Navo nog nie bokveld toe nie

Jens Stoltenberg, Navo se sekretaris generaal, en pres. Donald Trump in die voorgrond. Erna Solberg (Noorweë se eerste minister), Angela Merkel (Duitse kanselier), Andrzej Duda (president van Pole) en Kyriakos Mitsotakis (Griekeland se eerste minister) is in die agtergrond. Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

Die pas afgelope Navo-leiersberaad buite Londen het toe nie, soos sommige gevrees het, op ’n breekspul uitgeloop nie.

Al was daar bitsige woorde en het die barste duidelik gewys, kon die bondgenootskap die beraad afsluit met ’n relatiewe eenheid en soeke na oplossings, pleks van om verskille op die spits te dryf.

Enige polities-militêre bondgenootskap is ’n moeilike affêre om bymekaar te hou. Veral as dit bestaan uit 29 lidstate met uiteenlopende belange en leiers wat hulle graag soos kapokhaantjies gedra. Voor die beraad is wyd gevrees dat die verskille ’n groot spyker in Navo se doodskis kan wees.

Pres. Emmanuel Macron het ’n paar weke gelede opspraak gewek toe hy die bondgenootskap as “breindood” verklaar het. Die konteks waarin hy dit gesê het, was die twyfel wat pres. Donald Trump gereeld saai oor sy verbintenis tot art. 5 van die Navo-handves (’n aanval op één is ’n aanval op álmal) en die eiesinnigheid waarmee die Turke in Sirië te werk gaan.

Art. 5 van die Navo-handves is die fondament waarop die bondgenootskap berus. Toe Navo (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) in 1949 gestig is, is die artikel ingevoeg om dit duidelik aan Josef Stalin se Sowjetunie te maak dat hy nie moet probeer om die ryk wat hy in 1944-’45 in Sentraal-Europa verower het, uit te brei nie.

Reeds voor 1945 het Amerika en Brittanje gereeld oor allerlei sake vasgesit. Maar die gemeenskaplike bedreiging van Adolf Hitler was ernstig genoeg om hulle telkens te beweeg om die probleme deur gesprekvoering op te los.

Ná 1945 het die Sowjetunie die rol van bedreiging oorgeneem. Deur die jare was daar dikwels ernstige meningsverskille tussen byvoorbeeld Amerika en Frankryk, maar dit het nooit tot ’n werklike skeuring gelei nie.

Pres. Emmanuel Macron. Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

Die inploffing van die Sowjetunie in 1991 het Navo egter van sy grootste samebindende faktor – ’n gemeenskaplike bedreiging – ontneem. Terselfdertyd het heelparty lande wat tevore onder Moskou se hiel was by Navo aangesluit en die samehang deur die groter getalle moeiliker gemaak.

Teen 2014 was Navo, so het waarnemers gegis, onderweg na sy sterfbed. Maar toe val Rusland die Krim binne en stook ’n opstand in die ooste van Oekraïne aan.

Dit was die keerpunt. Op sy spitsberaad in Wallis dié jaar het die Navo-lande ooreengekom om hul verdedigingsuitgawes almal tot minstens 2% van hul bruto binnelandse produk te verhoog. Meer geld word sedertdien aan verdediging bestee, maar die 2% is nog nie bereik nie. By sommige (Duitsland is ’n voorbeeld) is dit ’n gevolg van verset deur die gematig-linkse Sosiaal-Demokrate, wat deel van bondskanselier Angela Merkel se regeringskoalisie vorm.

Trump het sedert sy bewindsoorname in 2016 tereg daarop gehamer dat die 2% gehaal moet word. Getrou aan sy bombastiese karakter het hy die krediet vir enige verhoogde militêre besteding aan sy eie druk toegeskryf, maar buite rekening gelaat dat die proses al begin het lank voordat hy sy koffers in die Withuis uitgepak het.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/ Evan Vucci)

Navo se sekretaris-generaal, die Noor Jens Stoltenberg, het groot moeite gedoen om die moontlikheid van ’n breekspul in Londen te verminder. Die byeenkoms is tot ’n enkele dag beperk, en dis ’n “leiersberaad” genoem, pleks van die gebruiklike “spitsberaad”.

Tog het die wedersydse irritasies kort-kort oorgeborrel. So was Trump in die openbaar heel beledigend teenoor Macron, terwyl ’n groep regeringsleiers met ’n glasie in die hand op ’n onthaal in Buckingham-paleis minagtende grappies oor die Amerikaanse president gemaak het (hulle wis nie dat hulle op kamera was nie).

Dit was terselfdertyd ’n onbewaakte oomblik wat gewys het, reg of verkeerd, wat die wêreld se leiers werklik van Trump dink.

Ook het pres. Recep Tayyip Erdoğan hom só vervies vir verwyte teen sy inval in Sirië, dat hy gedreig het om sy steun vir militêre hulp aan die drie Baltiese republieke in te trek. Aangesien dié drie regstreeks in die vuurlinie teenoor die Russe staan, sou dit ernstig gewees het. Maar nadat Stoltenberg vertroulik met Erdoğan gaan praat het, het die Turk sy dreigement gekanselleer.

Voorts het Trump Macron se uitlatings, dat Navo “breindood” is, in die openbaar geniepsig (“nasty”) genoem. En selfs Merkel het Macron, sy dit meer diplomaties, daaroor aangespreek. Uiteindelik het geeneen van dié irritasies egter oorgekook nie. Twee faktore was daarvoor verantwoordelik.

Ten eerste het die opkoms van China die leiers laat besef dat hier sprake is van ’n nuwe gemeenskaplike bedreiging en dat dit slegs die hoof gebied kan word as hulle ’n verenigde front wys. In die gesamentlike verklaring ná afloop van die beraad staan onder meer: “Ons erken dat China se toenemende invloed en internasionale beleid sowel geleenthede as uitdagings meebring wat ons saam as ’n bondgenootskap die hoof moet bied.”

Dit was veral die Amerikaners wat die aandag op China gevestig het. Die opkoms van China as internasionale mededinger is al deur Trump se voorganger, pres. Barack Obama, as die grootste strategiese gevaar geïdentifiseer, maar Navo het dit nou oorgeneem.

Stoltenberg het ook daarop gewys dat China grootskaalse ekonomiese aktiwiteite in die Noordpoolstreek, Afrika en Europa aanpak en dat dit op die duur ’n strategiese uitdaging inhou.

Jens Stoltenberg, Navo se sekretaris generaal, pres. Donald Trump en Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

Die tweede rede vir die voortgesette eenheid in Navo is dít: Navo bestaan nie slegs uit regeringsleiers nie. Dis ’n polities-militêre bondgenootskap met ’n groot onderbou wat stilweg met sy alledaagse werk voortgaan, ongeag wat die kapokhaantjies daar bo kwytraak.

Die gesamentlike oefeninge tussen die weermagte gaan voort. Navo-magte is in die Baltiese state en Pole gestasioneer om ’n moontlike Russiese inval af te skrik.

Talle internasionale komitees op amptenaarsvlak gaan voort met hul werk om operasies en oefeninge te beplan en gesamentlike standpunte te vind. ’n Beraad soos dié een in Londen word voorafgegaan deur maande se harde werk deur ’n leër van amptenare en offisiere.

Uiteindelik gaan dit om gemeenskaplike belange. ’n Bekende 19de-eeuse Britse minister van buitelandse sake, lord Palmerston, het op ’n keer gesê lande het geen permanente vriende nie; slegs permanente belange.

Dis ’n siniese uitspraak, maar waar. Solank die 29 lidlande van Navo voldoende gemeenskaplike belange kan identifiseer, sal die bondgenootskap voortbestaan. Om Mark Twain se bekende uitspraak te misbruik, die berigte oor Navo se dood is hoogs oordrewe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

André-Chris ·

Net so is die Demokrate se gedrag en optrede in die openbaar teen Trump, met Nancy Pelosi aan die voorpunt ‘n voorbeeld van hoe dinge nié gedoen moet word nie. Mag daardie mense almal in ‘n spieël kyk en hul koppe in skaamte laat sak.

André-Chris ·

So terloops, Donald Trump het vir 14 jaar ‘n realiteits TV program aangebied, ook was hy oor die jare op verskere ander TV programme te sien, die mense in Amerika, ook die res van die wêreld wat hul huiswerk gedoen het, weet dus presies wie en wat hy is, hoe hy optree en wat sy karakter is. Om nou soos die Demokrate hom in ‘n staat van beskuldiging te wil plaas en daardie lande se eersteministers wat minagtende grappe van hom gemaak het, is ‘n vingerwysing na wat die wêreld vandag geraak het. Laat hulle eerste die hande in eie boesem steek, as ‘n ander persoon robuust optree, wees groot genoeg en behou jou teenwoordigheid van gees. So onderskei mens die groot staatsmanne wat in die geskiedenis onhou sal word van die gewone waarvan die integriteit ontbreek en dit in hul het om minagtende grappe van ‘n ander land se staatshoof te maak.

John ·

… solank daar nog gas en olie en diamante en goud en goeie grond en slim Russe en antieke skatte in Rusland oor is, solank sal Navo met nuwe wapens en bangbroek-soldate met groot bekke teen goeie besoldiging volgeprop word…

Feite ·

Die konsensus onder NAVO lande se leiers oor gemeenskaplike bedreigings en algemene sake van belang dui daarop dat NAVO alles behalwe “breindood” of te wel, bokveld toe is. Die feit dat daar geen konsensus tussen die republikeine en demokrate bereik kan word nie met trump se “impeachment”, dui daarop dat die demokrate trump se politieke loopbaan ook nie bokveld toe kan stuur nie. Anders as met NAVO se konsensus oor NAVO se voortbestaan, behoort die gebrek aan konsensus tussen die demokrate en republikeine, Amerika verder te verdeel en kan ons verwag om “trump must fall” veldtogte van die anti trump ondersteuners te sien asook buitelandse anti trump en anti Amerika veldtogte, omrede trump sy “trade war”, sanksieoorloe en immigrasie beperkings aansienlik sal uitbrei, laat staan nog buitelandse inmenging in die komende Amerikaanse verkiesing !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.