ʼn Afrika-uitsondering in Senegal

Die Senegalese opposisie-presidentskandidaat Bassirou Diomaye Faye spreek sy eerste perskonferensie toe nadat hy op 25 Maart 2024 in Dakar as wenner van Senegal se presidensiële verkiesing verklaar is.(Foto: JOHN WESSELS / AFP)

In Afrika is dit nog die absolute uitsondering dat die opposisie die verkiesing wen. Nog meer uitsonderlik is dit dat die sittende regering dit ook aanvaar en uittree.

In Senegal het die uitsondering egter nou al die reël geword en die land het, in die konteks van Afrika, ʼn redelik stabiele demokrasie. Dit is des te meer merkwaardig in Wes-Afrika, wat ʼn ruwe buurt is en waar verskeie lande onlangs staatsgrepe gehad het.

Die huidige president van Senegal, Macky Sall, kon weens beperkings tot slegs twee termyne nie weer staan nie. Sall wou egter die verkiesing wat vir Februariemaand geskeduleer was tot in Desember uitstel, na bewering omdat te veel kandidate gediskwalifiseer is en dus meer tyd nodig was vir voorbereiding. Die opposisie het hom egter daarvan beskuldig dat hy die demokratiese prosesse wil verander en sy termyn wil verleng.

Dit het tot grootskaalse betogings en onluste gelei en sy gewildheid baie skade gedoen. Die konstitusionele hof het ook ʼn stokkie daarvoor gesteek en die verkiesing is op 24 Maart gehou. Om verder invloed te kon uitoefen, het Sall sy eerste minister, Amadou Bar, as sy opvolger gepromoveer.

Mnr. Bar, die kandidaat van die regerende party, het egter teen alle verwagting die verkiesing reeds in die eerste rondte teen die onafhanklike kandidaat Bassirou Diomaye Faye verloor. Alhoewel die stemme nog nie finaal getel was nie, was mnr. Faye se voorsprong reeds so groot dat een na die ander kandidaat sy oorwinning aanvaar het en hom geluk gewens het. Laaste het ook mnr. Bar die onvermydelike aanvaar.

Mnr. Faye was voor die verkiesing betreklik onbekend en hy was eintlik net die plaasvervanger vir ʼn ander kandidaat wat verbied is om te staan. Mnr. Faye self was tot onlangs toe nog as verhoorafwagtende in die tronk weens beweerde valse getuienis en laster. Hy kon die ontevredenheid met president Sall en die ou garde bondel en is veral deur die jeug ondersteun, wat die grootste deel van die bevolking uitmaak en ontevrede is met werkloosheid en ontbrekende perspektiewe. Al maak Senegal ekonomiese vordering, vernietig die sterk bevolkingsgroei die suksesse en dryf talle jongmense tot emigrasie.

Faye se verkiesing word gesien as ʼn breuk met die verlede. Nie net is hy op 44 jaar die jongste president in Senegal se geskiedenis nie, iets wat ook vir Afrika ongewoon is, waar lang heersende “big men” in hulle 70’s en 80 amper die reël is. Hy wil ook die tradisioneel sterk bande tussen Senegal en sy eertydse koloniale moondheid Frankryk losser maak.

Mnr. Faye kritiseer Frankryk dat hulle talle ekonomiese voordele het soos voorkeur-toegang tot Senegal se markte. Die bande bevoordeel egter ook Senegal, wat deur Frankryk makliker toegang tot die Europese Unie het en wie se geldeenheid aan die Euro gekoppel en daardeur stabiel is. Verder het hy groot werk om te doen as hy aan die hoë verwagtings wat veral die jeug in hom stel wil voldoen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

george ·

Liewe Vrijburger, ek dink nie die CIA het n rol daarin gespeel nie. Senegal was nog altyd na onhafhanklikheid n redelike Demokratiese land vir al sy burgers. Dit was een van die enigste lande waar die Fransman nie uitgeroei of vermoor was nie. Hulle het saamgewerk en werk steeds saam. Afrika het suksesverhale al lyk dit nie so nie dis hoekom ek altyd se lees, lees, lees. Senegal was nog altyd redelik kalm vir daai geweste want sy mense hou demokrasie bo, hulle laat nie hulle grondwette verander nie, hulle laat nie sekere individue te veel mag he nie. Ek was al daar vir werk. Glo my dis n vreedsame pragtige plek. Wel nou nie in die klas van Londen of New York nie, Dis redelik armer, maar n wonderlike kultuur, baie skoner as Suid Afrika en 10 jaar tronkstraf beteken 10 jaar tronkstraf so burgers is lekker gehoorsaam ook.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dakar…daar waar die eerste spyker in die Afrikaner se kis geslaan is.

Vrijburger ·

Liewe George. Ek was vir baie jare betrokke by ‘veiligheids relevante ekonomies navorsing’ op Afrika state. So ek vermoed ek het genoegsaam gelees, lees, lees om ‘n redelike idee te hê wat in Afrika aangaan. So ek stem saam dat Senegal een van die ligpunte in Afrika is. Ek verskil egter van jou mbt die betrokkenheid van buitelandse magte, daar is altyd koverte aksies en betrokkenheid met verkiesings van buitelandse magte, hetsy deur intelligensie dienste of multinasionale maatskappye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.