’n Ou wêreld sterf saam met Elizabeth

Koningin Elizabeth II vroeg in 2022. (Foto: Scott Heppell/AFP)

Die aankondiging van Buckinghampaleis Donderdagmiddag om 12:00 oor die gesondheid van die Britse koningin wat meteens verswak het, tesame met die nuus dat haar kinders en kleinkinders hulle na Balmoral haas om by haar te wees, het die besef dwarsdeur die wêreld hard en duidelik tuisgebring: Die einde van ʼn era is hier.

Daar is niemand in Brittanje jonger as 70 jaar wat ʼn tyd kan onthou toe Elizabeth II nie hulle koningin was nie. Oor veral die afgelope 25 jaar het sy gestyg tot ʼn vlak van bekendheid waar dit nie meer nodig is om haar naam te noem nie. “The Queen” is genoeg om enigiemand op enige plek in die wêreld dadelik te laat besef dat jy praat van die merkwaardige klein gryskopmensie wat vir byna ʼn eeu lank in die kollig van die wêreld leef, besig met ʼn taak wat sy nooit wou opneem nie, maar uitgevoer het omdat sy dit as haar plig beskou het.

Met die koningin se afsterwe, het daar nie alleen die monarg wat die langste regeer het in die Britse geskiedenis gesterf nie, maar ook die simbool van ʼn wêreld en ʼn tyd wat nie weer sal wees nie.

Sy was reeds daar toe die chaos van die Tweede Wêreldoorlog by tye die voortbestaan van die Westerse beskawing bedreig het. Sy was daar voordat atoombomme duisende mense binne ʼn oogwink kon vernietig. Sy was daar voordat kommunisme gedreig het om die ganse wêreld te oorweldig. Sy is die laaste een uit die tyd van Churchill en Roosevelt en Kennedy en Thatcher, die tyd van Ghandi en Moeder Theresa. Sy was daar voor die internet en sosiale media en massa-kommunikasie en indoktrinasie, die Koue Oorlog, Vietnam, en die chaos van post-koloniale Afrika.

Vir ons in Suid-Afrika was sy die laaste staatshoof voor die koms van die Republiek. Sy was daar deur die tyd van Malan, Strijdom, Verwoerd, Vorster, Botha, De Klerk en Mandela.

Sy het dinge beleef, tydings verneem en met mense ontmoet wat weinig ander mense in hierdie tyd en dae beleef, verneem en ontmoet het.

Sy is die laaste simbool van die mooiste en die lelikste van die 20ste eeu.

Daar sal dié wees wat in hulle onkunde nou sal glo dit is die einde van die monargie. Dit sal nie wees nie. Behalwe vir die feit dat die monargie Brittanje se grootste inkomstebron uit toerisme is, is die kontinuïteit en die tradisie van die monargie so integraal deel van die Britse samelewing dat hulle daaroor, indien dan nie uit suiwer respek vir haar, die monargie sal behou. Maar daar sal veranderinge wees, want saam met haar gaan ʼn wêreld verby.

Daar sal dié wees wat sal argumenteer: Ek stel nie belang nie, met my het dit niks te make nie. Aan hulle erg ʼn mens jou liewer nie, want dit sal hulle wees wat, wanneer ʼn vreemde, dreigende, somber nuwe wêreld toesak sal vra: “Nou wanneer het dit dan gebeur?” Die antwoord sal altemit wees: “Die ou wêreld het gesterf saam met Elizabeth”.

Wanneer dan, in die volheid van die tyd, volgens die tradisie ʼn man by Buckinghampaleis sal uitstap en ʼn wit briefie in ʼn eenvoudige swart raam voor die hekke plaas; en die koninklike vaandel bo Balmoral gestryk word en die Union Jack halfmas gehys word, sal die wêreld weet dat “The Queen” nou aan die eeue behoort.

En die wêreld van die 20ste eeu, waaruit jy en ek kom, saam met haar.

Of jy haar dan bewonder en of haar lewe en bestaan vir jou nie van belang is nie – sal dit geen verskil maak aan hierdie wete nie: Iets wat daar was van die tyd en die plek waar elkeen van ons vandaan kom, is daar nie meer nie. En ons sal saamstem oor een ding: Met haar voorbeeldige lewe, haar konsekwentheid en haar vrolike lag en ten spyte van haar tekortkominge, te midde van glans en glorie en soms krom-gebuk onder hartseer en kommer was sy bloot ʼn mens – ʼn merkwaardige mens, maar ʼn mens. En aan die lewe van die mens kom daar onvermydelik ook ʼn einde. Dan sal ons ook besef: Dit is voldaan, dit is tyd vir haar om te rus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Lötter

Daniël Lötter is ‘n boorling van die Bo-Karoo, navorser, opvoedkundige en skrywer van historiese nie-fiksie. Hy is betrokke in die Hoër Onderwys, in besonder in die veld van vaardigheidontwikkeling en het ‘n passie vir die bewaring van kulturele erfenis en die optekening van die geskiedenis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

Pragtig geskryf, Daniël Lötter.
Sowaar een van die merkwaardigste persoonlikhede uit hierdie era.
RIV

Corne123 ·

Sy was ook maar net n mens mense verafgod haar so.kan een ding waarborg daar is baie geheime saam haar graftoe

annie ·

Sjoe, wanneer wou kommunisme die hele wêreld oorweldig? Dis effe dik vir ‘n daalder? Nie? Of is 007 regtig iemand? Ook van Brittanje wat die Britse filmbedryf skatryk gemaak het? Wat sou SA tog sonder Brittanje gedoen het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.