Namibië skrap SEB, maar SA vra meer

SEB-swart-ekonomiese-bemagtiging

Foto: Rawpixel/Pixabay.com

Pres. Hage Geingob van Namibië het die land se 25%-SEB verlede jaar afgeskaf, maar Suid-Afrika wil dit nóg strenger toepas om die ekonomie te laat groei.

Namibië, een van die wêreld se ongelykste ekonomiese lande, het die wet wat bepaal dat swart agtergeblewe mense ekonomiese voordele moet geniet, afgeskaf.

“Die 25%-gelykmaakfonds sal nie tot bemagtiging lei nie. Die meeste Namibiërs, veral die voorheen benadeeldes, het nie genoeg hulpmiddels om in bemagtigingstransaksies te belê nie. Hulle is ook nie in staat om sulke fondse te bekom nie,” het Geingob gesê.

“Ons regering se rol is om ‘n klimaat te bevorder waarin beleggers van enige kleur wat risikokapitaal het, kan belê.”

Die SEB-wet het reeds veroorsaak dat Botswana Namibië verbysteek as die kontinent se tweede aanloklikste bestemming vir mynbeleggings. Namibië is die wêreld se grootste verskaffer van marienediamante en vyfde op die lys van uraan.

Zimbabwe is ook op pad om die wet dat mineraalmaatskappye 51% van hul besigheid aan plaaslike inwoners moet verkoop, te verslap.

Politieke konneksies skep rykes

Kritici van Suid-Afrika se SEB-beleid sê dit het net van ‘n klein aantal ryk individue met politieke konneksies multimiljoenêrs gemaak.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê ‘n internasionale paneel van ekonome het reeds ‘n dekade gelede aanbeveel dat die gedwonge oordrag van eienaarskap aan swart mense geskrap moet word omdat dit een van die swaarste ekonomiese laste in die Republiek is.

“Dit is veronderstel om ‘n korreksie te wees, maar benadeel die gemiddelde swart persoon en verhinder die normalisering van die ekonomie,” aldus Le Roux.

“Maar intussen wil die SA regering nog strenger SEB-maatreëls instel. Dit is bewys dat dit die resep vir ‘n ramp is en vervreem beleggers.”

Duma Gqubule, direkteur van die Sentrum vir Ekonomiese Ontwikkeling en Transformasie is ook op rekord dat SEB ‘n “veragtelike ramp” is.

“Ons het nie eens ‘n behoorlike middelklas nie en 56% van die bevolking is arm. Ons beweeg in die rigting van ‘n groot resessie.”

Syfers van die breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) toon dat die getal swart eienaars van besighede sedert 2015 en 2017 gedaal het van 33,5% tot 27,8%.

Die syfers wat die impak van SEB in top- en senior bestuur oor die laaste elf jaar toon, skep ‘n nog swakker prentjie:

“As jy kyk na Suid-Afrika tussen 2009 en 2017, sal jy sien dat ons stadiger as enige ander streek in die wêreld gegroei het.”

Wie kry die skuld?

Zodwa Ntuli, die kommissaris, stem nie saam met Gqubule nie. Sy plaas die skuld vir die swak resultate op die swak toepassing van die BBSEB-beleid. Sy sê die kommissie het eers vyf jaar gelede tot stand gekom.

“Maatskappye het die kodes na eie wense vertolk en daar was geen monitering of regulering nie. Baie van hulle het gedink dis ‘n tydelike maatreël, maar dit kan nie geskrap word voordat ons nie die gewenste gevolge het nie.

“As die ekonomie ongelyk bly soos dit tans is, sal die wetgewing nie geskrap word nie.”

Ander glo weer dat SEB dood is as die gety nie vinnig verander nie.

Hoe werk SEB?

Om ‘n hoë SEB-telling te kry, moet maatskappye aan vyf vereistes voldoen. Dit sluit in eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling, bestuursbeheer, verskaffingsontwikkeling, en ondernemingsgees.

Kritiek teen firmas sluit in dat daar nie genoeg vaardigheidsontwikkeling gebeur nie omdat daar te min opleiding aan swart mense gebied word. ‘n Direkteur van ‘n regsfirma sê die statistiek toon jaar ná jaar dat die wit bevolking voorkeur kry vir opleiding en ontwikkeling.

“Wat is dan die probleem?” vra die direkteur.

Miskien het dit te doen met die aangebode talent en die gebrekkige opleiding wat veral deur swart skole aan die mark gebied word. En die lae slaagsyfer, ook in tersiêre onderrig.

Besighede kyk bietjie anders ná aanstellings. Hulle kan nie juis by die staat aanklop vir redding nie. Daarom word hul aanstellings sover moontlik op verdienste gemaak.

Waar SEB wel met mening deurgevoer is – instansies soos Eskom, Telkom, die SAUK, die SAL, munisipaliteite en regeringsdienste – is die redes vir die mislukkings en die miljarde rande se skuld te sien vir enigeen met net ‘n bietjie insig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Pieter ·

Sy naam is Hage, nie Hein nie. Mens sou verwag dat die media ten minste hul buurland se staatshoofde se name ken!!

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Pieter

Dankie dat jy dit uitgewys het, die berig is nou gewysig en die naam vertoon reg.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Gemaskerde Sopbeen ·

Daar is ‘n spreekwoord wat lui: This world has enough for everybody’s need….but not for everybody’s greed….

Jerry ·

Wetgewing vir SEB sal nie in SA geskrap word nie, omrede ongelykheid nie uitgewis kan word met n ekonomiese koek wat te klein is vir die miljoene agtergeblewenes in SA nie en dit is die rede hoekom die NDR programme dit ten doel het om van witmense ontslae te raak in die werksektore en werk toe te eien vir swartmense. Kyk hoe het die staatsektore verswart! Die oplossing sou wees om eerder die ekonomiese koek te vergroot, maar dit blyk n onbegonne taak te wees met korrupsie en die toenemende sosialistiese inperking van die vryemarkstelsel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.