ʼn Skooltuiste wat hoop skep

Deur Louis Dekker

Gimnasium Pretoria word bestempel as ‘nog ʼn antwoord vir Afrikaanse onderwys’. (Foto: Verskaf)

“ʼn Simbool van hoop”, “ʼn baken vir ons Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap”, “ʼn geskiedkundige oomblik”, “ʼn inspirerende oggend”, “ʼn droom wat waar word”.

Dit is maar van die enkele wyses waarop daar tydens die handelsmerkbekendstelling van Gimnasium Pretoria na die oggend se verrigtinge verwys is. Gaste het na afloop van dié spogfunksie nog vele meer komplimente uitgedeel. ʼn Goue draad van deeglike navorsing, ʼn weldeurdagte strategie en ʼn hoopvolle toekoms vir ons nageslag, het die funksie van begin tot einde saamgebind.

Gimnasium Pretoria, wat binne die volgende paar jaar sy deure gaan open, is ʼn nuwe onafhanklike skooltuiste in die ooste van Pretoria wat ʼn voorbeeld is van ʼn gemeenskap wat eienaarskap neem van hul kinders se vorming en onderrig.

Hierdie skool sal ʼn bydrae tot die voortbestaan van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap lewer deur opvoedkundige uitnemendheid en ʼn sterk fokus op waardeoordrag. ʼn Beginselvaste grondslag sal gelê word om kinders met karakter te kweek wat emosioneel en sosiaal toegerus is om, as lede van die gemeenskap, ʼn blink toekoms te help bou.

Die simboliek agter die skool se embleem, die ikoniese pionershuis, is die volgende:

  • ʼn breë sterk fondasie waarop die skool die grondslag, wat tuis begin, vestig;
  • ʼn oop deur wat verwelkomend is en oop denke aanmoedig;
  • ʼn potlood wat na Bo wys en die skool se Christelike waardes en etos verteenwoordig;
  • vleuels wat die omarming van onderwysers, ouers en die gemeenskap aandui; en laastens,
  • die nok van die dak en die diamantvorms wat die verbintenis met Akademia en die Solidariteit Beweging verteenwoordig.

Die skool se naam is ook met deeglike oorweging gekies en kry sy oorsprong uit die ou Griekse gemeenskappe wat ten doel gehad het om kinders tot liggaamlike, verstandelike en geestelike volwassenheid te lei. Dus gebalanseerde betrokke kinders. Gimnasiums het verder in die 16de eeu in ou Duitsland ontstaan om leraars op te lei. Hierdie opvoedkundige instellings het wêreldwyd versprei. In Suid-Afrika is van die eerste Afrikaanse skole, wat aan Universiteite verbind was, ook Gimnasiums genoem.

Met die vooruitsig van ʼn toekomstige gemeenskapskonsessie, gaan Gimnasium Pretoria veel meer wees as ʼn nuwe skool wat sy deure oopmaak. Gimnasium gaan ʼn gebalanseerde kombinasie van die tradisionele en die moderne wees. Dit is ʼn belangrike stap in die voortbestaan van Afrikaanse onderrig asook die bewaring en uitbou van ons erfenis, gemeet teen die hoogste standaarde.

Louis Dekker (Foto: Verskaf)

Gimnasium streef daarna om gebalanseerde, geborge, lewenslustige en leergierige kinders die toekoms in te stuur. Kinders wat gesonde verhoudinge handhaaf en ʼn bydrae in die moderne samelewing kan lewer. Kinders wat kultureel verbonde is, maar internasionaal mededingend sal wees. En die belangrikste, kinders met ʼn Christelike wêreldbeskouing wat die wêreld nog gaan verander!

By Gimnasium Pretoria glo ons dat ons kinders kan voorberei vir die toekoms deur die regte vaardighede aan hulle oor te dra. Saam met tradisionele vaardighede soos kommunikasie, samewerking en kreatiwiteit, wil Gimnasium Pretoria kinders die wêreld instuur met ʼn sterk karakter en met kulturele selfvertroue wat ook krities kan dink.

Dit is egter nie ʼn plaasvervanger vir ons huidige skoolstelsel nie, maar eerder aanvullend daartoe. Gimnasium Pretoria is die toekoms van volhoubare Afrikaanse onderrig, wanneer uitmuntende skole, in ʼn snelveranderende en komplekse onderwysstelsel, nie meer toegelaat word om te doen waarmee hulle briljant is nie.

Hierdie skool, wat deel is van die Solidariteit Beweging en in ʼn sterk vennootskap met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) staan, is gebore uit ʼn multidimensionele strategie van bou én behou.

Eerstens is daar ʼn duidelike fokus op die behoud van reeds uitnemende Afrikaanse skole, en samewerking met die SOS verseker dat onderwysers deurlopend toegang het tot vernuwende onderwysopleiding en hulpbronne. Tweedens word ʼn “bou”-strategie geïmplementeer om ʼn bloudruk te skep vir nuwe onafhanklike skole in gemeenskappe waar daar ʼn behoefte is. Gimnasium Pretoria, en die latere konsessieskole, se liggings sal juis bepaal word met deeglike navorsing en in oorleg met talle rolspelers. Die vennootskap tussen die SOS en Gimnasium Pretoria maak die implementering van gevorderde onderwysmetodes en ʼn toekomsgerigte leeromgewing moontlik.

Mag Gimnasium Pretoria ons herinner aan die krag en veerkragtigheid van ons gemeenskap. Mag die skool ander instellings inspireer en saam met vele ander organisasies die volhoubaarheid van ons moedertaal in skole verseker. Mag Gimnasium Pretoria en die gepaardgaande gemeenskapskonsessie ons aktiveer om vir ons kinders die geleentheid te skep om te floreer en om hulle volle potensiaal te bereik.

Met opwindende tye wat voorlê, word almal aangemoedig om in die reis te deel en betrokke te raak.  Wees op die uitkyk vir ʼn paar bakens in die toekoms, wat onder andere insluit die bekendstelling van die skool, die begin van konstruksie, die eerste aanstellings en inskrywings en nog vele meer.

Besoek gerus die skool se webwerf, www.gimnasium.co.za, en sosialemediablaaie vir nuus, opgedateerde inligting en ander interessante leesstof.

  • Louis Dekker is uitvoerende hoof van Gimnasium Pretoria. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

In Grahamweg Pretoria oos by Lynnwood uit na oostekant. Verder aan in Boschkop word Akademia universiteit gebou. 6 km verder is Kleinfontein geleë. Sien julle die beweging?

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan eerder suid met die N1 en draai links af na die Suidkaap of Karoo. Bou daar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Groot mark vir private skole hier. Met koshuise vir binnelandse kinders. Skoon lug, min besoedeling en weg van slegte en besige paaie. Reeds gereed vir NGV met staatshospitale wat werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.