Om aan die kort ‘ent’ te trek

Deur Daniël Goosen

Argieffoto (Foto: Lindsey Parnaby/AFP)

Daar heers tans ’n groot debat oor die Covid-19-inenting. Vir sommige is dit die logiese ding om te doen, en ander weier volstrek. Die inenting word geweier op grond van keusevryheid, oor onsekerheid oor die newe-effekte, en hier en daar ’n Openbaring-georiënteerde vrees.

Alhoewel die regering se stadige pogings om Suid-Afrikaners in te ent daarop neerkom dat ek self eers bykans in my middeljare ingeënt gaan word, is ek meer as bereid om die inenting te kry. Nie noodwendig omdat ekself bang is vir die virus nie, maar eerder om my familie te beskerm. Daar is al die afgelope ruk genoeg begrafnisse gehou vir ’n leeftyd se treur.

Die skeptiese aard waarmee die inenting hanteer word, is egter iets waarmee ʼn mens diep kan simpatiseer. Die afgelope jaar en meer is nie net ons nie, maar die ganse wêreld in ’n toestand van totale onsekerheid gedompel. Dit kom voor, ongeag wat die lopende teorie is, of daar vanaf die begin vir ons oor die oorsprong van hierdie virus gelieg is. Hetsy dit nou vlermuissop, ’n ietermago of die mees waarskynlike, die Wuhan-laboratorium is, die narratief verander die heeltyd. In die proses verloor kundiges hul werke as hul dit net durf waag om iets anders as die hoofstroomstorie te uiter. Ons is egter ook onseker oor hoe ons hierdie verskriklike ding moet hanteer. Daar is mense wat meen dat inperkings geen effek op die verspreiding van die virus het nie, en dan is daar weer die kamp wat versuim om hul huise te verlaat vir ingeval ’n sonstraal hulle aansteek. Die ganse storie is absurd.

Ons weet egter deur ons praktiese ervaring dat inentings die mensdom van vele kwale bevry het. Deur mense in te ent, het ons in enkele generasies ernstige siektes die hok geslaan wat groot dele van die wêreld se lewenskwaliteit onherroeplik verander het. My pa het altyd vertel van die kinders wat polio gehad het toe hy nog ’n kind was. Dit is iets wat my generasie glad nie ken nie – om die waarheid te sê, ons weet nie eens hoe iemand lyk terwyl hy polio het nie. Dit is uiteraard ’n fantastiese ding dat die siekte bykans verdwyn het! Inentings van enige soort hou natuurlik steeds risiko’s in. Tog aanvaar ons dit onvoorwaardelik, want die risiko’s van die onderskeie siektes oorskry enige van die nadele verbonde aan die inenting. Hoekom sal dit nou anders wees as die Covid-inentings op dieselfde wyse ontwikkel is?

Kyk ons na die hoofbesware teen die inenting, kan ons ’n paar dinge daaroor sê …

Eerstens die argument rakende keusevryheid. Daar is baie mense wat die “my lyf, my keuse”-argument inspan en meen dat hulle nie geforseer gaan word om iets te vat wat hulle nie wil nie. Dis nie onredelik nie. Dit is egter glad nie die punt van die saak nie. Hierdie moderne obsessie met keusevryheid is ten diepste ’n gevaarlike ding. Dit veronderstel dat jy, die individu, ’n losstaande atoom is wat kan maak soos jy wil – so asof jy nie altyd en reeds deel van ’n gemeenskap is nie; ’n gemeenskap wat direk deur jou gedrag én jou keuses beïnvloed word.

Die kerkvader, Augustinus, het gemeen dat keusevryheid ’n laer vorm van vryheid is. Ware vryheid is om die “goeie” eerstens moontlik en dan moeiteloos te maak, aldus Augustinus. Ons moet hierdie kerkvader se wysheid nie vlak kyk nie. “My lyf, my keuse” – ja, maar jou lyf sit saans op die bank, saam met jou gesin se lywe. Jou lyf gaan saam met jou gemeenskap kerk toe, of staan by Spar in die tou. Die saak gaan nie bloot oor jouself nie, dit gaan oor iets veel belangriker as jou eie ek – en glo my, daar is baie goed belangriker as jou eie ek.

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Dan is daar natuurlik dié wat meen dat ons nie weet wat die langtermyn newe-effekte van die inenting is nie – basies ’n onsekerheid oor wat mense presies in hul lywe sit as hulle die inenting neem. Goed, op die oog af kan ʼn mens hierdie argument heeltemal verstaan, totdat jy besef dit is die 21ste eeu en ons leef soos ons leef. Bedoelende, die meeste van die goed wat ons koop, is só met chemiese stowwe en ongesonde middels oorlaai dat hierdie argument bykans nie sin maak nie. Van die Grandpa-pille wat ons met Coke afsluk, tot en met die twyfelagtige inhoud van ’n “beesvleis”-vulstasiepastei, kan ons maar verseker wees dat ons al klaar soveel goed in ons lywe sit waarvan ons nie werklik die effek verstaan nie. Dan praat ons nie eens oor al die newe-effekte van die plastiekverpakking van al ons kosse nie. Om nou op ’n perdjie te klim, te midde van ’n verdere inperking, en teen onbekende middels te probeer argumenteer, is ietwat komies. Tensy ʼn mens werklik net jou eie groente eet wat jy slegs met reënwater besproei, persoonlik by ’n boer vleis koop – wat regtig sy beeste in die veld laat wei en nie met steroïde inspuit nie – en natuurlik ook ’n Frieskoei in jou tuin aanhou, dink ek nie hierdie argument hou water nie.

’n Ander ding wat ons hoor, is natuurlik die idee dat hierdie inenting niks minder as die “merk van die dier” is nie. Daar is altyd, deur die eeue heen, ’n vrees dat die eindtyd naby is. Veral as daar wêreldwyd ’n krisis is. Bygesê natuurlik, die wêreld is werklik, ongeag die hele Covid-storie, in ’n diep krisis. Maak nie eintlik saak deur watter lens ʼn mens na die wêreld kyk nie, die prognose lyk nie baie goed nie. Nogtans moet ons vreeslik versigtig wees as dit by doemprofeet speel kom. Dit lei dikwels tot vlakke van histerie wat nie gesond is nie. Die probleem is egter dat ons hier van ’n inenting praat. Oppervlakkig beskou is dit nie veel meer as net dit nie. Die vraag is dus: Hoekom is hierdie spesifieke inenting, en nie byvoorbeeld ʼn polio-inenting nie, die merk van die dier? Wat maak hierdie inenting nou juis verskillend van die res? Die omstredenheid van die virus wêreldwyd maak ’n inenting nie meer of minder as net dit nie: ’n inenting.

Kan ons dus probeer, te midde van die onsekerheid en wantroue, om nie van ’n molshoop ’n berg te maak nie? Vir meer as ’n jaar is die wêreld met kwaad, hartseer, wanhoop, armoede, eensaamheid en depressie belaai. Geen inenting kan hierdie kwale in ’n oogwink omkeer of uitvee nie. Dit is egter ’n manier vorentoe. Dit is ’n manier om jouself en jou gesin teen die virus te staal en die greep wat ons regering, onder andere, op ons het, los te maak. Die trajek sonder die inenting gaan net nóg inperkings, nóg belaglike en neerhalende “familievergaderings”, nóg jare se gemaskerde bestaan en nóg bierlose naweke beteken. Daarvoor sien ek nie kans nie.

  • Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

JohanEtz ·

Een sin – ‘n Garage pie is nie oornag ontwikkel en versprei nie – behalwe sooibrand min newe effekte?
Covid-19 inspuiting is nie behoorlik deur al die navorsingsfases nie – dws ons word proefkonyne?

Human ·

Hoeveel onse is in jou pond? Jy is al lewenslank `n proefkonyn en nou begin dit jou pla. Praat van “pie in the sky”.

Leorika ·

Stem saam. Al die ander inentings bevat ‘n verswakte weergawe van die virus. Hierdie in-enting bevat geen covid19 virus nie, maar bevat ‘n produk wat jou immune stelsel ‘n instruksie gee om ‘n sekere protein te maak wat gaan help om die covid19 te bekamp. Keer dit alle nuwe variante? Nee!
Wat se mediese graad het Bill Hekke?
Enige regdenkende mens sal vra wat gebeur as hierdie “aanskakel” van die immune stelsel verkeerd loop. So, ek bly by my besluit. Hierdie is NIE die normale entstof soos bv die griep inspuiting nie. Ek is nie ant- inenting nie. Kry nog elke keer my griep spuit en was in die apartheid regime se kruip in die bos rond soldate sodat pik en graaf kan drink en ringkink.
Nee wat, hou verby met hierdie een.

piet ·

Die Corona-virus is al vir dekades met ons en word ook al vir dekades nagevors. Die metodes en biologiese prosesse van vervaardiging van hierdie vaksiene is ook nie uniek in vergelyking met die vervaardiging van ander entstowwe nie. Sover is meer as 3 BILJOEN “proefkonyne” baie gelukkig.

Antonio ·

Daniel Goosen. Ek dink jy is bietjie uit jou diepte uit met die saamgeflanste storie. Partykeer is dit beter om jou opinie vir jouself te hou en mense te l9s om hul eie keuse rondom iets soos hierdie te maak.

Human ·

Jy moet jou eie kommentaar oor opinies volg en jou diepte is op laagwater van springgety.

piet ·

Sy storie lyk meer gekonstrueerd as die klomp twak wat hier deur anti-vaxers opgedis word.

AfghanBull ·

Stadig maar seker doen Maroela Media ook sy “plig” om dié te oorreed wat nie die inenting wil neem nie. Hierdie artikel simpatiseer nou met daardie sulkes. ñ Nuwe benadering, dus. En die skrywer het ñ BA-Hons in Visuele Kultuurstudies, wat hom natuurlik ñ viroloog maak, net soveel soos wat ek een is.

My enigste vraag bly: as die inenting dan so effektief is, waaroor die bohaai oor dié wat dit nie wil neem nie? Dis dan mos nie asof die afvalliges enige gevaar vir die geënte publiek inhou nie, reg? Net soos wat ek nie een enkele persoon sal afraai om die eksperimentele entstof te neem nie, net so sal ek dit waardeer as daar nie so lawaai is oor die feit dat ek nie deel wil neem aan die eksperiment nie, maar eerder op my liggaam se natuurlike weerstand en vermoë om weerstand te bied wil staat maak. As die entstof regtig werk, hou ek geen gevaar vir enigiemand in nie.

Tensy daar twyfel bestaan oor die effektiwiteit van die entstof… Maar dan is ons almal “verkeerd”. Bummer!

Jedi Knight ·

Met my vel wat 52 jaar dik is, sit dit allermins in n joernalis se broek om my van enigiets te oorreed, hetsy inenting of enigiets anders. Ek het al covid gehad. Dit was in my geval soos n middelmatige verkoue. So ek gaan dus die inenting los. En nee, niemand gaan dit regkry om my op n “guilt trip” te sit nie. Daai dik vel van 52 somers onthou…..

Andrew ·

Ok kom ons doen n logika toets.

Ek kry die enting, mag sonder masker begin loop.

Hulle weet nie hoe lank die enting effektief is nie (te min navorsing data nog). Toe spin hulle die storie “People who are vaccinated and still contract COVID-19 are less likely to develop severe symptoms, be hospitalised, or die from it.”

Nou goed, as jy ge-ent is kan jy dit nog kry. Maar onthou jy mag sonder n masker loop , nou wat nou van ander weer aansteek ? So hoekom sal hulle mense iets maak doen(as jy sien wat amerika beplan met hulle mense door-door), as ge-ente mense dan in elk geval covid-19 nogsteeds kan kry en iemand anders nogsteeds kan aansteek. Dan is die keuse of jy n kans wil vat teen moontlik “sieker word” sereklik die individu se eie keuse (warning lables read).

Ek sien hulle begin sê jy moet n shot van 3 entings kry (en moet gewissel word met die ander pharmaceutical maatskappye se produkte)

piet ·

“Dan is die keuse of jy n kans wil vat teen moontlik “sieker word” sereklik die individu se eie keuse (warning lables read).” – En sodoende het jy ‘n groter kans om ernstig siek te word, in die hospitaal beland en plaas ‘n groter las op gesondheidsdienste. Dit gaan nie net oor JOU nie. Jy het ook ‘n groter kans om ander aan te steek as jy nie die shot gevat het nie dus is die risiko groter dat meer mense by jou werk aangesteek word, afgeboek moet word en so aan en so aan……

Alisia ·

So gehoop daar is een media platform wat hom nie sal uitlewer aan die inentings propoganda nie. Om dit ook “inenting” te noem is verkeerd, die n griep inspuiting, dit kan nie keer dat jy die virus kry nie.

Andrew ·

Ek het nie n honneurs graad nie, maar sit ook nie verniet met n grys baard nie.

Petrus ·

Hierdie inenting is juis nie “soos al die ander inentings” ontwikkel nie. Die ander entstowwe is ordentlik deur al die toetsfases om te verseker dat daar nie verskuilde langtermyngevolge is nie. Om nie-organies gekweekte groente te eet kan werklik nie vergelyk word daarmee om met ‘n eksperimentele mRNA vaksine ingespuit te word nie…

Barend ·

Die mRNA is nie ‘n entstof nie dit is mediese nano gereedskap wat DNA verander.

piet ·

Geen effek op jou DNA nie. Jy moet meer lees oor dit sodat jy kan verstaan hoe dit werk.

Rosie ·

Dis my liggaam. Niemand is baas oor my liggaam nie net my Hemelse Vader. Dis my liggaam. En nee ek soek nie die jab nie. Daars n verskil tussen die jab en die vaccines van vroeer jare. Ek wil nie rook nie of drink nie. So wil ek ook nie die jab hê nie. Dis my liggaam.

Fritz ·

Man jaaaaa……as ek elke liewe keer voordat ek iets doen, eers n analise moet doen hoe dit ander mense beïnvloed, gaan ek waarskynlik nooit iets gedoen kry nie. Is dit nie maar beter as elke ou sy eie “battles fight” nie?

Xena ·

UITERS teleurgesteld in Maroela media wat ‘n berig plaas van ‘n totaal oningeligte skrywer. Doen tog asseblief eers behoorlike navorsing en kry jou feite agtermekaar voor jy jou eie kommentaar op so ‘n sosiale platvorm uitspreek.
Swak Maroela, SWAK!

Xena ·

UITERS teleurgesteld in Maroela Media dat hul ‘n artilkel plaas wat só swak nagevors is. Kry asseblief jul feite reg, doen navorsing voordat jul iets plaas.
Swak Maroela, SWAK!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.