Noodsaaklikheid van grense nou weer duidelik

Foto ter ilustrasie. (Foto: Pixabay.)

Reg in die noorde van Suid-Afrika, in die Mapungubwe Nasionale Park, is ’n uitkykpunt waar jy mooi die plek kan sien waar Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe se grense bymekaar kom. Tussen die Limpopo-rivier en die meestal droë Shashe-rivier lê ’n klein eilandjie, Coetsers-eiland. Hierdie klein stukkie grond by die sameloop van groot riviere, omring deur meestal wildernisgebiede, het ’n kleurryke geskiedenis.

Behalwe dat ’n boer hom baie jare gelede in die omgewing gevestig het, die eiland vir homself toegeëien en dit na homself vernoem het, was daar in later jare nogal ’n redelike grensgeskil tussen Suid-Afrika en Botswana oor aan wie die stukkie grond nou eintlik behoort.  Vandag wapper die vlag van Botswana op Coetsers-eiland en is daar goeie buurmanskap tussen Suid-Afrika en Botswana.

Wanneer ’n mens vanaf die uitkykpunt in Mapungubwe na dié klein eilandjie staan en kyk, mag jy dink dat dit eintlik totaal onsinnig is om hare te kloof oor aan watter land so ’n nuttelose stukkie grond nou eintlik behoort. Tog weet ons uit die verlede dat grense van groot belang is. Grense definieer volkere, streke, lande en kontinente reeds vir eeue. Grense wat goed gedefinieer is, skep goeie buurmanskap.

Die afgelope paar dekades het daar veral in die Weste ’n persepsie ontstaan dat grense onnodig en onsinnig geraak het. Vandag, sowat vyf maande ná die uitbreek van die koronapandemie word miljarde mense in ’n meerderheid lande se beweging wêreldwyd, hoewel tydelik, weer deur grense beheer. Die meeste lande het tans nog streng grensbeheer met eksterne en interne grense wat gesluit is.

Die afgelope week het daar op die grens tussen die Duitse deelstaat Saarland en die Franse Moselle-streek ’n geskil ontstaan nadat daar ’n toename in persone met die koronavirus aan die Franse kant was en die Duitsers in Saarland bekommerd was dat dit weens verslapte grensbeheer na hulle kon versprei. Die koronapandemie het die idee dat grense onnodig geraak het verkeerd bewys.

Heelwat konflik in die wêreld word deur geskille oor grense veroorsaak. China en Indië het tans ’n grensgeskil in die Himalajas wat onlangs selfs tot geweld gelei het. Netso het Indië en Pakistan ’n ou grensgeskil in Kasjmir. In Oos-Europa is daar verskeie grensgeskille, die bloedigste die afgelope tien jaar seker die geskil in Donetsk en Loehansk in die ooste van die Oekraïne.

Indien ’n mens sake oor grense naïef beskou, kan die oplossings soms maklik lyk. As die klomp Russies-gesindes in die ooste van die Oekraïne dan nou deel van Rusland wil wees, laat hulle wees. Of selfs, laat Noord-Ierland net deel word van Ierland – dit maak tog geografies sin.

Ons persepsie oor grense is baie keer negatief weens die Berlynse Muur of die grens tussen Noord- en Suid-Korea. Die realiteit is egter dat grense wat billik en korrek ooreengekom en deeglik bestuur word, ’n sin vir die eie bevorder en goeie buurmanskap meebring. Sonder grense sou misdaadvoorkoming, ordelike handel, hanteerbare immigrasie en natuurlik die voorkoming van siekteverspreiding, soos nou, onmoontlik wees. Nog belangriker egter is dat die wêreld sy ryke skat van tale en kulture sonder grense vir altyd sal verloor.

Die les uit die koronapandemie is dat grense goed en nodig is, maar dat dit sinvol en uit vertroue saam bestuur moet word ten einde die eie te beskerm, maar nie ten koste van mekaar nie.

Grense ten koste van mekaar lei tot konflik. Grense in belang van mekaar lei tot goeie bure wat mekaar vertrou en ’n gedeelde belang bevorder.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus W ·

Die Midde-Oosterse grense is deur Britse burokrate en Winston Churchill geskep, soos Sirie, wat een van die redes vir die konflik is. Navo se drang “nach den osten” skep net soveel grensprobleme.

OW ·

Noodsaaklikheid van grense was nog altyd belangrik en die effektiewe bestuur daarvan.Na 1994 blyk dit hier in Suid-Afrika nie meer van belang te wees nie.Baie suid- afrikaners het my al meegedeel dat hulle nie die onwettige mense hier soek nie.Hulle vat ons werk en besigheid.Dit gee weer aanleiding tot geweld en vreemdelinge haat.Die politieke debat tussen Panyase Lesufi en Solly Misimanga het dit bewys dat hier letterlik duisende onwettige mense van oor die hele Afrika in Suid-Afrika teenwoordig is wat nie gedokumenteer is nie.Grense van belang lei tot goeie bure,maar as dit nie goed bestuur word nie is dit ‘n kandidaat vir ‘n menslike ramp.

Kokerboom ·

Die Korona virus het die drang na globalisme verklein en die ou behoefte aan nasiestate weer aangevuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.