Neig Brasilië weer na links?

Jair Bolsonaro word as die “Trump van die Trope” beskryf. (Foto: Facebook)

Die tye waar verkiesings ʼn amper vervelige keuse was tussen ʼn party effens regs en effens links van die middel, met minimale beleidsverskille, is ook in Brasilië verby.

Trouens, dit vergelyk nogal taamlik met die laaste verkiesing in die VSA in 2020, waar die keuse tussen twee kandidate, Trump en Biden, was wat twee wedersyds onversoenbare wêreldbeskouings verteenwoordig en die land middeldeur verdeel het.

Die sittende president, die regse Jair Bolsonaro, het verlede keer (in 2018) gewen omdat Brasilië se lank regerende linkse regering in ʼn grootskaalse korrupsieskandaal gewikkel was. Net soos met Trump se oorwinning van 2016, was Bolsonaro s’n iets wat die globale elite diep geskok het en wat eintlik nie kon gebeur het nie.

Vir sy kiesers egter, talle gewone mense uit alle oorde van die samelewing, maar veral Christene en behoudende mense uit die middelklas, het hy ’n einde gebring aan jare se korrupsie en verval onder die sosialistiese Arbeidersparty PT (Partido Trabalhadors).

Hy was ook, soos Trump, ʼn anti-gevestigde orde kandidaat wat hom nie aan politieke korrektheid en woke-isme gesteur het nie en onomwonde vir Christelike, behoudende en patriotiese waardes staan.

Van beroep is hy ʼn professionele soldaat (weermagkaptein), maar reeds lank in die politiek, meesal as lid van die parlement. Sy sterkste steun lê veral (weereens soos ook in die geval van Trump) by evangeliese Christene. ʼn Sterk groeiende beweging in Brasilië al is die meerderheid mense nog steeds katolieke, soos ook Bolsonaro self. Bolsonaro se eerste termyn is wel sterk oorskadu deur Covid-19 en die ontwrigtings wat daarmee saamgegaan het, sodat hy min van sy eintlike, konserwatiewe beleid kon uitvoer.

Luiz Inacio Lula da Silva lewer ‘n toespraak na verkiesingsresultate bekendgemaak is. (Foto: Allison Sales/AFP)

Sy teenstander, Luis Ignacio Lula da Silva verteenwoordig die anderkant van die spektrum, sosialisme, ʼn welsynstaat en regulering deur wêreldwye instansies (globalisme). Hy was vroeër ʼn vakbondleier en president van 2002 tot 2010. Omdat ook hy in die groot korrupsieskandaal van sy opvolger en vertroueling Dilma Rousseff betrek is, moes hy tronkstraf uitdien.

Hy is egter voortydig vrygelaat toe die oordeel as ongegrond tersyde gestel is. Hy het soos ʼn feniks uit die as herrys en het by sy talle aanhangers die status van ʼn heilsbringer.

Dit het veral daarmee te doen dat hy tydens sy presidentskap die goeie ekonomiese omstandighede (wat niks met sy beleid te doen gehad het nie, maar met die kommoditeit-supersiklus wat ook ander opkomende lande soos Suid-Afrika jare van voorspoed besorg het) benut het om armes op grootskaal met welsynstoelae te ondersteun.

Al probeer Da Silva internasionaal die rol van reënwoudbeskermer en wêreldklimaatredder speel – wat hom by talle meningsvormers gewild maak – is tydens sy bewind nog meer woud vernietig as tydens Bolsonaro se bewind. Trouens, vir sosialiste was die omgewing nooit ʼn hartsaak nie, maar eerder ʼn middel tot ʼn doel.

Die verkiesing vind in twee rondtes plaas. In die eerste rondte, wat verlede Sondag was, staan verskeie kandidate. In die uitkloprondte staan die wenner en naaswenner teen mekaar. Daar is egter telkens verwag, soos deur meningspeilings onderskraag, dat Da Silva reeds in die eerste rondte meer as 50% van die stemme sou trek en regstreeks verkies sou word. Omdat Bolsonaro deur die globale elite so gehaat word, en net negatiewe nuus (soos met Trump) oor hom versprei is, is aanvaar dat die meerderheid Brasiliane ook so voel.

Die uitslag van die eerste rondte was toe nie so duidelik soos verwag nie. Da Silva het wel koning gekraai met 48% van die stemme, maar Bolsonaro het met 43% beter gevaar as verwag. Die verdeling word ook etnies en geografies weerspieël: Da Silva se sterkste steun is in die arm noorde en noord-ooste wat meesal deur swart en gekleurde Brasiliane bewoon word, terwyl Bolsonaro se vestings in die ekonomiese hartland van die Suide en sentrum is.

Dit is ook waar die meerderheid van die Brasiliane van Europese herkoms woon. In die gelyklopende verkiesing tot die kongres het Bolsonaro se Liberale Party (PL) selfs meer setels as die Arbeidersparty van Da Silva gekry.

Die kanse is steeds die beste vir Da Silva om in die tweede rondte te wen. Kiesers van die ander kleiner kandidate het nou egter die hef in die hand om die skaal te swaai!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jean ·

Die linkse mense vat orals oor en dan kom die wokeness saam.

VaalDonkie ·

Daai verkiesing was net so skoon soos Amerika s’n in 2019.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.