Omvattende seksvoorligting – waar staan ons?

Deur adv. Nadene Badenhorst

(Argieffoto)

Omstredenheid duur voort rondom die departement van basiese onderwys se voorgestelde omvattende seksualiteitsonderrig (ook bekend as Comprehensive Sexuality Education of CSE), in alle openbare skole in Suid-Afrika.

Alhoewel seksvoorligting reeds ’n geruime tyd deel is van die lewensvaardighedemodules (laerskool) en lewensoriënteringmodules (hoërskool), is dit die departement se voorgestelde uitgeskrewe lesplanne (ook bekend as Scripted Lesson Plans of SLPs) vir CSE wat die land aan die gons het.

Die voorgestelde lesplanne (bestaande uit handleidings vir onderwysers en werkboeke vir leerders) het aan die lig gekom nadat die departement dit – op versoek van ’n lid van die parlement – aan die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys beskikbaar gestel het, en Freedom of Religion of South Africa (FOR SA) dit daarna op hul webwerf bekendgemaak het.

Terwyl die uitgeskrewe lesplanne heelwat goeie inhoud bevat, is daar ook omstrede inhoud waarmee ouers en onderwysers ongemaklik is. So, byvoorbeeld, maak die uitgeskrewe lesplanne vir gr. 7’s die stelling dat masturbasie normaal is en jou “nie sal seermaak nie”. Alhoewel die departement moontlik ’n argument kan uitmaak waarom 13-jarige leerders moet weet wat masturbasie is (met ander woorde om die feite mee te deel), is daar egter ’n sterk argument uit te maak dat die departement nie verder behoort te gaan nie en aan leerders voor te sê watter seksuele gedrag normaal is of nie en op watter ouderdom – dus om ʼn waarde-oordeel te maak.

Dit is juis waardebelaaide stellings soos hierdie wat aanleiding gegee het tot verskeie inisiatiewe, veral op voetsoolvlak, om ouers in te lig en hulle tot aksie op te roep teen CSE. ’n Voorbeeld is die #LeaveOurKidsAlone-veldtog wat einde verlede jaar op sosiale media begin is. Daar word tans ʼn nasionale protesaksie vir 13 Februarie (die dag waarop die parlement open) teen die CSE georganiseer.

Die uitgeskrewe lesplanne word tans in 1 500 openbare skole in vyf provinsies (naamlik Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap) op die proef gestel, waarna die departement hoop om dit in alle openbare skole in die land uit te rol. (Ten spyte van verskeie versoeke, het die departement tot nou toe nog nie ’n lys beskikbaar gestel van die spesifieke skole wat tans deel van die loodsprojek vorm nie.)

Vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers

Op uitnodiging van die departement het godsdienstige en tradisionele leiers op Donderdag 23 Januarie 2020 met die departement vergader om voortslepende vrae en bekommernisse aangaande CSE te bespreek.

Die vergadering is ook bygewoon deur ’n groot aantal jongmense en verteenwoordigers van niewinsgewende organisasies wat geen geheim van hul dawerende ondersteuning aan die departement (en skerp kritiek op die geloofsgemeenskap) gemaak het nie. Dit, ten spyte daarvan dat die departement se uitnodiging na die vergadering spesifiek aan godsdienstige en tradisionele leiers gerig was en dat verskeie van hulle deur die departement weggewys was omdat hulle kwansuis nie geakkommodeer kon word nie.

Die vergadering het op ’n slegte noot begin met die departement se adjunkdirekteur-generaal, dr. Granville Whittle, wat die godsdienstige leiers daarvan beskuldig het dat hulle vals nuus en homofobie versprei en nie die inhoud van die kurrikulum gelees het nie. Ongelukkig was dit gou duidelik dat die vergadering nie ’n platform sou wees vir konstruktiewe dialoog met die oog daarop om ’n middeweg, wat die departement en die (menigte bekommerde lede van die) publiek en die godsdienstige gemeenskap tevrede sou stel, te vind nie.

By hierdie vergadering, het die departement dit baie duidelik gemaak dat, sodra die proeftydperk voltooi is, uitgeskrewe lesplanne in alle openbare skole – vanaf gr. R tot gr. 12 – geïmplementeer sal word.

Volgens dr. Whittle sál die uitgeskrewe lesplanne verpligtend wees en is daar geen opsie vir ouers wat nie met die inhoud van die lesplanne saamstem nie, om hul kinders van daardie lesse te onttrek nie. (Vir meer oor die departement se vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers, kyk hier.)

Vergadering met skoolbeheerliggaam-verenigings en onderwysvakbonde

Die volgende dag, Vrydag 24 Januarie 2020, het dieselfde departement met skoolbeheerliggaam-verenigings en onderwysvakbonde (soos, onder meer, Fedsas, Naptosa en SAOU) vergader. Verskeie van dié verenigings en vakbonde het reeds hul verbasing en kommer uitgespreek dat die departement nooit CSE met hulle bespreek het nie, ten spyte daarvan dat die Nasionale Raadplegende Forum (NRF) – wat juis daargestel is as ’n forum waar hierdie tipe kwessies bespreek en insae verkry word – elke kwartaal vergader.

By die Vrydagvergadering het die departement weer eens verduidelik dat die kurrikulum nie verander nie – die CAPS-kurrikulum, waarvan lewensvaardighede en lewensoriëntering verpligtende modules is, bly onveranderd vir alle openbare skole. In teenstelling met wat die departement egter die vorige dag gesê het, het hy by hierdie vergadering gesê dat die uitgeskrewe lesplanne nie verpligtend sal wees nie en dat skole (en by implikasie, onderwysers) vry sal wees om self te kies watter bronne of materiaal hulle wil gebruik om seksualiteitsvoorligting aan te bied.

Dié posisie strook met artikel 6A van die Skolewet, wat die minister van basiese onderwys die mag gee om die minimum uitkomste te bepaal (soos uiteengesit in die Nasionale Kurrikulumverklaring), maar nié die mag om die bronne wat skole of onderwysers moet gebruik om hierdie minimum uitkomste te bereik, te bepaal nie. Dit strook ook met die departement se eie beleidsdokumente en sluit die Witskrif op Onderwys en Opleiding in, wat bevestig dat ouers die primêre opvoeders van hul kinders is, met die reg om gekonsulteer te word en om hul kinders volgens hul waardes en volgens wat hulle (as ouers) glo in die beste belang van hul kinders is, te laat onderrig.

Die departement se posisie, soos uiteengesit by die Vrydagvergadering, bevestig en konsolideer die posisie waarvoor FOR SA van meet af aan gepropageer het – dat die regte van ouers en onderwysers (soos respektiewelik uitgeoefen deur skoolbeheerliggame en onderwysvakbonde) gerespekteer en beskerm moet word en dat die status quo gehandhaaf moet word.

Wat egter steeds onbeantwoord bly, is of ouers wat nietemin gewetensbesware het of nie gemaklik is om hulle kinders aan (sekere komponente van) CSE bloot te stel nie, die reg sal hê om hul kinders van daardie klasse te onttrek.

Geleentheid vir kommentaar op die uitgeskrewe lesplanne

Tydens die Vrydagvergadering met skoolbeheerliggaamverenigings en onderwysvakbonde het die departement ingestem om die uitgeskrewe lesplanne (hier beskikbaar op die departement se webtuiste) vir kommentaar oop te stel tot Vrydag 28 Februarie 2020. Kommentaar kan gestuur word aan dr. Whittle by [email protected] en [email protected].

FOR SA moedig inderdaad ouers, onderwysers en ander belanghebbendes aan om die geleentheid aan te gryp om kommentaar op die lesplanne te lewer, spesifiek ook om seker te maak dat hul regte (as ouers) beskerm bly – om nié hul kinders aan waardebelaaide inhoud waarmee hulle nie saamstem nie of ongemaklik mee is, bloot te stel nie en (in die geval van onderwysers) om sodanige materiaal aan te bied nie.

Terwyl sommige ouers en onderwysers geen probleem met die leermateriaal mag hê nie, bly die beginsel dat die staat ouerlike keuse – veral met betrekking tot sensitiewe, waardebelaaide kwessies soos seksualiteitsvoorligting – moet respekteer en in ag neem.

  • Adv. Nadene Badenhorst is Freedom of Religion South Africa (FOR SA) se regsverteenwoordiger. 

Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ann ·

Ghuh. Gelukkig laat ons dorp se skool dit nie toe nie. Dankie daarvoor!!

Wessel ·

Jy kan nooit die Staat vertrou om Christelike waardes toe te pas, as die Staat self, God uit die Grondwet gehaal het nie.

Leon ·

Dit kan slapende honde wakke rmaak. Kinders wat onskuldig is en moet bly gaan nou ‘n nuwe ding ontdek en dit kan dalk tot ander dinge ly. Ek dink die outjies in graad 11 en 12 moet ‘n bietjie meer weet soos die departement dit wil voor hou. Daar is ‘n verkorting wat die sosiale media gebruik, TMI, Too Much Information. Nou hierdie is TMI. Miskien wil die departement meer seks hê. Dr Oz van dei TV sê mos jy moet baie seks hê em met soveel mense as wat jy kan en so vroeg as wat jy kan. Iemand by die departement het dalk na Dr Oz gekyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.