ʼn Desperate ANC is gevaarlik

Hierdie is ʼn verwerking van Dries Wiese, voorsitter van die Afrikanerbond se nasionale raad, se opmerkings oor minderhede tydens ʼn Afrikanerbond-gebiedsbyeenkoms in Randburg op Saterdag 30 September 2023.

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

ʼn ANC wat desperaat aan die mag vasklou is gevaarlik. ʼn Desperate ANC sal enige strooihalm gryp en dit maak die lot van minderhede gevaarlik. Die ANC het sy oog op die 2024-verkiesing en sal daarom verbete voortgaan om die Grondwet te minag en sy eie ideologie te bevorder.

Ons sien hoe verskillende stukke wetgewing reeds die jaar sonder inagneming van die grondwetlikheid daarvan ʼn enorme effek op minderhede gaan hê. Die Bela-wetgewing het Afrikaanse onderwys as teiken. Die wet op billike indiensneming het minderhede in sy visier. Die nasionale gesondheidsversekering het privaat mediese sorg as teiken, die onteieningswetsontwerp sal ʼn verwoestende impak op alle Suid-Afrikaners hê, veral in die konteks van ekonomie, huiseienaarskap en voedselsekerheid. Die sogenaamde haatspraakwetsontwerp gaan haatspraak nog verder omskryf en ons weet wat die impak daarvan gaan wees.

Die pas afgelope week is ʼn straatnaam in Johannesburg weer verander terwyl die infrastruktuur verbrokkel. Dit kan gesien word as net nog ʼn straatnaam, maar dr. William Nicol was ʼn teoloog en het met ywer gewerk aan die uitbreiding van Afrikaanse skole.

In dieselfde week is die nasionale beplanningskommissie, wat die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) moet hersien, se beplande perskonferensie gestop deur senior regeringsamptenare. Ons het in die media gelees dat die verslag hoogs krities is en wys daarop dat die NOP sy teikens en doelwitte wat met ongelykheid, armoede, werkgeleenthede en werkloosheid, energie, ʼn lae-koolstof-ekonomie, BBP, ekonomiese groei en beleggingsvlakke te make het, almal gemis het.

Uit die samevatting van die verslag lees ons: “In plaas van ʼn bevoegde staat waarop die plan gebaseer is, het ons ʼn toenemend korrupte staat; in plaas van ʼn soomlose beplanningstelsel het ons ʼn onsamehangende beplanningstelsel wat swak geïmplementeer en nie belyn is met die strategiese doelwitte van die NDP nie.”

Wat eweneens belangrik is, is die verwysing in die verslag dat “sosiale samehorigheid en kohesie van die regering se prioriteitslys afgeval en oppervlakkig verwoord word”. Ons het dit beleef. Afrikaanse skole word geteiken in Gauteng omdat die regering nie self die skole kan bou wat die behoefte aanspreek nie, die Afrikaanse Taalmonument in Paarl is deur die verantwoordelike minister aangespreek oor die Afrikaans in sy benaming en so kan ons aangaan. Die onderwyswetgewing wil uitnemende skole verander in onderwysslagvelde.

ʼn Paar jaar gelede het die ANC-leierskap in gesprek met Afrikanerorganisasies erken dat hulle die versoeningsbal laat val het. Niks is egter daaraan gedoen nie. Nou skud die beplanningskommissie ook die regering se hok oor sosiale kohesie.

Apartheid word voortdurend blameer vir die foute van vandag. As daar egter een kernwaarheid is wat Afrikaners wel in sy net meer as veertig jaar aan bewind geleer het, is dat Suid-Afrika net kan slaag as die interafhanklikheid van alle Suid-Afrikaners tot mekaar erken word en gerespekteer word.

As Afrikaners het ons eintlik baie laat in ons bereiking van politieke volwassenheid besef dat ons dit nie toegepas het nie. Ons sien en beleef nou ook daagliks hoe ons al hoe meer ʼn ongelyke samelewing word en waar ons al hoe meer ʼn samelewing word wat al hoe meer verdeel word langs ras-, taal en kulturele lyne. Daarom kan ons nie vandag stilbly nie.

Ons interpretasie van die ANC-desperaatheid onderweg na 2024 is dat al meer aksies en uitsprake gaan plaasvind wat niks goed vir Suid-Afrika voorspel nie en veral beteken dit ʼn verslegtende situasie vir minderhede.

Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging gaan verskerp word om kader-ontplooiing ter wille te wees.

Sekere ekonomiese hoekstene soos eiendomsreg gaan toenemend onder druk kom. Faksies van die ANC se uitsprake skep reeds binnelandse en buitelandse onsekerheid.

Suid-Afrika se voedselsekuriteit gaan in gedrang kom met die onvermoë van die staat om grondhervorming redelik en billik toe te pas en uit te voer en gevestigde belange te beskerm.

Ons onderwys gaan al hoe meer verswak met die toenemende houvas en mag van onderwysvakbonde en die onwilligheid van die regering om die hele onderwyskrisis te bestuur.

Die ANC-regering se voortdurende gedobbel met die skolestelsel en ondeurdagte modelle het sedert 1994 tot die volgende mislukkings gelei:

  • Uitkomsgebaseerde Onderwys (OBE)
  • Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (RNCS)
  • Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV, ook bekend as CAPS)
  • Meer as 80% disfunksionele skole volgens onderwyskundiges
  • Voor 1994 was dit “Liberation before Education” wat opeenvolgende generasies in die Suid-Afrikaanse samelewing ingevoer het wat geen na swak onderwys ontvang het. Die ANC kan nie roem op onderwysprestasies nie, inteendeel net soos die huidige energiekrisis, is dit een van die ANC-erflatings wat nog baie generasies gaan neem om te herstel.

Dit is ouers en beheerliggame wat skole bestuur tot vlakke en eilande van uitnemendheid. Dit moet eerder aangemoedig word, maar die eilande van uitnemendheid pas nie die ANC se strewe na middelmatigheid tot substandaard nie.

Dienslewering sal toenemend verswak aangesien die kundigheid en ervaring veral in die tegniese areas wat betref dienslewering ontbreek.

Die belastinglas gaan al hoe swaarder lê by alle belastingbetalers – dit moet gesien word teen die agtergrond van die al hoe groter wordende maatskaplike veiligheidsnet wat toelaes en gratis behuising, medies en onderwys insluit.

Misdaad neem in felheid toe en die regering se harde uitsprake oor misdaad is ongelukkig nie te bespeur in die harde realiteit wat elke dag deur alle Suid-Afrikaners ervaar word nie.

Die burgerlike samelewing en veral minderheidsgroepe behoort al meer sy stem te verhef teen die vergrype van vandag.

Die tyd is nou meer as ryp dat ons die grondwetlike ruimtes inneem wat aan ons gebied word en nie langer staatmaak op die regering om dit vir ons te doen nie. Daarom kan ons net slaag as ons die ruimtes wat die Grondwet bied, opneem saam met die diverse gemeenskappe en minderhede van Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sake sal nie verander nie. Mzanzibabwe is gedoem.

Anna-marie ·

Jaap Marais het al hierdie goed 30 jaar gelede gesê. Niemand wou hom glo nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.