Na 7 Oktober

Ilse Strauss en haar gesin. (Foto: Ilse Strauss/Facebook)

Deur Ilse Strauss

Saterdagoggend, 7 Oktober. Dis Shabbat en die strate van Jerusalem is die tipe stil wat jy net op Saterdae in die Joodse staat kry. Ons is op pad uit, Dooie See toe, om vir ʼn vriendin uit Namibië die wit woestyn van Judea te gaan wys. Maar dan skree die lugaanvalsirene.

Dis die eerste aanval sedert Lily se geboorte en logistieke in die Strauss-huis lyk dus nou anders. My man gryp ʼn protesterende Lily en ek druk ʼn worshond onder elke arm, net om te besef dat daar nog ʼn worshond op die grond is en geen meer arms nie. My vriendin sien die penarie en gryp die ronde lyfie. En so storm die sewe van ons bomskuiling toe.

Die Cohens en Venturas van langsaan is reeds op pad — elke familie met ʼn verwarde hond op die heup. Die sirene het die drie Ventura-tieners nog in die bed gevang en die oudste een se broek is inderhaas verkeerd om aangepluk. So staan ons sy-aan-sy in die skuiling ingepak en giggel verbouereerd tot ons die dowwe slag van die Iron Dome hoor wat die missiel bedoel vir Jerusalem uit die lug skiet.

ʼn Paar goedige grappies later is ons terug in die kombuis. Ek maak koffie terwyl ek my vriendin verseker dat dit ʼn eenmalige gebeurtenis was. Missiele en vuurpyle word nie gereeld op Jerusalem gevuur nie, verduidelik ek. Die suide van Israel op die Gasa-grens is ʼn ander storie. En selfs wanneer die res van die land kwaai deurloop hardloop ons net vir skuilings wanneer Hamas régtig kwaad is, wanneer die terroriste ʼn punt wil maak. Natuurlik gaan ons nog Dooie See toe, troos ek. Maar my woorde is skaars koud of die sirene skree weer. Vreemd, dink ek. Dis ʼn eerste.

Die keer is die Cohens en die Venturas stiller. Sarit snik, sien ek. Sy wil nie voor die kinders praat nie. Daar’s nie ontvangs in die bomskuiling nie, so dit is eers wanneer ons terug is in die kombuis dat ek kyk wat aangaan.

Die berigte begin deurkom op sosiale media en WhatsApp-groepies vir joernaliste. Duisende missiele. ʼn Hamas-infiltrasie. Dis erg, sê hulle. Definieer erg, wonder ek. Praat ons van ʼn dodetal van een of twee? Of is dit regtig, regtig erg met iets soos 20 Israeli’s dood. Onmoontlik, maak ek dit af.

Dan kom die foto’s. ʼn Bomskuiling rooi geverf met die bloed van ʼn familie – man, vrou en drie kinders – wat afgemaai lê waar hulle gaan wegkruip het vir die missiele. ʼn Ouma wat teregstellend doodgeskiet word terwyl haar laksman die moord lewendig op haar Facebookblad uitsaai. Terroriste in die strate. Kinders dood op die sypaadjie. Ou mense wat gaan stap het. Drawwers. Fietsryers. Ieder een. Voor die voet.

Al die gruweldade word afgeneem – kompleet met Hamasmanne wat trots vir die kamera poseer – en op sosiale media gelaai. Dis ʼn arrogante bravade oor die grieselrige handewerk wat sê: “Kyk, wêreld! Kyk net wat het ons reggekry! En daar is niks wat julle kan doen om ons te stop nie.”

Ek sit later op die kombuisvloer, die naarheid vlak. Lily huil iewers in die agtergrond, maar haar mamma kan nie nou troos nie. En dan skree die lugaanval sirene weer.

Teen middagtyd is ek en my span op kantoor. Henry bly tuis by Lily. Ek hou hulle lank vas voor ek by die deur uitstap. Daar is niks soos ʼn tragedie om jou te herinner dat elke keer die laaste keer kan wees nie.

Ek en Henry dien as vrywilligers by Bridges for Peace, ʼn Christenorganisasie wat verhouding bou tussen Christene en Jode. Prakties beteken dit humanitêre werk, soos om maandeliks kos te voorsien aan 24 000 plus behoeftige Israeli’s. Baie van daardie 24 000 Israeli’s woon digby die Gasa-grens in die gemeenskappe wat Hamas geteiken het. Hulle gaan ons hulp nou meer nodig hê as ooit.

Die kantoor is stil terwyl ons werk. Die berigte bly instroom. Meer as 100 dood, sê hulle. Ek snak na asem. Daar is gyselaars, waarsku hulle verder. Ek sidder.

In die ure wat kom skiet die dodetal die hoogte in soos die weermag terroristemagte oorweldig en gemeenskappe bevry, maar die werklike omvang van die aanval begin eers ʼn dag later deurskemer. Die datum van 7 Oktober sal vir altyd geëts wees as een van die bloedigste menseslagtings in ʼn enkele dag – Israel se 9/11. Die donkerste dag in Israel se moderne geskiedenis; donkerder as die Yom Kippur-oorlog. Meer Jode afgemaai in 24 uur as op enige dag gedurende die Holocaust. Meer as 1 300 dood; 3 300 beseer en ten minste 199 gyselaars, insluitende kleuters en kinders.

Ure later is ons reeds op pad Gasa-grens toe, ons afleweringswa gepak met humanitêre hulp vir die wat al dae in hul bomskuilings wegkruip.

Gabi van Ofakim gesels met Ilse op Facebook-video. (Foto: Ilse Strauss/Facebook)

Ons eerste stop is Ofakim, ʼn dorp met ʼn raps meer as 33 000 inwoners digby die Gasa-grens. Die verkeer dun uit hoe verder ons suid ry. Op ʼn punt voel ons soos die enigste burgerlike voertuig tussen swerms militêre en polisiemotors.

Dis mooi wêreld die. Koring en garslande rol soos goue tapytstroke die horison in. Sipresse en steendennes staan plek-plek ʼn erewag langs die pad. Dorpies en gemeenskappe waar kinders laas week nog in die straat gespeel het, lê nou verlate as die stom getuies van die wreedheid wat daar afgespeel het.

Ons is gewaarsku dat ons moontlik toegang tot Ofakim geweier kan word. Liggame van die jongmense wat Hamas by die Supernova Musiekfees daar naby afgemaai het, word glo in Ofakim geprosesseer. Maar iemand praat met iemand, want die weermag wuif ons deur die kontrolepunt sonder om te veel vrae te vra.

Agt-en-veertig uur nadat Hamas-terroriste stelselmatig deur die strate van Ofakim beweeg het om alles wat beweeg uit te wis is hierdie steeds ʼn spookdorp. Elke winkel, skool en kantoor is dig gesluit. Blindings hang laag voor die vensters. Geen voetgangers, geen kletsende mammas met kleuters in die park en geen voertuie behalwe ons op die pad nie. Inwoners is aangesê om binne te bly. Maar selfs sonder die inperking wonder ek of iemand die hart het om dit buite te waag. Verslae skok hang soos ʼn nat wolkombers oor die dorp.

Ons hou stil voor ons kontak, Gabi, se huis en stapel 125 sakke vol nie-bederfbare kos op sy stoeptafel. Ons móét sit en iets drink, nooi hy, en stap summier kombuis toe sonder om te kyk of ons die opdrag gehoorsaam. Ek stap saam, want wat sal my ma sê as ek nie aanbied om te help nie?

Binne wys Gabi na die kombuistafel, ʼn stewige, marmer affêre. Hulle huis het nie ʼn bomskuiling nie, beduie hy. So as die missiele val is dit waar hulle wegkruip.

Dis waar hy en sy vrou daardie swart Saterdagoggend was – sy-aan-sy terwyl hulle gewag het vir die einde van die bombardement om hulle dag af te begin – toe die geweerskote begin klap, vertel hy. Sy vrou het gesê dis kinders wat speel, maar hy wat Gabi is was in die weermag. Hy ken geweerskote as hy hulle hoor. En dus is hy uit by die voordeur, want dalk kon hy help.

Die toneel was soos uit ʼn nagmerrie, sidder hy. Terroriste gewapen met masjiengewere het in georganiseerde linies die straat afmarsjeer. Hy het verstar gestaan en kyk hoe hulle doodluiters na die parkbankie voor sy huis loop en sy twee vriende wat elke oggend soos klokslag daar sit trompop doodskiet. Dis toe dat hy omdraai en die huis in vlug.

“In ʼn oorlog is dit een weermag teen ʼn ander,” verduidelik Gabi. “Maar hierdie was nie dit nie. Hamas het nie die weermag geteiken nie. Hulle het ou mense en kinders en vrouens kom soek. Die wêreld moet weet. Dis ons vyand.”

Die strate van Ofakim was ʼn slagveld vir amper 24 uur met die Israeli-weermag op jag na Hamas-terroriste en Hamas-terroriste op jag na Israeli’s. “Dit was soos Russiese roulette,” het ʼn oorlewende wat onbekend wil bly my vertel. “Jy’t nie geweet wie jou gaan uitsnuffel nie: die weermag of Hamas.”

Ons groet vir Gabi ʼn uur later. Hy beduie na die 125 sakke kos op sy stoeptafel. “Dié help ons op twee maniere. Die mense moet kos kry. Dis voor die hand liggend. Dis die fisiese. Maar dan is daar die hart,” meen hy, vuis teen die linkerkant van sy bors.

Gabi stop, maak keel skoon en probeer dan weer. Maar soos sy stem breek loop die trane af by die diep kepe wat die Israeli-son en tyd in sy gesig gekerf het. “Hierdie wys vir ons, ons is nie alleen nie.”

Twintig minute later is ons op die buitewyke van Sderot. Dié dorp is minder as 1 kilometer van die Gasa-grens en was een van Hamas se eerste teikens. Terwyl ons in Ofakim was, het Sderot onder nóg ʼn missielaanval deurgeloop. Rook en vlamme verwelkom ons by die Bomskuilinghoofstad van die Wêreld.

ʼn Militêre konvooi staan geparkeer langs die hoofpad kort duskant die afdraai Sderot toe, daar waar Hamas-terroriste nikswetende motoriste ingewag het en hulle een vir een afgemaai het. Op die ingewing van die oomblik trek ons langs die konvooi af, spring uit en stap van voertuig na voertuig. “Ons is Christen-vrywilligers van Amerika, Suid-Afrika, Kanada en Japan. Ons staan saam met julle! Ons bid vir julle!”

“Suid-Afrika!” roep een van die manne in die voorste voertuig. “My tannie woon in Kaapstad.” En so gaan dit. Elkeen van die manne in khaki het familie in Washington, Pretoria, Ottawa of Tokio.

Skielik fluit ʼn missiel vanuit Gasa oor ons koppe op pad Sderot toe. Die dowwe slag van die Iron Dome kom ʼn split sekonde voor die missiel in ʼn vuurbal disintegreer. “Het jy dit gesien?” roep ek onwillekeurig… wat die hele konvooi laat uitbars van die lag. “Ou nuus,” lag een, sy tande wit teen ʼn swart stoppelbaard. “Jy’s braaf,” probeer hy troos. Maar ek is nie. My vriendin wat op die punte van haar tone moes staan om haar man totsiens te soen oor haar amper nege-maande-swanger maag toe hy opgeroep is, is braaf. My vriend wat deel was van die eenheid wat die grusame fonds van 40 kinderlykies gevind het, is braaf.

(Foto: Ilse Strauss/Facebook)

Die toneel in die Bomskuilinghoofstad van die Wêreld is surrealisties, asof die stad se 30 000 inwoners oornag verdwyn het om plek te maak vir ʼn weermagbasis. Militêre voertuie zoem verby stil woonstelblokke. Soldate paroleer die strate, op soek na Hamas-terroriste wat nog iewers laag lê. Elke minuut of twee is daar ʼn dowwe slag van teenaanvalle op die Gasa-strook. Rook klou in grys kolomme aan die horison. Nes in Ofakim is alles bot toe. Internasionale media in koeëlvaste baadjies kloek rondom bomskuilings. Sinagoges, parkies met swaaie en moderne supermarkte dien as getuies dat daar eens lewe hier was, dat gelowiges gebid het, kinders gespeel het en families inkopies gedoen het. Maar dis moeilik om te glo.

Sderot se gemeenskapsentrum dien tans as die sentrale punt vanwaar humanitêre hulp versprei word. Honderde liters water staan opgestapel langs babadoeke en formule. Koekies, blikkieskos en proteïenstafies word in pakkies verpak en dan deur-tot-deur uitgedeel.

Terwyl ons span die afleweringswa leegmaak gaan sit ek langs ʼn groepie soldate. Dis etenstyd en die meeste stel meer belang in pita en hoemoes as gesels. Tog is daar een wat skamerig in my rigting leun.

Ofer (Hebreeus vir jong hert) is skokkend jonk. Tieneraknee wil-wil begin opklaar en plek maak vir ʼn jongmanbaard. Was ek ook nog só kind op 18, wonder ek.

Tussen sy gebroke Engels en my gebroke Hebreeus kom die storie stuk-stuk uit. Ofer se beste vriend is in die aanval Saterdag dood. Sy tannie ook. Hy skud sy kop.

“Het jy gesien wat hulle gedoen het?” vra hy, sy stem skor.

Ek kou vir ʼn oomblik aan die vreemdheid van die vraag. Natuurlik het ek gesien. Die hele wêreld het. Dis immers hoekom ons daar is.

“En wat dink jy daarvan?” wil hy weet. ʼn Nog vreemder vraag, peins ek. Ek dink wat elke ander regdenkende mens van moord, verkragting en marteling dink. Wat anders sal ek daarvan dink? En dan tref die eintlike vraag in die soldaat-seun se hart my.

ʼn Rabbi-vriend van ons vertel graag dat daar geen jong Jood is nie. “Ons almal dra 2 000 jaar se dood, volksmoord, vervolging en smart in ons DNS saam,” meen hy. Ons rabbi-vriend is reg. Van die kerkvaders en die Kruistogte deur die Spaanse Inkwisisie, pogroms in Europa en Rusland tot by die Holocaust is die Joodse geskiedenis deurspek van leed, pyn en verlies. Boonop het die Jode alleen en uitgelewer gestaan in die beproewing, sonder bondgenoot of kampvegter. Vir generasies moes die afstammelinge van Abraham, Isaak en Jakob op die harde manier leer dat die wêreld blind, stom en hande gevou staan wanneer dit by hulle lyding kom – totdat hulle tot die slotsom moes kom dat niemand sien nie en niemand omgee nie; totdat hulle aanvaar het dat hulle altyd op hul eie aangewese sou wees.

En dis wat Ofer by my wou weet. “Is dit nou anders? Sien julle nou? Sien julle die keer? En as julle sien, gee julle om?”

Ek skryf hierdie artikel op dag 10 van Operasie Swaarde van Yster. Tans staan der duisende soldate – ʼn burgerlike weermag wat gister nog busdrywers, prokureurs en programmeerders was – op die Gasa-grens en wag vir die bevel om die grond offensief te begin. Ek weet hoe Hamas oorlog maak. Na 7 Oktober weet ons almal. Maar die wêreld vergeet gou. En dis hoekom ek skryf. Vir Ofer, vir Gabi, vir die soldaat met die swart stoppelbaard wat dink ek is braaf. Vir die kinders wat die Hamas-terroriste terug gevat het Gasa toe en wat nou nog net op foto’s lag. Ek sien. En ek gee om.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Nou wonder ek net wie gaan die meeste glo: ‘n Ooggetuie soos hierdie. Of gaan hulle iemand se verdraaide weergawe glo net omdat hulle nie van die waarheid hou nie.

Ilse ·

Gisteraand is ‘n hospitaal in Gaza getref en honderde mense is dood. Dis verskriklik. My hart breek. Israel se dadelik: “Dit was nie ons nie. Ons het nie op daardie tyd gevuur nie.” Maar dit maak min saak. Ure later lewer Israel die konkrete bewyse dat dit ‘n Palestinian Islamic Jihad missiel was wat die hospitaal getref het—en dat PIJ en Hammas dit weet. Weereens, dit maak min saak.

Lila ·

Ilse, sterkte daar vir jou en jou gesin en almal in Israel. Ek ken jou al amper 40 jaar… jy was nog altyd n sterk vrou . Mag die Here jul beskerm. Dankie vir die goeie werk wat jul vir God se mense en Sy Koninkryk doen. Wees geseënd.

De Bok ·

Die groot verskil tussen IDF en Hamas is dit:
As Hamas se optrede lei tot burgerlike dood, spog hulle daaroor, want dit was nog heeltyd die punt.
As IDF optrede lei tot burgerlike dood, word dit ontken of daar word verskoning voor gemaak.

Hierdie feit het die grootste invloed op die kant wat ek kies in hierdie oorlog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.