Nuwe neste in die ruwe orde

Gerrit Viljoen, president FW de Klerk en Pik Botha, die trio-verteenwoordigers van die NP-regering tydens Kodesa op 20 Desember 1991. (Foto: Walter DHLADHLA / AFP)

Die gebied van die huidige Suid-Afrika is histories ʼn versameling van neste en swerms waarvan die grense wissel. Soms verlaat klein republieke of Lesotho en Swaziland die versameling van neste. Soms keer Transkei en Bophuthatswana weer terug.

Diverse swerms probeer in verskillende versamelings neste naas mekaar bestaan. Sommige vlieg weer weg, ander probeer op verskillende maniere terugkom. Die versamelings van neste berus op tydelike politieke skikkings.

Die skikking in die 1990’s in Suid-Afrika se buiteblare het soos ʼn demokrasie s’n gelyk, maar die skikking het ʼn parasitiese groeibos bygevoeg. Die kragte van ʼn netwerkgebaseerde regime en “maagpolitiek” vreet elders in Afrika telkens die formele staat met sy Westerse wortels op en skep ʼn nuwe orde.

Die Afrikastudies van kenners soos Jean-Francois Bayart, Patrick Chabal en Stephen Ellis ontleed hoe daardie prosesse en metodes werk. Hulle is ingebed in histories en kultureel dikwels dominante denkwyses en gereedskap. Hulle word gebruik om elite-politiek te bedryf, met of sonder state, soos in pre-koloniale Afrika.

Staatspresident van Suid-Afrika FW de Klerk op 22 Desember 1993 in Kaapstad tydens die laaste apartheidsparlementsitting. (Foto: Rodger BOSCH / AFP)

Ek het die werking daarvan in ʼn lesing in 2004 in Centurion oor Die skadustaat in Afrika en die politieke rol van wanorde verduidelik. Die skadu’s van só ʼn skadustaat het toe reeds oor Suid-Afrika geval. Met daardie raamwerk kon ʼn mens twintig jaar beter politieke en sake-oordele vel as met demokrasie-teorie of reënboogdanse.

Van 1994-skikking tot ruwe orde

Die verskyningsvorms van Afrika-politiek werk soms redelik, deesdae in Rwanda en Botswana. Hoe meer divers en groter ʼn Afrika-orde egter is, hoe moeiliker vermy ʼn mens die verskyningsvorms wat Suid-Afrika tot by rommelstatus gebring het.

Die eerste 10, 15 jaar van ANC-bewind was redelik leefbaar vir die elf en meer groepe van inheemse Afrikane. Die opgeboude Westers-beheerde staatsplantasies, stabiliteit en ʼn internasionale vredesdividend het meer bygedra as die ANC-leierskap en guerrillas sonder hulle Sowjet-grootbroer.

Daardie buffers is nou weg. Die ANC was intussen Olimpiese kampioene in waardevernietiging. Die bevolking is minstens 50% groter as in 1994 en selfs ʼn goeie regering sal sukkel om hulle verwagtinge te bevredig.

Destydse president Nelson Mandela saam met sy adjunk Thabo Mbeki en ANC-nasionale voorsitter Jacob Zuma by die ANC se 50ste Nasionale Kongres in 1997. Tydens hierdie kongres het Mandela uitgetree as die president van die ANC en die presidentskap aan Mbeki oorgelaat. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Nie-demokratiese aansporings oorheers sedert Jacob Zuma se presidensie die demokratiese aansporings in die politieke arena. Hulle wissel van ʼn selektiewe sosiale kontrak en ʼn uitvoerende mag met falende teenwigte tot politieke intimidasie en ʼn ongelyke ekonomiese en politieke speelveld.

As politieke skikkings soos die 1994-orde begin uitrafel, gaan dit dikwels gepaard met sosiopolitieke onstabiliteit en interne konflik in sekere gebiede. Die faksie-twiste tussen mense wat in 1994 meestal ANC was, politieke moorde, die gruwelike omvang van geweldsmisdaad, die onluste van Julie 2021, en Afrobarometer se bevindings oor baie kiesers se antidemokratiese houdings is die tekens daarvan.

Vrye ruimtes, en wilder

Sommige Afrikaners glo dat die staatsverval nuwe ruimtes oopmaak. Dit is so, maar dit beteken nie noodwendig wanorde nie. Die politieke orde werk net anders, soos baie voorkoloniale Afrika-ordes se elite-politiek ook bykans sonder state gewerk het.

Vele regerings bly aan bewind deur goed te kyk na hul eie bronne van inkomste, wettig en nasionaal al dan nie. Die skildwagte van die regime is ook belangrik. Verder oefen heersers direk of indirek mag uit deur plaaslike sterkmanne en hul meelopers.

Die sterkmanne kan ook misdaadbendes insluit. Heersers wat geweldsmisdaad nie kan keer nie, laat toe dat dit die groter orde hervorm en gebruik die voordele daarvan, skryf die Afrika-kenner Patrick Chabal.

Selfs ʼn swak bewind moet ʼn mens nie onderskat nie. As daar regtig ʼn krisis is, gebruik ʼn regime sy staat se internasionale bande om ʼn rolspeler wat in Afrika ʼn vastrapplek soek as bondgenoot teen sy interne teenstanders in te span.

Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa was die twee hoofonderhandelaars vir die huidige Suid-Afrikaanse bedeling in die 1990’s. (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Dit is een van die beste beleggings vir voornemende Afrikaner-leiers en meningsvormers om hulself beter te skool oor die dinamika van Afrika-politiek en ander politieke kulture. Die selfoorskattende onderhandelaars en grondwetkenners van die 1990’s het dit onvoldoende begryp of verreken.

Die persentasie ekonomies kwesbares onder Afrikaners sal vorentoe groei. Sowat 30% van die diverse swart bevolking is steeds kwesbaar tussen die armes en die middelklas. Ook onder bruinmense in die Kaap is daar soortgelyke verskynsels.

Dit is onder hierdie segmente waar opvoeding, ondernemerskap, eiendomsregte en goeie gesondheidsdienste in aanvraag sal bly. Afrikaner-organisasies en hul vennote in ander groepe mag van die betroubaarste kanale vir internasionale hulp aan sulke gemeenskappe word.

Na buite bewus en bemagtig

Afrikaners aan die suidpunt van Afrika, ver van die Weste en Asië, is dikwels na binne gekeer. Hulle onderskat maklik die impak van groter internasionale politieke en ekonomiese rolspelers op hulle lotgevalle.

Die VSA en grootkapitaal het geweier om druk uit te oefen vir ʼn sterker federale orde in die 1990’s. Historici sal later beoordeel of dit ʼn drie onder hulle eie pale was. Die 1994-orde het immers die pad voorberei vir deïndustrialisering, kapitaalvlug en ʼn groter rol vir China in Suid-Afrika.

Voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger (R), op 12 April 1994 saam met die Britse minister van buitelandse sake, Lord Carrington (L) en IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi. Kissinger en ‘n afvaardiging van ses ander internasionale figure het destyds tussen die IVP en ANC bemiddel oor geskille wat gedreig het om die land se 1994-verkiesing te ontwrig. (Foto: Walter DHLADHLA / AFP)

Daar is boekrakke vol politieke wetenskapsfiksie oor demokrasie onder die ANC-bewind. Internasionale sakelui en ander rolspelers soek egter in die praktyk deesdae beter en betroubaarder vennote in Afrika as die kaders.

Afrikaners bevind hulself tussen die mededinging van groot magsblokke vir toegang tot kritieke minerale en voedselproduksie. Wetenskaplikes en kundiges uit eie kring sal ʼn onderdeel bly of word van die geopolitieke mededinging. Afrikaners kan deur die opbou van ʼn strategiese ontledings- en dienskapasiteit ingroei in meer internasionale netwerke en selfstandigheid.

Bos-rugby

Die parasitiese groeibos in groot dele van die politiek het Afrikaners en kleiner groepe tot ʼn permanente buitekring verdring. Hulle politieke lewe gaan in die half-demokratiese ruwe orde soms soos rugby verloop. Vorentoe beweeg, terugval, verdedig, skrum, wegbreek uit die losgemaal, steelkant verbygaan, volgende fase.

Dr. Heinrich Matthee (Foto: Verskaf)

Die politieke en ekonomiese speelveld is ondanks die Grondwet baie ongelyk. Die skeidsregter volg ook andersoortige reëls. Jou voertuig soontoe mag soms gekaap word, en jou ondersteuners mag buite sig verswak word. Dit gaan dikwels voel soos rugby in alle windrigtings, met die pale en die voordeellyne wat verskuif.

In krisistye tree die kulturele sluimerkrag van die onbekendes dikwels na vore. Kulturele en ekonomiese, eerder as politieke, kragopwekkers sal die belangrikste groeibodem vir Afrikaners in die ruwe orde skep. Demografiese konsentrasies kon die impak daarvan vermenigvuldig. ʼn Groep hoef nie groot te wees om grootse skoonheid en pionierswerk voort te bring nie.

In die komende jare sal die politieke roofdiere van die nag soms stilweg die makliker prooi probeer oorval. Dit bly ʼn risiko in hiperdinamiese domeine én die verflenterde half-demokratiese orde. Die moeilike prooi het dan ʼn beter kans om hul tuistes en alliansies vreedsaam te handhaaf en te bou. In die ruwe orde is dit die geslagte en nageslagte van die vryburgers van Afrika.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Unie van Suid-Afrika was reeds in 1910 gedoem. Ironies was die Engelse in Natal teen uniewording. Maar die Boere en Britte was toe reeds groot vriende. Die Boereoorloë was vergete. Dit laat ook vrae ontstaan oor die nut van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit het gewone Afrikaners net verarm en byna gelei tot volksuitwissing. Ons is nou by ‘n punt waar die RSA geleidelik gaan opbreek. Dis net ‘n herstelknop wat ons gaan terugneem na 1652. Ons het té lank teen swaartekrag baklei.Daar is nie meer gom wat ons aanmekaar hou nie. KZN gaan waarskynlik eerste wegbreek. Die Wes-Kaap gaan volg.

OW ·

Baie interessante skrywe om te lees.Ek hou van die metaforiese filosofie wat die skrywe deurvleg,wat nie die feite verbloem nie.

annie ·

Hogere prosa en poësie is aan die orde van die dag so voor die grootse verkiesing voor Republiekdag einde Mei. Soveel twak is ook nog amper nooit verkoop nie al het die stoele glo gevlieg tydens NP- en SAP-vergaderings in die ou dae. Maar dit wag dalk nou weer vir ná die idealistiese samewerkingsdrome van partyleiers vlerke kry. ‘n DA-Light sal van nou af die Afrikaners wat nie meer weet waar hul, hul kruisie kan trek nie, op die draad laat sit, want Afrikaanses is vir die eerste keer sedert 1948 zonder een tuiste. Die Kaapse Vlakte is darem glo nog beskikbaar vir ‘n Veelrassige Federasie Plus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.