Nuus en goeie nuus

kruise_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Deur dr. Christo Pretorius

Afrikaners bevind hulle in ʼn ANC-beheerde Suid-Afrika toenemend in ʼn vyandige omgewing en redes daarvoor is legio.

Daagliks word berig van plaasaanvalle wat met brutaliteit gepleeg word. ʼn Parlementêre debat oor plaasmoorde en aanvalle het laat blyk dat Afrikaners beslis nie van die owerheid simpatie moet verwag nie.

Mosuia Lekota se oproep dat die rasseretoriek en radikalisme van sowel die ANC, EFF en ander opstokers gestaak word, was ʼn nugter oomblik wat gou weer deur ʼn see van rassevooroordeel oorspoel is.

Die rasgebaseerde radikale transformasie word met mening voortgesit soos uit die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugili Nkwinti, se wetsvoorstelle blyk.

Volgens mnr. Nkwinti sal wit minderheidsgroepe se reg om eiendom aan te koop en die reg om volgens hulle voorkeur grond te verkoop, streng gereguleer word.

Vir die waarde van Afrikaners se eiendom sal dit waarskynlik rampspoedig wees en ʼn verdere inperking van Afrikaners se lewensruimte.

Hierby bly dit nie.

Onlangse statistieke wat deur die Sentrale Statistiekdiens bekend gestel is, voorspel dat Afrikaners binne 60 jaar ʼn skrale 3% van die land se bevolking sal wees.

Jong Afrikaners emigreer na groener weivelde en die ouer garde verhuis na die Wes-Kaap in die hoop op ʼn rustiger bestaan. In terme van die huidige owerheid se ras-en-getalle-politiek beteken dit dat Afrikaners nog minder regte gegun sal word.

Afrikaners beleef nie net die aftakeling van regte en lewensruimte nie, maar verduur ook ʼn aanslag op die siel.

In die howe woed ʼn stryd tussen diegene wat die Christelike godsdiens uit skole wil verban en diegene wat die opvoeding van hulle kinders as verlengstuk van die Christelike geloof bely.

Die aanslag op die Christelike geloof is nie soseer polities gemotiveer nie, maar deel van ander keuses, naamlik tussen tradisie en moderniteit, tussen geloof en ongeloof.

Voorts takel die toevlug tot en soeke na materialisme en genotsug die kern van die Afrikaner se wese. Die kern van die Afrikanerwese is, soos by ander volke en nasies, deur die verkondiging van die een heilige algemene Christelike kerk gevorm.

Hierdie verkondiging het die Afrikaner na Christus gelei, en op Goeie Vrydag neem Afrikaners kruis en dwars in Suid-Afrika en wêreldwyd kennis van sy lyding en kruisiging.

Teenoor die daaglikse nuus word die kruis van Christus as “Goeie Nuus”, as evangelie, beskryf.
Tereg word gevra hoe dié tragiese dood aan die kruis op Golgotha as goeie nuus beskryf kan word, veral as die gekruisigde nie voldoen aan die kenmerke van wat die mens as held of redder beskou nie.

Trouens, aan die kruis sterf Christus met die vraag: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Hierdie vierde kruiswoord van Christus uit Psalm 22 dra nie net menslike twyfel nie, maar ook hoop.
Die hoop dat God sal hoor en in die nood van die sondaarmens sal ingryp.

Die menslike nood is juis Godverlatenheid vanweë die sonde – en die sonde begrens die mens, verskraal alle lewensruimte tot die dood toe.

Die mens is dus gedoem om duskant die dood sinloos te lewe of sin te soek in selfgemaakte gebrekkige geregtigheid.

Christus se kruisdood en hoop op God is nie tevergeefs nie. Sy opstanding uit die dood laat blyk dat God die nood van die mens hoor en die kruisvraag beantwoord, naamlik: God gryp deur Christus in die mens se nood in.

Deur die ingryp in Christus word die dood net ʼn oomblik in die lewe en die opstanding die anker van die lewe.

Dit is die evangelie wat die grondslag is van die kerk; wat ook aan Afrikaners verkondig is en ons verseker dat die lewe en geskiedenis ten spyte van die mens in die hande van die opgestane Here is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

John ·

Dis uiters belangrik dat boere nie mekaar na selfmoord dryf deur negatiewe bespiegelings en voorspooksels nie. As mens luister hoe hulle praat is hul huidige eiendom belangriker as hul hiernamaalse behuising. Het Mammon nou die regte snaar geslaan om ons Boerenasie ten helle te laat trek? Hoeveel van ons voorsate het met ‘n blink Mercedes van die skip se loopplank afgery? In dorpe en stede sit menige bankkrot wit broers wat alles verloor het of nog gaan. Niemand word gebore met ‘n briefie van uitsondering nie. Selfs Adam moes met ‘n paar blare probeer praktiseer…en die Vader moes toe maar voorsien… Hy Kan.

Dawie ·

John, dankie, dit moet gesê word. Hulle praat van fop nuus, hierdie artikel is fop nuus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.