Onderwys is almal se verantwoordelikheid

skool-vakkeuses-loopbaan

Foto: YeriLee/Pixabay.com

Sedert 1994 het dit ʼn jaarlikse tradisie geword dat, wanneer die matriekuitslae aangekondig word, dit met groot fanfare geskied tydens ʼn mediakonferensie, waar die minister van basiese onderwys die hoof-ster is. Gevatte grappies word gemaak en die meeste van die tyd styg die slaagsyfer ook sommer met ʼn paar persentasiepunte. Oor die aanpas van punte, leerders wat druip, maar van graad tot graad aangeskuif word, ander wat maande op handboeke moes wag en veral die land se posisie onderaan internasionale ranglyste wat basiese geletterdheid meet, word gewoonlik min gesê.

AfriForum het deur die jare ʼn parallelle tradisie ontwikkel, naamlik om nie na die wonderlike slaagsyfer van die departement te kyk nie, maar na hoeveel leerders twaalf jaar tevore vir graad 1 ingeskryf het. Die skokkende resultaat, wanneer ʼn mens die twee syfers vergelyk, is dat ons telkens vind sowat ʼn derde van die kinders het nie binne hierdie tydperk matriek geskryf en geslaag nie. Met ander woorde, óf hulle is nog iewers in ʼn voorafgaande graad, óf hulle gaan nie meer skool nie.

Die aantal kinders wat uit die stelsel verdwyn (of moet ek sê, wat deur die stelsel in die steek gelaat word) bewys waarom ons land volgens die jongste statistiek met ʼn jeugwerkloosheidsyfer van 47,6% te kampe het.

Na afloop van die eerste twee weke van 2017 se skooljaar, het ek egter met ʼn skok besef ons syfers is ook nie korrek nie – die prentjie lyk dalk selfs nog donkerder. Dit het naamlik duidelik geword daar is jaarliks ʼn groot groep kinders wat probeer registreer om skool by te woon, maar nêrens geakkommodeer kan word nie. Iewers is daar dus ʼn groeiende groep kinders wat nooit eens graad 1 haal nie!  Watter kans het ʼn totaal ongeletterde persoon om ʼn sinvolle, volhoubare loopbaan te beoefen?

Soms duik vrae op oor die departement van statistiek se syfers en berekeninge, maar oor die algemeen word die resultate van StatsSA se nasionale en tussentydse sensusse as redelik betroubaar beskou. Verder is daar vele geloofwaardige navorsingsinstellings in die land wat tendense soos verstedeliking, migrasiepatrone en die groei van ouderdomsgroepe akkuraat kan bereken. Hoe op aarde is dit dan moontlik dat die departement nie kan weet vir hoeveel kinders daar per provinsie of selfs distrik voorsiening gemaak moet word nie?  Selfs al sou ouers hul kinders laat by skole gaan registreer, moet dié basiese soort berekeninge moontlik wees.

Die onderwysdepartement kry tans ook een van die grootste begrotings vir onderwys ter wêreld. Dit is een van die departemente wat jaarliks die grootste persentasie van die Suid-Afrikaanse begroting ontvang, dus is ʼn gebrek aan geld ook nie die verskoning nie. Daar is ʼn nypende tekort aan onderwysers, maar AfriForum word gereeld deur jongmense gekontak wat afstudeer en brand om te gaan skoolhou, maar nie poste kry nie, met ander woorde ook hier speel totale onbekwaamheid aan die owerhede se kant ʼn rol.

In Gauteng het die LUR, Panyaza Lesufi, ʼn ou beproefde oplossing vir die probleem: “Speel die raskaart.” Die naweek het dit bekend geword 20 000 kinders in die provinsie wag tans nog om plek in ʼn skool te kry. Die LUR het egter die afgelope twee weke meer as twee volle dae spandeer aan die intimidasie van twee Afrikaanse skole in die noorde van Pretoria om minder as 40 kinders, wat Engelse onderrig verlang, te plaas. Teen hierdie spoed, as hy naweke ook werk, sal die LUR vyfhonderd dae nodig hê om al die kinders iewers in te forseer. In die proses word Afrikaanssprekendes beskuldig van eksklusiwiteit, al word Engelse klasgroepe reeds geakkommodeer en word gemeenskappe al hoe meer gepolariseer. Oor minder funksionele skole in die omgewing, waar ouers nie hul kinders wil plaas nie en die skade wat hierdie soort ystervuis-benadering aan basiese onderwyspraktyke wat hoë gehalte onderrig waarborg, soos moedertaalonderrig en klein klasgroepe, aanrig, word geen woord gespreek nie.

Volgens die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas) is 8,8% van die land se skole in Gauteng geleë, maar 16,8% van Suid-Afrika se leerders gaan in dié provinsie skool. Groot gewag word gemaak van 7 of 8 skole wat die departement in 2017 in Gauteng wil bou, maar daar is ʼn behoefte aan etlike honderde skole, as die syfer van 20 000 skoollose kinders in gedagte gehou word.  Dit is basiese wiskunde, wat niks met taal of ras te make het nie, net met deeglike beplanning.

Helaas is kinders bloot ʼn politieke speelbal in die hande van die departement. As hulle in die proses van skoolplasings en immer stygende matriekslaagsyfers skade ly, is dit van minder belang as die bevordering van die ANC se ideologie.

Sonder om pessimisties te wees, of voor te gee ek is ʼn siener, voorsien ek nie dat die toestand in die volgende paar jaar dramaties gaan verbeter nie.

Watter oplossings is daar dan?

Die Solidariteit Beweging het die krisis in die onderwysstelsel al in 2016 deeglik ontleed en met praktiese voorstelle vorendag gekom om bekommerde ouers en skoolgemeenskappe by te staan.  Die inligting is gratis tot enigeen se beskikking by www.onderwysberaad.co.za. Al die lede van die Beweging werk ook deurlopend aan navorsing om die inligting in 2017 verder aan te vul en almal wat deur die probleme geraak word, verder te bemagtig.

AfriForum is gereed om skole in samewerking met betroubare organisasies, soos Fedsas, by te staan wanneer die departement, organisasies of individue hulle probeer intimideer om teen die belange van hul skoolgemeenskap op te tree. Dit sluit regsaksie teen verengelsing en die hofsaak vir die behoud van godsdiensbeoefening in skole in. Laasgenoemde word van 15 tot 17 Mei 2017 in die Suid-Gauteng hooggeregshof aangehoor.

Ouers en skole met probleme kan gerus ook AfriForum se eenstop-onderwysblad besoek, waar kontakbesonderhede van kenners op verskillende onderwysterreine beskikbaar is, of om ons direk om hulp of advies te nader.

Ten slotte, gesonde ouerbetrokkenheid is van onskatbare waarde om te verseker hul kinders ontvang onderrig van hoë gehalte. Die beste geskenk wat jy aan jou kind kan gee, is om saam met die skool teen politieke aanslae en ter bevordering van beste onderwyspraktyke standpunt in te neem. Die groter gemeenskap om skole moet ook saamwerk, want met die jeug het ons net een kans om dinge reg te doen. Die tyd stap meedoënloos aan en ongeletterde jongmense is nie net vir hulself nie, maar vir die land as geheel, ʼn groot struikelblok. Ons almal se toekoms hang letterlik van elke kind se onderwyssukses af.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Oupa Vlakvark ·

Ouers van skoolgaande leerlinge is die KLIëNTE van die Nasionale Departement van Skoolonderwys.

So, wat en wanneer gaan die KLIëNTE GESAMENTLIK doen om TE VERSEKER dat hul kinders skoolonderwys by uitnemendheid gaan kry? DIT is die vraag wat spoedig beantwoord moet word!

Vere ·

Ek voel vere vir mense wie nie hulle kinders skooltoe stuur of wie se kinders nie klaarmaak met skool nie. In my tyd was dit verpligtend dat jou kind moes skooltoe gaan as hy ‘n sekere ouderdom bereik het. Die demografiese meerderheid se skoolgelde is minder as ‘n kwart van die minderheidsgroepe se skoolgelde, selfs in staatskole. Daar is geleer liberation before education . so ongelukkig voel ‘n klomp nog dat hulle nie vry is nie, en wil daarom eers VRY wees voordat hulle kan leer. Verder brand hulle steeds skole af soos in die apartheidsera. Die minderheidsgroepe sal altyd ‘n manier vind om hulle kinders te laat leer en opvoed al is dit tuisonderrig .. vir die ander . ek voel NIKS, ek voel soveel soos die regering vir MY voel! VERE!!

Alana ·

Hallo Vere, ongeletterdes is almal se probleem. Ongeletterde werklose mense word die prooi van populiste want hulle het niks om te verloor nie en hulle weet te min om deur opswepers se wolhaarstories te sien. Hulle raak verder ook dikwels by misdaad betrokke. Van hulle kry kinders om toegang tot staatstoelae te kry, wat belastingbetalers soos jy en ek betaal. Dit het tot gevolg dat die land nader aan ‘n fiskale afgrond beweeg – gaan lees gerus prof. Jannie Rossouw se artikels oor die onderwerp. Die ongeskooldes se syfers en werkloosheidspersentasies skrik buitelandse en binnelandse beleggers af. Op Moneyweb is daar juis vandag ‘n artikel oor hoe beleggings tans uit die land stroom. Dis maar enkele voorbeelde waarom dit maklik is om te argumenteer “ons sorg vir ons kinders en sterkte vir die res”, maar waarom jou en jou kinders se fisiese en ekonomiese veiligheid, plus jou vermoe [jammer vir die spelling van vermoe, die deelteken wil nie werk nie] om hulle te onderrig, direk deur die ongeletterdes en nie-skoolgaandes geraak word.

Andries ·

Sommige ouers neem die verantwoordelikheid vir hulle kinders so opleiding in hul eie hande en begin met tuisonderrig. Is dit deel van AfriForum se uitval statistieke? Maak asb seker dat julle dit korrek in julle model inagneem.

Alana ·

Hallo Andries, almal wat in Suid-Afrika onderrig kry, word in die syfers van skoolgaande leerlinge ingesluit, met ander woorde kinders in erkende openbare skole, tuisskole en privaatskole almal saam. Hulle word nie een onder die uitvalsyfer getel nie. Die uitvalsyfer waarna ek verwys, gaan oor mense wat nooit enige skoolkwalifikasie gelykstaande aan matriek behaal nie.

J ·

Daar is n nuwe skool met tydelike klasse gebou om leerders in 2017 in Montana Pretoria te akkomodeer. Suprise engels se ouers wil nie die skool ondersteun nie. Montana en Overkruin moet hulle huisves.

J ·

Wat word van nuwe skool in Montana wat gebou om leerderd te huisves in 2017? wat nou leeg staan?

Alana ·

Presies – as ouers nie hulle kinders daar wil plaas nie, is die taak van ‘n verantwoordelike onderwysdepartement om ondersoek in te stel waarom, en as daar probleme of persepsies is, dit reg te stel sodat die skool kan volkom. Dis juis AfriForum se argument, die LUR stel meer belang in ideologiese vertoon om funksionele uitnemende Afrikaanse skole soos Montana en Overkruin “te wys wie is baas” as om probleme op te los ten beswil van alle kinders. Dis ‘n skande.

Disselboom ·

Dis goed om oor onderwys te praat en te berig. Solidariteit/ Afriforum ens se bydrae word ongelukkig oorskat. Die skakel na die “onderwysberaad” lewer wel ‘n dokument oor fondsbestuur vir skole, maar weinig anders. Ons kan die staat baie kritiseer vir gebrek aan aksie en doen in die onderwys, maar benewens ‘n opposisierol om (noodsaaklike) kritiek te lewer, is Solidariteit en kie nie so aktief in die onderwys as wat voorgegee word nie.

Alana ·

Hallo Disselboom, die onderwysberaadblad is vir strategiese inligting. Instellings soos AfriForum, Helpende Hand en die FAK is baie betrokke by vele skoleprojekte – die inligting daaroor verskyn op ons onderskeie webblaaie en ander sosiale media. Ons glo daaraan om nie net te kla oor wat verkeerd is nie, maar ook aktief aan oplossings te werk.

Leonard van der Dussen ·

Hallo Alana. Bou ‘n vrye, onafhanklike skool. Om binne die staatsonderwys te bly reaktief optree en pleisters opplak, het hier en daar ‘n korttermynuitwerking, maar is nie “strategie” nie.

Disselboom ·

Weet nie of dit Solidariteit se rol is om skole te bou nie, maar dit bly staan dat die aansprake op betrokkenheid maar dunnerig is, en veral die Onderwysberaad maar meer lawaai is wol is.

Onduidelik ·

Het hierdie organisasies in ag geneem hoeveel leerders einde gr. 9 skool verlaat? Dit maak hulle nie ongeletterd nie, hulle kan steeds lees, skryf en basies wiskunde doen. Meeste van hierdie leerders gaan doen ‘n proffesionele kursus waarvoor hulle nie matriek hoef te voltooi nie.

Neem hulle ook die leerders in ag wat verhuis het na ander lande?
Wat van díe wat oor die 12 jaar, tussen hul gr.1 inskrywing en matriek-eksamen inskrywing, oorlede is? Is hulle buite berekening gelaat?
Of wil ons net alles inreken en die syfers so hoog as moontlik hou sodat ons mekaar kan skok?

Ja die onderwysstelsel is in ‘n groot krisis gedompel, maar doen eers behoorlik navorsing oor die aantal leerders wat nog in tel is in ons land, voordat daar net uitlatings gemaak word.

Alana ·

Hallo Onduidelik, hierdie artikel se doel is baie beslis nie om iemand te skok en te oordryf met syfers nie, al is die uitval van ‘n halfmiljoen kinders per jaar genoeg om enigeen te skok. Daar is diegene wat emigreer, wat druip en weer inskryf, wat sterf of te siek is om matriek te skryf, maar ons praat steeds van ‘n halfmiljoen. Matrieks sukkel om werk te kry – vir die kind wat nie eers matriek het nie, is dit nog net soveel moeiliker, al het hy of sy grad nege en een of ander ander kwalifikasie. Die argument bly dat die onderwysdepartement ons jeug in die steek laat en dat dit ons almal as belastingbetalende burgers se plig is om hulle hiervoor verantwoordbaar te hou, soos Oupa Vlakvark bo tereg skryf. En soos verskeie bo ook noem, dat ons niks as vanselfsprekend aanvaar nie, maar self ook verantwoordelikheid aanvaar vir ons kinders se onderrig, byvoorbeeld deur hulle met skoolwerk en aanvullende onderrig te help, deur betrokkenheid by ‘n skool, of tuisonderrig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.