Moenie politieke hoop op swart middelklas plaas

agree-1238964_1280

Foto: pixabay.com

Ek sit onlangs by die haarkapper en luister hoe ’n paar middeljariges rondom my oor die politiek praat. Die onderwerp verander vinnig (en onafwendbaar?) na die swart middelklas se rol in die land, politiek en ekonomie. “Ten minste het ons darem ’n groeiende swart middelklas wat stabiliteit kan help handhaaf. Hulle belange hang ook mos daarvan af,” sê een van die gesprekslede. “Ai, dis net jammer hulle is so min,” lewer iemand anders dadelik repliek.

Dit eers daar gelaat. Middelklasse is wel wêreldwyd ’n oorwegend positiewe krag. Hulle is in die algemeen goeie verbruikers en dryf verbruikergedrewe groei met hul koopkrag, hulle het (in die algemeen) goeie onderrig ontvang en dring daarop aan vir hul kinders, hulle wil die oppergesag van die reg en die regstaat beskerm, hulle hou hul regerings verantwoordbaar en dring aan op die billike toepassing van kontrakte.

Daar is heelwat debat oor wie nou eintlik middelklas is en tien ekonome sal vir jou tien verskillende antwoorde gee oor hul vlakke van inkomste, definisies en die verskille tussen lande. Ewenwel, middelklasse regoor die spektrum openbaar tot wisselende mates bogenoemde eienskappe.

Vooruitstrewende middelklasse raak ook nie sonder meer die prooi van rassekonflik nie. Nancy Birdsall voer in ’n onlangse artikel in Foreign Affairs aan dat wanneer middelklasse ’n sekere grootte bereik – byvoorbeeld 30% of meer van die bevolking – begin die lede daarvan, ongeag hul empiriese verskille, met mekaar identifiseer en gebruik hul kollektiewe vermoëns om die regering aanspreeklik vir die verantwoordelike besteding van hul belastings te hou.

Ongelyk geskape middelklasse

Maar Birdsall bied egter ook ’n paar belangrike caveats (waarskuwings) aan wat nogal weerklank in die Suid-Afrikaanse konteks vind. Anders as in ryk lande – waar die middelklasse minder afhanklik van die staat en goed opgelei is, en in diverse bedrywe soos die finansiële en professionele sektore aangetref word – het baie van die ontluikende en gevestigde middelklasse in die ontwikkellende wêreld hul status en posisies aan wispelturige hulpbron-sektore en regeringsindiensneming te danke.

Hulle is ook betreklik nuwe middelklasse en voel derhalwe minder ekonomies geborge. Hulle koester daarom ander politieke uitgangspunte as diegene in die ontwikkelde lande.

In byvoorbeeld die Midde-Ooste se oliekoninkryke, asook in Venezuela en Rusland het die middelklasse danksy die regeringsbeheerde oliesektore ryk geraak. Ons almal is sekerlik nou al bewus van hoe oliepryse op en af beweeg. Dit beïnvloed nie net bepaalde lande se lot nie, maar ook die onderskeie groepe en mense wat daarvan afhanklik is.

Swak sosialistiese beleid in Venezuela het die middelklas se ellende verder vergroot en hul getalle laat daal terwyl inflasie hul besteebare inkomste weggevreet het. In Rusland het Wladimir Poetin en sy makkers die middelklas se druk vir liberalisering en verantwoordbaarheid weens laasgenoemde se ekonomiese afhanklikheid van die regering weerstaan en gesmoor.

Vandaar die term hulpbronvloek (“resource curse”), iets wat ook nie ’n vreemde term in Afrika is nie. Nieteenstaande groot hoeveelhede waardevolle hulpbronne bly baie Afrika-state arm en totalitêr. Die maghebbers eien die ontginning van hierdie hulpbronne vir hulself toe en hou die bevolking se verwagtinge laag en hul behoeftes net-net bevredig sodat daar nie volskaalse rewolusies uitbreek nie. Derhalwe is daar uitsluitlik binêre ekonomieë te vinde in lande soos Ekwatoriaal-Guinee en die Demokratiese Republiek van die Kongo, bestaande uit enersyds ’n klein politieke elite en hul kornuite wat baat uit die land se rykdom en andersyds die oorgrote arm en afhanklike massas.

Die heersers in sulke lande wil juis nie ’n groeiende, gesofistikeerde, onafhanklike en selfgeldende middelklas skep nie want só ’n groep betaal, anders as die armes, belasting en soek inspraak in hoe dit bestee word. En dit sal uiteraard hul korrupte bedrywighede in die gedrang bring.

Suid-Afrika en sy swart diamante

Daar word dikwels hoog opgegee oor Suid-Afrika se groeiende middelklas. Baie daarvan is uiters naïef en oppervlakkig. Hierdie groei vind, weens ons politieke geskiedenis en wit mense se langstaande en grootliks gerealiseerde middelklas-status, verreweg in die swart gemeenskap plaas.

Volgens navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) leef ’n maksimum van 2 uit elke 10 Suid-Afrikaners ’n middelklas-bestaan. Die Instituut is egter meer gemaklik met ’n raming van 1 uit 10. Navorsing deur Unilever en die Universiteit van Stellenbosch plaas dit op selfs minder as 1 uit 10.

Dit is nie net die omvang nie, maar ook die aard van hierdie middelklas wat kommer oor stabiliteit in die land moet wek. Waar verreweg die meeste van die wit middelklas vir hulself of in die private sektor werk – dit is ook waar van die Indiër en bruin middelklasse – het die swart (African) middelklas sy status hoofsaaklik aan regeringsindiensneming te danke.

Hulle is dus ’n taamlik jong middelklas wat grotendeels danksy regstellende aksie in die staatsdiens gevestig is. Anders as die wit en veral ook Indiër-middelklas, het hulle in die algemeen nie tersiêre onderrig ontvang nie en baie het ook – á la Venezuela en Rusland – deur politieke bande en gunste werke ontvang. Hulle is lojaliteit aan die ANC en die huidige bestel verskuldig en het dus baie om te verloor as meriete weer deel van die staatsdiens (en samelewing) se werking moet word. Hulle sal daarbenewens ook nie wil werk om staatsinmenging te verhoed en die grootte van die staatsdiens te laat krimp nie.

Birdsall argumenteer juis die volgende: “Put simply, to constitute a politically positive force, a middle class must be not only large relative to a country’s other classes but also prospering and feeling confident.” Die swart middelklas – gedoop die swart diamante weens hul potensiaal om ekonomies en polities te “glinster” – en eintlik die hele Suid-Afrikaanse middelklas voldoen nie aan een van hierdie vereistes nie. Daarvoor het die ekonomiese en fiskale krisis in die land – wat die staatsdiens ook negatief raak en sodoende keer dat die swart middelklas verder uitbrei – grotendeels gesorg. Die ANC as voertuig van swart aspirasies se tanende steun (veral onder die swart armes) en toenemend prekêre posisie word op talle vlakke in die swart middelklas se posisie, retoriek en selfvertroue weerspieël.

Jy hoef net die oproer op kampusse, gesprekke op die sosiale media en die aard van die EFF se groeiende ledetal – alles gedryf deur jong swart middelklas-mense – op sigwaarde te ontleed om te weet dat hulle bedreig voel en selfs geradikaliseer en demagogies is. Birdsall som dit perfek op: “If a middle class grows large but then feels threatened during a major economic downturn, its members may succumb to demagogic and populist appeals – from the right or the left.”

Die swart middelklas kyk verby, en verdedig selfs, die ANC se korrupsie, swak regering en populistiese retoriek. Hulle is grotendeels die spieëlbeeld van die regerende party se eb en vloed en is ook buitendien te min en voel te beleërd om die soort positiewe middelklas-kenmerke – soos vroeër in die artikel uiteengesit – noemenswaardig te laat manifesteer en dit af te dwing. Terwyl ’n klein persentasie van die professionele swart middelklas vir partye anders as die ANC (en EFF) stem en liberale eienskappe toon, moet daar nie van hulle verwag word om die status quo gou ten goede te verander nie. Inteendeel….

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Hendrik ·

Die getal swart diamante het gegroei ten koste van die wit mense. Dit is ‘n feit en ons sien dit daagliks in die werksplek. Is dit tyd dat die wit middelklas hul krag wys in die werksplek? Wat ‘n ideale dag kan die 10 Oktober (Krugerdag) wees waar die wit middelklas wys d.m.v ‘n goed georganiseerde aksie landswyd dat ons nog hier is en ‘n steenpilaar is vir die S.A. ekonomie.

Basson ·

Korrek dankie. Die (naief gebore en getoe) Afrikaanse witmense hoop aanhoudend vir ‘n ‘redder’, hetsy gedagtes soos bo aangespreek, OF die buiteland, OF die grondwet, OF dit, OF dat, OF (met respek) gebed.

Word wakker en besef in die wereld en meer spesifiek in (S) Afrika het niemand anders ‘n saak met jou saak, behalwe jyself nie. (Inteendeel……..)

Lee-anne ·

Hi Basson, is jy een van die Afrikaanse witmense (naïef gebore en getoë)? OK, nou’s ek wakker. OK, niemand het ‘n saak met my saak nie, nou wat moet ek maak?

Antoinette ·

Dit maak my bekommerd oor wanneer ons dan die lig gaan sien aan die einde van die tonnel? Of is dit die trein se lig en ons word vernietig. Ek begin al hoe meer moed verloor en ek wil so graag positief wees dat ons wel bestaansreg het.

Loeis ·

Hierdie is ‘n uitstekende artikel wat die realiteit opsom.

Dit is waar dat daar ‘n hoeveelheid suksesvolle swartes is wie nie hul sukses aan swart bevoordeling te danke het nie (ek ken ‘n paar, wie baie bevoeg in hul werk is). Maar die klomp wie hul rykdom (en dit beteken nie noodwendig dat hulle hul werk akn doen nie) aan swart bevoordeling te danke het, sal met alles aan daardie beleid vashou, en die ANC wie dit vir hulle gegee het, bly ondersteun.

Diegene wie arm bly (en dit is die meerheid) soek wel alternatiewe, en dit is waar Julius en sy EFF nou groot spronge in steun maak (as jy gedink het lg is goeie nuus, dink weer, ‘n paar keer).

Waar gaan dit eindig? Die ANC elite en “swart diamante” wil nie ‘n sosialistiese rewolusie he nie: dit is nie in hulle belang nie, maar dit is waarheen die EFF druk, en die EFF se spoed neem toe. Hierdie kan tot ernstige swart op swart konflik lei (met slegte nuus vir almal). Maar helaas word wit en swart steeds (met die passievolle ondersteuning van die linkse media) wysgemaak dat die blanke eintlik vir swart ellende verantwoordelik is. Maak julle sitplek gordels vas, FW het – met die mense se instemming vanaf 1992 se referendum tot nou – die stuurstang vir mense gegee wie weet hoe om die vliegtuig in die berg vas te vlieg. Julle is op daai vliegtuig mense.

tamboti ·

Ja die hele SA ekonomie is gekoppel en hang af van hierdie regering se rojale spandering en voerkraal staatdiens. Die geld raak skaarser maar die planne meer:
Note gedruk oorsee, olie goedkoop verkoop, myne en mynregte, kontrakte vir chinese en russiese mpy’s
Wanneer alles verkrummel sal daar net ‘n goed ge-organiseerde misdaad bedryf oorbly van eens sterk SA ekonomie.

John ·

Die swart middelklas is steeds diep gegrief en glo hulle hoort in die topgroep, nee, eerder nog meer na bo, op sykussings en persiese tapyte in paleise. Die armstes word weer vertel die witmense weerhou hulle om te vorder. Interessant is die feit dat die kaste-stelsel steeds in Indie geld en mense daarvolgens moet berus in wat hulle het, maar hier beweeg die Indiers uit die kas/nis en pas gemaklik in die rol van die gegriefdes en verontregtes a la Afrika en por selfs die sg verontregtes aan om boontoe te mik.

Benito Odendal ·

Gupta Gate…. ??? Ons sal eintlik NOOIT weet hoe , waneer , wat en waar orals daar op GROOT skaal gekonkel was nie………..Die manne het ” deviousness ” uitgevind EN gepattenteer…….Die banke , agente , prokureurs en ouditeurs firmas ens ens ,…. wat aan die Guptas gekoppel was OF nog steeds is en wat sooooooo lekker die note tussen mekaar laat rol het….is nou dood OF doodstil OF het hul van die ” kulkunstenaars ” gedistansieer ” …….He he he… ALMAL is mos heel feitlik onskuldig !!!!……EN…. die biljoene is en bly nog iewers in die lug hang in Panama , Dubai , Cuba ,Indie ???? ….TERWYL. …die armes NOG armer en die nuwe middelklas NOG meer ” ge entitled ” is…… Als die blankes en Afrikaners se skuld…..Die deler steler scenario geld duidelik NIE vir ons eerbare instellings nie…..nes ‘n sleg pa wat na die maal beweer die baba is nie syne nie , soos in dood normaal aangaan asof absoluut niks gebeur het nie,….. en ma en baba aan hul eie lot oorlaat???

Marius ·

Verstaan nie eintlik wat die punt is wat jy probeer maak met die artikel nie. Aan wie is jou waarskuwing gerig? Ek dink enige gesonde argument behoort te gaan oor regdenkende mense van alle rasse wat hulle vir ‘n regstaat beywer. Kom ons wees eerlik. Jy kon Vryheidsfront plus in hakies agter jou naam gesit het.(nie dat daar iets mee fout is nie), maar dit klink eerder na anti DA retoriek as enigiets anders.

Johan 2 ·

Die punt is dat ons nie moet dink ons kan die “swart” middelklas vertrou om die land op koers te kry nie. Hul is te min en die ANC sorg vir hulle met hul “regstellende aksie” twak. Die “swart” middelklas is te afhanklik van die ANC se swak beleid en kan dit dus nie waag om die ANC reg te dwing nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.