Om te transformeer of nie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GovernmentZA/Twitter)

Onder normale omstandighede beteken die woord “transformasie” dat iets omgeskakel of verander word na iets beter.

Geen regdenkende mens sal tog iets wat funksioneer na iets wat swakker resultate lewer omskakel nie. Volgens die HAT is transformasie ʼn gedaanteverandering. Dit kan ook beskryf word as ʼn omskepping, omskakeling of verandering.

Die onteieningswet is sopas deur die parlement aanvaar. President Ramaphosa moet dit net onderteken en sodra dit gepromulgeer is in die staatskoerant, is dit wet.

Met ʼn onteieningswet opsigself is daar nie fout te vind nie. Enige land behoort dit te hê ten einde die nodige grond te kan bekom indien infrastruktuur, soos damme of treinspore, gebou moet word. Vir sulke grond behoort daar vergoeding teen ten minste markwaarde betaal te word.

In die geval van Suid-Afrika se nuwe onteieningswet is daar egter ʼn probleem wat kop uitsteek, naamlik onteiening sonder vergoeding.

Uiteraard het verskeie verantwoordelike kenners in Suid-Afrika hul sterk teen die beginsel van onteiening sonder vergoeding uitgespreek. Dit is net logies dat regdenkende mense twee keer sal dink alvorens hul ongekwalifiseerd kapitaal in ʼn land waar die regering hulself dit aanmatig om bates te vat sonder om daarvoor te betaal, sal belê.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argieffoto)

Die realiteit van die ANC se werkswyse is dat die party se voortbestaan belangriker as die land se welstand geag word. Die besluite wat hulle tydens hul konferensie neem moet ten alle koste uitgevoer word. Faksiegevegte binne hul geledere het in Desember 2017 gelei tot die besluit ten gunste van onteiening sonder vergoeding op voorwaarde dat dit nie die ekonomie mag skaad nie. Laasgenoemde deel van die besluit het egter sedertdien langs die pad gesneuwel.

Mnr. Ramaphosa het ook onomwonde verklaar dat diegene wat teen onteiening sonder vergoeding is, ook teen transformasie is.

Wat is dus die ANC se definisie van transformasie?

Na die 1994-verkiesing het die ANC ʼn hele reeks werkende instellings, wat elk op hul gebied bygedra het tot die effektiewe werking van die land, oorgeneem. Sommige het dalk net buitelandse valuta verdien, ander het regstreeks gehelp om die samelewing doeltreffend te laat funksioneer. Ons dink aan organisasies soos Denel, SAL, die spoorweë, Eskom, die poskantoor. Die lys gaan aan en aan.

Almal ken die name van die instellings wat eens ons land se trots was, maar vandag tot stilstand gestotter het. Wat het gebeur?

Al die redes kan na een aspek teruggevoer word – hulle is almal getransformeer deur die ANC se beleid van SEB, kaderontplooiing en natuurlik korrupsie.

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Mnr. Ramaphosa, daar is geen toekoms in jou transformasie-agenda nie. Wil die ANC seker maak dat niks in ons land doeltreffend funksioneer nie? Gaan jy Suid-Afrikaners en hul nageslag ʼn welvarende toekoms ontsê?

Die lewe skuld niemand iets nie. Die regte wat almal hulself deurentyd aanmatig moet eerder omgeskakel word na ʼn ingesteldheid om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat die lewe vereis.

Die regering behoort te begin deur te fokus op die twee verantwoordelikhede van ʼn demokratiese regering, naamlik om die veiligheid van inwoners te verseker en om ʼn klimaat te skep waarbinne rolspelers graag wil belê en besigheid doen.

Die ANC moet kennis neem dat internasionale beleggings reeds 36% minder is as die vorige jaar. Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die ANC se beleid en die wyse waarop hulle regeer nie die nodige vertroue inboesem nie. Onteiening sonder vergoeding is gewis een van die hoofredes hoekom die beleggings opdroog.

Daar kan net spandeer word indien daar geld is om uit te gee. Die tekens van ʼn leë fiskus raak by die dag net groter. Die enigste bewese oplossing is om ekonomiese groei te bewerkstellig. Dit kan net verkry word indien daar winsgewende besighede is wat belasting betaal.

Te danke aan die ANC se manier van transformasie, het Suid-Afrika reeds ver op die pad na mislukking gevorder. Elke jongmens se toekoms word gesteel, want voldoende suksesvolle besighede wat broodnodige werksgeleenthede skep, bly ʼn mite.

Bennie van Zyl (Foto: TLU SA)

Dit is tyd om te kies om ʼn toekoms te bou op daardie beginsels wat wêreldwyd welvaart skep, naamlik die instandhouding van privaatbesitreg waar daar binne ʼn markgerigte ekonomiese bestel ʼn gunstige omgewing geskep word sodat entrepreneurs met so min as moontlik hindernisse onbevange besigheid kan doen. Voeg daarby ʼn hoë gehalte onderrigstelsel en dalk kan ons dan tog vir jongmense realistiese hoop en geleenthede gee. Hierdie aspekte is verantwoordelike transformasie en behoort enige beleidsbesluit daarteen gemeet te word oor wat die impak daarvan op ekonomiese groei gaan wees.

Elke mens is daagliks besig om te bou aan hul eie nalatenskap. Dit kan skeppend of afbrekend wees. Die geskiedenis sal elkeen baie fel oordeel vir wat vermag is. As rentmeesters van ons grond besef boere dat ons die grond inderdaad slegs leen by ons nageslag. Dit bring ʼn unieke verantwoordelikheid na vore waar ons daagliks ons kultuuropdrag uitleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die hele konsep van die veranderinge in 1994 berus om die aanname van liberales dat alle mense dieselfde is en gelykheid die allerantwoord op geluk en vrede is… ‘n soort Babel wat die Skepper afskiet vroeg in Genesis in die Bybel. Die outeur bou daarop voort deur te glo en voor te stel ons moet net ietsies hier en daar wysig en dan is Babel en sy drome bereikbaar en dan sal plase van boere gekoop word en diegene elk ‘n weelderige huisie by die see kan bekostig… en dat daar begrip sal wees vir dié wat nie wil verkoop nie omdat hul produkte noodsaaklik is vir menslike voortbestaan. Die Paradys was glo destyds in Afrika en nou moet ons te weer terugkeer na daai weë dan loop alles weer klopdisselboom. Net, hoekom is ons toe uitgejaag.

Goldy ·

Transformasiekaart is klaargespeel, slim mense sal nie weer vir die nonsense val nie. Dis net jammer die massas besef dit eers te laat, moeilike tye lê vir VSA en Europa. Die oosterse lande is slim om sogenaamde transformasie vêr wag te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.