.

Soos wat die Katolieke vir meer as n 1000 jaar weet: Moraliteit is beheer, en wie moraliteit beheer, beheer die mensdom.

Leendert van Oostrum ·

“Sosiale geregtigheid vereis dat mense, ook armes, ordentlike toegang tot onderwys moet hê”.

Dit is waar. Maar terselfdertyd is onderwys (in al sy manifestasies) die wyse waarop identiteit gevorm word – godsdienstig, individueel, sosiaal, kultureel, professioneel, en in elke ander opsig.

As ons handves van menseregte gegrond is op die uitgangspunt dat die individu outonoom is (uniek, en vry om volgens sy eie gewete te leef), vereis dit dat die individu se keuse om sy identiteit te vorm en te ontwikkel juis die uitlewing van sy outnomiteit is. Die keuse van ‘n eie identiteit (weliswaar gegrond op die “bronidentiteit” binne die gesin en gemeenskap, maar nie daardeur gebonde nie) is dus voorwaarde vir die uitlewing van AL sy menseregte.

Die die individu se vermoë om die onderwys wat hy ontvang te kies is dus grondliggend aan ons hele handves van menseregte.

Gerhardt ·

Dis tyd dat alle bilikke Christen afrikaners, op staan waar hulle ook al is en dit duidelik stel te alle tye dat hulle trotse Afrikaners is. Sien enigiemand dat die Duitsers nou turke wil wees omdar Nazi’s een op ‘n tyd betsaan het? Ons is Afrikaners, nie afikaanses of sulke snert nie. Ek gun ander grope om bv trots Venda te wees ook.

Gerhardt ·

En hoekom kry Amanda Gowus soveel prominensie? Help my asb? Het sy al ‘n Nobel prys gewen?

Therese van Schalkwyk ·

Die skrywer sê: “Ek sou self ‘n primêr Afrikaanse Stellenbosch verkies, met spesiale maatreëls om andertaliges behoorlik te akkommodeer. Maar ek aanvaar ‘n kantelpunt is bereik; Stellenbosch sal nooit meer eentalig Afrikaans wees nie”.

Dit is my oorwoë mening dat dit presies híér is waar, nie slegs Stellenbosch se probleme begin het nie, maar ook die ander gewese Afrikaanse universiteite. Die “kantelpunt” wat bereik is, waar daar nou meer sg. “Engelssprekendes” as Afrikaanssprekendes is, kon jare gelede deur selfs die mees naïewe persoon voorspel word. Die tempo waarteen wit Engelssprekende studente destyds gevlug het van Ikeys en Natal na Maties was skrikwekkend. en is dit steeds.

Noem net één Engelse universiteit wat “spesiale maatreëls tref om Afrikaanssprekendes behoorlik te akkommodeer” en dalk kan my opinie verander dat ons onsself meesterlik in die voet geskiet het met oordrewe en onbegrensde tegemoetkomendheid. Soos die Engelse spreekwoord lui: ” Nice guys finish last”.

Daar is te midde van groot teenstand uit die verwagte oorde, en veral van Afrikaanssprekendes soos Amanda Gouws, ‘n bietjie tyd gekoop vir Afrikaans by Stellenbosch. Die besluitnemers word egter reeds as ‘n “white boys’ club” met “apartheidsneigings” uitgekryt.

As die onderskeie universiteitsowerhede deurgaans Afrikaans se belange op die hart gedra het, moes hierdie benarde posisie nooit bereik word nie.

Henry ·

“…As die onderskeie universiteitsowerhede deurgaans Afrikaans se belange op die hart gedra het, moes hierdie benarde posisie nooit bereik word nie.”

Inderdaad Theresa!!!

Ironies ook dat die Universiteite in die Noorde van hierdie droewe land wat na verwagting die sterkste sou staan om Afrikaner belange te beskerm, die eerste spul was wat witpens- bo loop lê het.

Die Waterkloof seders van my alma mater -Tuks, asook Bloemfontein se Dooyeweerders het sonder slag of stoot omgeval.

Gedink die Doppers van Potjiesdorp sal kophou, maar foeitoggies toe bevorder Theuns Eloff vir Kgwadi en transformasie sommer op die hoogste vlak en daar gaat julle!!!

Andries Burger ·

In vergange se dae toe ek toelating tot universiteit gaan najaag het, moes ek mooi kyk na voertaal om te verseker dat ek nie my hard verdiende beurs geld verkwis nie.
Lyk my nou hoef jy nie meer dit te doen nie. Universiteite verander nou om na jou pype te dans.
Sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.